Subscribe by Email

Verkiesing en standaarde

Partye en individue spandeer heelwat geld om kiesers so ver te kry om hul kruisies agter hul name te trek.
Wanneer daar dan ongerymdhede plaasvind, hoe gering ook al, laat dit ‘n wrang smaak.
Vroeg vanoggend, op die TV-uitsending, kon gesien word hoe die OVK in Kayelitsha kiesers wat opgedaag het na die hekke met sluitingstyd gesluit het, na ‘n ruk inlaat om te kom stem. By ander stembusse het laatkommers, sommiges met baie goeie redes, bitterlik gekla oor hulle nie toegelaat is om te gaan stem nie.
Baie ander klagtes wat nog ondersoek word, is geopper. Die Wes-Kaapse hoofverkiesingsbeampte se opmerking dat partye oor beuselagtighede klagtes gelê het, en dat dit die proses om klagtes te ondersoek, vertraag het, laat ‘n wrang smaak in die mond veral aangesien hy sy ontevredenheid oor dié klagtes duidelik gemaak het.
In ‘n rugbywedstryd roer die telbord nie wanneer ‘n skop amper oor was nie, of ‘n speler amper ‘n drie gedruk het nie. En dis ‘n sport, waar sportmanskap selfs in die professionele era nog behoort te geld. Die indruk mag nooit gewek word dat dit goed genoeg is dat ‘n finale verkiesingsuitslag bloot min of meer die keuses van die kiesers weerspieël nie – dat die storie van elke stem wat tel, eintlik ‘n mite is nie.
Later vanjaar hou Suid-Afrikaners weer sensus. Met die vorige, tien jaar gelede, was daar nie alleen ‘n foutfaktor van sowat 16 % nie, die Ouditeur-generaal het die bedryf daarvan ook afgekeur. Min lande in die wêreld sal ‘n sensus wat meer as 4 % van die kol af is as ‘n sukses beskou. Met ‘n algemene verkiesing in Suid-Afrika sou ‘n een persent foutfaktor beteken vier LP’s verteenwoordig ‘n verkeerde party of partye.
En indien ‘n foutfaktor toelaatbaar is, presies hoe groot mag dit wees voor die verkiesings se status as vry en regverdig in die gedrang kom?
Almal sal geredelik toegee dat dit onmoontlik is om met so ‘n groot operasie nie iewers foute te maak nie. Wanneer dit heeltemal onnodige foute is, soos om sommige laatkommers te laat stem en ander nie, laat dit ‘n wrang smaak.
‘n Interessante aspek wat in die besprekings gisteraand na vore gekom het, is die vraag in hoe ‘n mate die media bygedra het tot die uitkristaliserende tweepartyverskynsel. Wat dit betref het kleiner partye blykbaar met teelepels die sand van die sandstorm probeer terugwerk.
Dit val saam met die bekendmaking van die nuus dat die Wêreldtelekommunikasie en –inligtingsgemeenskap bevind het dat radio in Suid-Afrika nou ‘n groter nuusbron vir mense is as die koerante. Tradisioneel het die koerante subjektief meer gesag by die nuusontvangers gehad omdat die radio te veel met vermaak geassosieer word. Sou dié studie water hou, sal dit ‘n ingrypende implikasie hê. Die blote feit van die medium se geloofwaardigheid is dikwels vir die adverteerders die wortel voor die neus wanneer op hul advertensies se mediamengsel besluit. Koerante, veral dié wat afskaal op gehalte-aktualiteitsartikels, moet egter ook met beperkte plasingsruimte leservoorkeure in gedagte hou wanneer gekies moet word tussen dié soort items en suiwer vermaak.
Om dan nog boonop die persepsie te skep dat dit eie voorkeure op lesers probeer opdwing – hoe subtiel ook al – is gevaarlik.
Intussen word meer en meer uitslae ontvang, wat vroeëre bevindings bevestig – dat die ANC klaarblyklik ‘n effense hou weg maar nie soveel soos die omstandighede bepaal het dit moes wees nie, die DA vorder in veral sekere dele, en Cope, en selfs die IVP se blus is nie so uit soos wat vooraf vermoed is nie.