Subscribe by Email

Verbruikersbeskermingswet – hof gee minister tot 27 Januarie

Die minister van handel en nywerheid, dr Rob Davies, is vandag deur Regter Mavundla in die Noord-Gautengse hooggeregshof beveel om nie later nie as 27 Januarie 2012 alle rekords van die verrigtinge wat gelei het tot sy besluit om sekere munisipaliteite van die Verbruikersbeskermingswet vry te stel, aan AfriForum beskikbaar te stel.

Dit volg nadat AfriForum verlede jaar ʼn hofaansoek gebring het teen ʼn kennisgewing wat die inwerkingtreding van die Verbruikersbeskermingswet ten opsigte van sogenaamde lae- en mediumkapasiteit-munisipaliteite onbepaald uitgestel het.

Dit het verlede week weereens in ʼn verslag van die Nasionale Tesourie aan die lig gekom dat meer as 40% van die land se 283 munisipaliteite disfunksioneel is. In ʼn verdere verwikkeling het 10 000 stadsraadlede van die ANC geëis dat hulle eiendom verseker moet word teen skade wat tydens diensleweringsbetogings aangerig word.

AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het gesê dat juis die feit dat die regering munisipaliteite teen landswette beskerm, veroorsaak dat gemeenskappe in opstand kom. “AfriForum wil graag sien dat munisipaliteite net soos enige ander sakeondernemings aan die streng vereistes van die Verbruikersbeskermingswet onderwerp word,” het hy bygevoeg.