Subscribe by Email

Verbod op gebed in Amerikaanse skole na 50 jaar weer onder loep

Vyftig jaar na die Amerikaanse Supreme Court gebed in Amerikaanse staatskole verbied het, word ‘n veldtog steeds gevoer om minstens skoolbeheerrade toe te laat om hul verrigtinge met gebed te open.

“Gebed is deel van die Amerikaners se DNS” sê Tim Walberg, Republikeinse kongreslid. Hy is deel van ‘n netwerk kongreslede wat hulle beywer daarvoor dat gebed weer sy regmatige plek in die Amerikaanse openbare lewe inneem, en fokus as vertrekpunt op skoolbeheerliggame. Hulle voer hul veldtog onder die vaandel van godsdiensvryheid.

Hulle beroep hulle op ‘n uitspraak van die Supreme Court in 1983 waarin bevind is dat gebed so diepgewortel is in die Amerikaanse geskiedenis en tradisie dat ‘n openbare liggaam wat die Hoër Hand aanroep om leiding, nie die grondwet oortree nie.

Die netwerk kry egter die wind van voor. Die Supreme Court het onlangs geweier om die appèl van ‘n skoolbeheerliggaam in Delaware aan te hoor wat verbied is om hul vergaderings met gebed te open soos wat die gebruik is. Diegene wat gekant is teen gebed in openbare instansies meen die toelating daarvan bevoordeel een godsdiens bo ‘n ander, en selfs bo ateïsme, en daarom op ‘n skending van godsdiensvryheid neerkom.

– Christian Coalition of America

Herman Toerien