Subscribe by Email

Ventersdorp is rustig en kalm.

Roubeklaers van regdeur die land het by die APK-gemeente op Ventersdorp begin aankom vir die begrafnis van die AWB-leier Eugene Terre’Blanche wat om 12-uur begin. ‘n Hoëvlak polisie-afvaardiging word ook verwag. Dit sluit die minister van polisie – Nathi Mthetwa – en die polisiehoof – generaal Bheki Cele in.

Minstens 100 polisiebeamptes is in Ventersdorp in Noordwes ontplooi vir die begrafnis van die AWB-leier, Eugene Terre’Blanche. Die polisie patrolleer die strate te perd, op motorfietse en in voertuie. Die situasie op straat is op die oomblik rustig in afwagting op die begrafnisdiens om 12 uur in die Afrikaanse Protestante Kerk. Die diens sal gelei word deur Dominee Ferdie Devenier van die Evangelies Gereformeerde Kerk in Carletonville.

Dominee Devenier was voorheen ‘n predikant in Ventersdorp en was ‘n goeie vriend van Terre’Blanche. Devenier sal aan die einde van die diens ‘n huldeblyk lewer namens Terre’Blance se weduwee en familie, gevolg deur huldeblyke deur die sanger, Steve Hofmeyr en André Visagie van die AWB. Slegs naasbestaandes sal die diens by die graf op Terre’Blanche se plaas mag bywoon.