Subscribe by Email

Veldtog vir skoleregte

Organisasies van die Afrikaanse gemeenskap, insluitend die Solidariteit Beweging, FAK en FEDSAS, is gereed om ouers se reg om oor hulle kinders se onderrig te besluit, tot op die hoogste nasionale en internasionale vlak te verdedig. Die Solidariteit Beweging loods dan ook ʼn internasionale veldtog om steun vir die reg te werf.

Hierdie besluit is vanoggend in ʼn dringende skrywe aan die nasionale en Gautengse departemente van Basiese Onderrig bekendgemaak. Dit volg na gister se hooggeregshofbeslissing dat die provinsiale departemente van onderwys, en nie beheerliggame nie, die reg het om te besluit hoeveel kinders deur ʼn skool geakkommodeer moet word. Pas na die hofuitspraak gemaak is, het skole reeds briewe van die departement ontvang waarin hulle in kennis gestel word van addisionele leerlinge wat hulle gedwing sal word om in 2012 te akkommodeer.

Die organisasies wat die brief onderteken het, is van plan om appèl teen die hofbeslissing te ondersteun en het die nasionale en provinsiale departemente van onderwys intussen dringend versoek om geen skool te dwing om addisionele leerlinge te akkommodeer nie. Redes vir die versoek word breedvoering in die brief uiteengesit (brief onder aangeheg).

Die aksie van die Onderwysdepartement word beskou as deel van ʼn breër veldtog wat al jare lank deur die departement teen Afrikaanse skole gevoer word. Afrikaanse skole word aanhoudend geteiken wat taalonderrigmedium en die bevoegdhede van beheerliggame betref. AfriForum en die ander lede van die Solidariteit Beweging gaan waar moontlik regshulp teen hierdie optrede voorsien, maar ook nasionale en internasionale steun daarteen mobiliseer.

Die kwessie van die druk op Afrikaans as onderrigmedium het die afgelope twee weke heelwat aandag in die Nederlandse parlement, asook by die Nederlandse Taalunie geniet. Die Solidariteitbeweging sal volgende week ʼn memorandum aan beide liggame oorhandig wat die jongste verwikkelinge in die verband onder hulle aandag sal bring, as eerste stap in hierdie internasionale veldtog.