Subscribe by Email

Veldtog teen die eensydige oorvertelling van die geskiedenis van stapel gestuur

Die burgerregtegroep, AfriForum, en sy jeugafdeling, AfriForum Jeug, het vandag ʼn gesamentlike veldtog teen die eensydige oorvertelling van Suid-Afrika se geskiedenis vir die bereiking van politieke doelwitte aangekondig.

Die besluit om met die veldtog te begin, is geneem nadat AfriForum in die afgelope maand verskeie klagtes van die publiek ontvang het oor eensydige weergawes van Suid-Afrika se geskiedenis wat veral in verband met die ANC se eeufeesviering as die waarheid voorgehou word.

Die vernaamste voorbeeld hiervan is ʼn uitlating wat die president van die ANC, Jacob Zuma, tydens sy feesrede gemaak het. Hy het die Kubaanse afvaardiging wat die fees bygewoon het in besonder geprys vir Kuba se bydrae tot die sogenaamde oorwinning van die “Slag van Cuito Cuanavale” tydens die Grensoorlog. “Die waarheid is dat daar nooit eers ʼn Slag van Cuito Cuanavale was nie, maar dat daar wel groot gevegte by die Lomba-rivier naby Mavinga was, waar die Kubaanse magte en Fapla deur die Suid-Afrikaanse Weermag en Unita verdryf en verslaan is. Die Kubane/Fapla het gevolglik gevlug na Cuito Cuanavale, hul oorspronklike wegspringpunt. Van ʼn oorwinning was daar geen sprake nie. Die president het sy eie feite gefabriseer om politieke punte te wen,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

ʼn Akkurate weergawe van die geskiedenis van die Grensoorlog het sopas in We were there, die vertaalde weergawe van Kraal-Uitgewers se boek, Ons was daar, verskyn. Verskeie lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) wat aan die Grensoorlog deelgeneem het, het die boek se hoofstukke geskryf. Die voormalige hoof van die SAW, genl Jannie Geldenhuys, het die boek saamgestel. Eksemplare van hierdie boek sal gedurende die veldtog by die Uniegebou aan die presidensie oorhandig word.

AfriForum en AfriForum Jeug gaan ook, onder andere, die volgende politieke wanvoorstellings aanspreek:

· Die politieke wanvoorstelling dat alle wit grondbesitters hul grond gesteel het.

· Die politieke wanvoorstelling dat almal wat aan die kant van die ANC in die struggle deelgeneem het, onbevlekte helde is.

· Die politieke wanvoorstelling dat Afrikaners se geskiedenis in alle opsigte boos is.

· Die politieke wanvoorstelling dat Afrikaners uitheems aan Suid-Afrika is.

· Die politieke wanvoorstelling dat die onderskeie swart volke nog altyd in Suid-Afrika gewoon het.

Die veldtog sal, onder andere, die volgende aksies insluit:

· ʼn Sosialemedia-veldtog, gekombineer met ʼn staptog na die ambassades van Kuba, Rusland, Angola en Namibië en die Uniegebou om eksemplare van die boek, We were there, en ʼn opsomming van die ware geskiedenis rondom Cuito Cuanavale te oorhandig. Voormalige lede van die SAW, gesiene kunstenaars en afgevaardigdes van verskeie organisasies het reeds aangedui dat hulle aan die staptog sal deelneem.

· Die oorhandiging van ʼn memorandum oor geskiedenis met betrekking tot grondhervorming aan die departement van grondhervorming. Hierdie oorhandiging sal in samewerking met verteenwoordigers van die Khoisan-gemeenskap deur AfriForum Jeug gedoen word.

· Skakeling met die Verenigde Nasies en buitelandse nie-regeringsorganisasies.

· Die uitreiking van verslae oor en opsommings van belangrike gebeure in Suid-Afrika se geskiedenis in samewerking met hoëprofiel-geskiedkundiges.

· Die vervaardiging van kort dokumentêre video’s oor belangrike geskiedkundige gebeure soos dié rondom Cuito Cuanavale.

· Inligtingsessies en gespreksgeleenthede vir studente waar die feitelike korrektheid van die ANC se oorvertelling van die geskiedenis met betrekking tot politieke brandpunte bespreek sal word.

· Kransleggings ter nagedagtenis van die onskuldige slagoffers van ANC-terreuraanvalle.

Roets het bygevoeg dat die verdraaiing van die geskiedenis vir die bereiking van politieke doelwitte een van die gevaarlikste bedrywighede is waarmee ʼn regering hulself kan besig hou. “Ons moet almal eerlik wees oor ons geskiedenis. Ons moet die goeie daarvan herdenk en die slegte daarvan onthou. Afrikaners doen dit nou al vir twee dekades. Dit het tyd geword dat die ANC dieselfde doen.”