Subscribe by Email

Vavi se opstandspraatjies

Zwelinzima Vavi, grootbaas van Cosatu, waarsku dat die werkloosheidskoers in die land, veral onder jong mense, tot opstande soortgelyk aan 1976 se opstande kan lei.

Dit is sy uiteensetting van redes wat die hare laat regop staan.

Die staat het R26 miljard aan werkskepping geoormerk, maar, waarsku Finweek, die ANC het vyf nuwe wetsontwerpe op die tafel wat die hele oefening nie net kan verongeluk nie, maar die bestaande werksgeleenthede verder kan verongeluk. Al vyf wetsontwerpe is bedoel om die posisie van werkers wat werk het so te verskans, dat dit neerkom op die slag van die gans wat die goue eiers lê.

Dit word as die eerste beduidende, en die vlagskipwetgewing van die Zuma-bedeling beskou.

Hieroor is die ANC net so koppig as oor die woordverbreking oor konsessies oor die omstrede inligtingswet.

Boonop is Vavi en die ANC ewe vasbeslote om rasgedrewe affirmative action – dus in teenstelling met regstellende aksie – onbepaald te laat voortduur.

Kan Suid-Afrika in sy benarde werkloosheidsposisie nog verdere ekonomies-stremmende maatreëls bekostig? Wat rigiede arbeidsbedelings betref, kom Suid-Afrika 135ste uit ‘n moontlike 139 lande. In terme van lone teenoor produktiwiteit, 121ste uit 139. Die kort antwoord is dat dit invoere teenoor plaaslike vervaardiging bevorder, en om handelsbtrekkinge en diplomatieke bande te smee met lande waar werkers uitgebuit word, beteken Suid-Afrika skiet teiken na sy eie voet.

Vavi verwys ook effens terloops na die politiek-inkorrekte kwessie, die sosio-ekonomiese dispariteit in die land. Volgens verskeie bronne is Suid-Afrika die land met die grootste gaping ter wêreld, en dus teoreties met die grootste rewolusionêre klimaat. Ongelukkig maak Vavi hiervan ook grootliks ‘n rassekwessie, hoewel hy darem tot sy krediet ‘n ligte pikhoutjie na die swart soustreinryers inkry. Hy versuim om te meld dat hy self een is.

Die ANC se houding teenoor die inligtingswetsontwerp is as een van drie redes genoem waarom Suid-Afrika verlede jaar op die persvryheidsindeks getuimel het. Die ander is die voorgenome mediatribunaal en Julius Malema se onbeskofte optrede teenoor ‘n BBC-joernalis. Omdat persvryheid internasionaal as so ‘n doeltreffende meganisme teen korrupsie beskou word, bepaal ‘n land se posisie op dié indeks die land se posisie op die korrupsiepersepsie-indeks. Dit het weer ‘n regstreekse invloed op die beleggersvrertroue-indeks.

As Julius se uitbarsting teenoor die BBC-joernalis dus die land soveel skade kan berokken, kan die impak van die ANC se nasionalseringspraatjies skaars ingedink word. Dat die DA nou ook die Freedom Charter omarm, die dokument waaruit die nasionalisering van myne en banke, en drakoniese landboumaatreëls geput word, is ook nie gerusstellend nie.

Die teikenskietery na die eie voet neem dus in omvang toe. Meer en meer mense sit daagliks langs strate en wag op stukwerk, ook op verkiesingsdag.

Vavi se oordeel laat hom vieslik in die steek om self met sy impak op arbeidswetgewing werksgeleenthede nek om te draai, en dan opstandspraatjies oor die gevolge te maak.

Herman Toerien

One Response to Vavi se opstandspraatjies

  1. Gas

    Mei 29, 2011 at 3:44 pm

    Vavi is ‘n regte tweegat jakkals