Subscribe by Email

Vanwaar dié … skoengode?

BEELD

Clarissa Grobler

Aanhangers van Sex and the City – en veral van Carrie Bradshaw (Sarah Jessica Parker) met haar swak vir mooi skoene met hoë hakke – sou al gehoor het van die skeppings van Jimmy Choo, Manolo Blahnik en Christian Louboutin.

Maar hoe het dié skoengode ’n voet in die deur gekry?

Jimmy Choo

Die ontwerper Jimmy Choo woon deesdae in Londen en het glo op 11 sy eerste skoen gemaak.

In die 1980’s het sy ontwerpe aandag getrek en boonop in die tydskrif Vogue verskyn.

Daarby was prinses Diana een van sy bekende klante.

Choo het Jimmy Choo Bpk. in die 1990’s saam met Tamara Mellon gestig.

Die onderneming het uitgebrei en vervaardig onder meer ook handsakke. Boonop gaan dié maatskappy glo nou ook luukse tekkies vervaardig.

Besoek www.jimmychoo.com vir die nuutste produkte uit die Choo-stal.

Christian Louboutin

Wees gewaarsku: As jy eers www.christianlouboutin.com besoek en verskeie kere van die virtuele skoene geroteer het met die rekenaar se muis, gaan jy baie lus raak om jou kredietkaart te gebruik.

Al beteken dit jou voete gaan jou skel oor daardie hoë hakke. Wel, daar is darem ook skoene met laer hakke om oor te kwyl.

Louboutin het in die 1990’s sy reeks luukse skoene vir vroue in Frankryk begin en is ook bekend om sy rooi skoensool-ontwerp.

Dan is daar ook ’n verskeidenheid aanloklike handsakke wat waarskynlik sal smeek om saam met die skoene gedra te word.

Hy het boetieks in onder meer stede soos Parys, Londen, Hongkong, Singapoer, Djakarta en Sao Paulo, asook in lande soos Amerika en Australië.

Manolo Blahnik

Mnr. Blahnik se skeppings is beslis van Carrie Bradshaw se gunstelinge.

Dié ontwerper het in 1973 sy eerste winkel in Chelsea, Londen, geopen en deesdae is sy skeppings wêreldwyd te vinde – van New York tot Seoel.

In 2003 was Blahnik die eerste skoenontwerper wat ’n uitstalling in die Design-museum gehou het, lui die museum se webwerf.