Subscribe by Email

Vancouver hard geskud

Byna ‘n dag lank het die Amerikaanse USGC nie ‘n aardbewing van M5 of meer iewers op die Ring van Vuur aangedui nie. ‘n Tyd lank is byna alle aardbewings sterker as M-5 in hierdie gebied aangeteken, met hordes ligter, soos aan die kus van Kalifornië.

Selfs toe beduidende aardbewings “weg gelê” is het die Ring van Vuur sy kwota opgelewer.

Tot gister, toe ‘n byna vreemde stilte om die Ring neergedaal het.

Die aardbewings wat wel as sterker as 5 aangeteken is, was in die suidelike Atlantiese oseaan naby die Sandwich-eielande (5.2), by die Wes-Indiese Eilande (5), en by die Comoro’s (ook 5).

Die afgelope paar dae is ‘n paar interessante aarbewings van minder as M 5 ook “weg gelê,”, waaronder een van M4.2 in die suide van Nederland, asook ‘n paar ligter skokke. Omdat dit vlak was, is dit taamlik wyd gevoel. Aardbewings in Nederland is betreklik skaars omdat dié land taamlik ver van tektoniese raakvlakke is, en minstens sommige van die aardbewings is die gevolg van gasontginning. Ook die suide van Frankryk en Griekeland het ligte aardbewings beleef.

Maar net voor die 24-uur periode verby is, het ‘n skudding van 5.1 die Aukland-eilande suide van Nieu-Seeland geskud, en toe is daar ‘n lekker grote van M6.4 op Vancouver-eiland by Kanada. Die Kanadese skudding is heelwat sterker as die skudding wat destyds soveel skade en lewensverlies in die Boland aangerig het. Die aardbewing is ook in Vancouver se metropolitaanse gebied en selfs in Seatle gevoel. Geen skade of lewensverlies is nog aangemeld nie, en ‘n tsunami-waarskuwing is ook nie uitgereik nie.

Herman Toerien