Subscribe by Email

Van Vrugtesmous tot Vrugteboer ‘n mooi landbouverhaal

Tradisioneel het Suid-Afrika se kommersiële sagtevrugteprodusente hul vrugte feitlik uitsluitlik vir die uitvoermark geproduseer en slegs vrugte wat aan binnelandse mark spesifikasies voldoen na die plaaslike mark gestuur. Hierdie vrugte was gewoonlik deur die vrugtesmouse en handelaars na die Kaapse munisipale mark gebring om daar verkoop te word. Hoewel kommersiële produsente se primêre fokus steeds was om gehalte vrugte vir die uitvoermark te produseer, het die handel in plaaslike mark vrugte gedurende die afgelope paar dekades tot die stille toetrede van ‘n groepie entrepreneurs tot die plaaslike mark gelei.
Wat so merkwaardig is van hierdie entrepreneurs is dat baie van hulle afstammelinge van vrygelate slawe is en op die klein Bolandse sendingstasie Pniel woon. Deur vrugte te koop, te pluk, verpak en vervoer vanaf plase in die Wes-Kaap na Kaapstad en ander munisipale markte het ‘n aantal vrugtehandelaars van die dorp oor die jare so gefloreer dat hulle hul drome om hul eie vrugteplase te koop en te ontwikkel kon realiseer. Hulle besit deesdae plase in die verskeie vrugteproduserende valleie van die Wes-Kaap en is nou bure van die boere by wie hulle voorheen hulle vrugte gekoop het.
Die oorsprong en vestiging van Pniel verskaf enkele leidrade tot die ontwikkeling van hierdie tendens tot so ver terug as die vroeë vestigingsjare. Die trots waarmee hulle top gehalte vrugte kon produseer en die surplus kon verkoop was ‘n sterk tradisie. Dit word ook weerspieël in die straatname van die dorp, soos bv Star King (appel), Santa Rosa (pruim) en Mispel. Pniel is in 1842 gestig op grond geskenk deur die plaas De Goede Hoop. Die dorp het as ‘n sendingstasie ontstaan wat as ‘n toevlugsoord gedien het vir vrygelate slawe en ander vrygemaakte swart mense nâ die afskaffing van slawehandel in 1833. “Die dorp het nog steeds sy slaweklok van toeka se dae en dit word elke jaar op 1 Desember gelui om die dag waarop slawe vrygelaat is, te herdenk,” verduidelik Matthew Cyster, medeskrywer van Pniël en sy Mense. “Om dit eenvoudig te stel, daar is drie dinge van groot belang in Pniel., Die eerste is ons Kerk (Congregational Church), ons Christelike waardes en lewenswyse, en die ander twee is rugby en die vrugtebedryf. Die eerste is ononderhandelbaar in sy belang tot ons gemeenskap, hoewel daar diegene is wat die orde van belang van laasgenoemde twee sal betwis,” het hy bygevoeg. “Die ryke geskiedenis en kultuur van ons dorp is gesetel in sy mense!”
Gedurende die daaropvolgende jaar in 1943 het publieke bydraes dit vir die sendingstasie moontlik gemaak om die buurplaas van 41 hektaar, Papier Molen, te koop. Die plaas was in erwe verdeel wat verhuur is en al die standplase had tuinerwe van ongeveer 1 hektaar groot of effens kleiner. Matthew Cyster het verduidelik dat sedert sy ontstaan was mense in die dorp afhanklik van die kweek van vrugte en groente vir ‘n lewe. Aangesien surplus vrugte aan die plaaslike vrugtehandelaars verkoop is wat dit op hul beurt in aanliggende areas verkoop het, het die tradisie van vrugtehandel ontstaan en daarvandaan uitgebrei. Vanaf sy ontstaan het die sendingstasie direkteure gehad wat die stasie se werksaamhede bestuur het. Hierdie reëling het grootliks onveranderd voortgeduur gedurende die Apartheidsjare totdat Pniel tot ‘n Landelike Gekleurdegebied verklaar is, wat aan hom ‘n ongewone mate van outonomiteit in die gebied reg deur die onstuimige tye verleen het.
Hoewel Matthew Cyster ‘n onderwyser en skoolhoof geword het na voltooing van sy tersiêre opleiding, was sy pa ‘n vrugtehandelaar en het hy as jong seun met die verpakking en verkoop van die vrugte gehelp. “Pniël is ‘n gemeenskap van ondernemers wat ongeag die uitdagings van daardie tye, en deur harde werk, goeie werksverhoudinge met die plaaslike boere en vrugtehandelaars in hul gemeenskap gehandhaaf het en gevolglik het hulle gefloreer.. Vroeër jare het hulle perdekarre gebruik wat later deur klein lorries vervang is. Hierdie voertuie het die vrag wat vervoer moes word beperk. Tydens die afgelope paar dekades het groter moderne vragmotors dit egter moontlik gemaak om groter vragte te vervoer en dus hul winste te optimeer. Sedert vroeë jare was die onderlinge welwillendheid wat tussen boere en vrugtehandelaars geheers het van groot belang. Die vroeë generasies het dus die hoekstene gelê waarop hul opvolgers kon voortbou. Dit is interessant om daarop te let dat die Williams, Nicholls, De Wet, Cyster en Parks families, sommige van wie reeds in hul derde geslag, steeds invloedryk is in die vrugtebedryf.”
Dit was die droom van menige van hierdie vrugtehandelaars om hul eie vrugte te kweek, maar gedurende die Apartheidsjare was dit nie moontlik nie. Matthew Cyster verduidelik dat dit slegs in die 1970s moontlik was dat die eerste persoon van Pniel, Cecil Cyster, sy eie plaas kon koop en bestuur. HY het ‘n afgetakelde vrugteplaas in Banhoek gekoop en dit binne ‘n kort tyd heeltemal getransformeer. Toe hy die plaas n paar jaar later verkoop het was dit beskou as een van die beste plase in die gebied. Herman Nicholls en Pietie de Wet is plaaslike boere wat tans op kleiner skaal in die distrik vrugte produseer.
Richard en Yvette Myburgh besit Cortina Farm, ‘n 54 hektaar appel en peerplaas in die Vyeboom distrik tussen Villiersdorp en Grabouw. Hulle het ook ‘n transport besigheid gestig met vraghouertreine om vrugte regdeur Suid-Afrika te vervoer. Die vrugte word versend na die land se groot munisipale markte en in sommige gevalle ook direk na supermarkte. Richard en Yvette het albei in Pniel grootgeword. Aanvanklik het Richard vrugte gekoop en verpak vir verhandeling en het ‘n plaaspakhuis as verpakkingsfasiliteit in Vyeboom gehuur.. “Boerdery is in my bloed,” het Richard benadruk. “Ek het by my grootouers grootgeword en moes my oupa op sy kleinhoewes in Pniel help. Ons het hard gewerk in die lande en in daardie jare was dit my verantwoordelikheid om die vloedbesproeiing te behartig.. Ek sê altyd ek het feitlik op my oupa se trekker grootgeword. My neefs het daardie grond geerf en ek wou nog altyd my eie plaas besit. Yvette en ek het ‘n nuwe begin hier gemaak. Alles het vir ons sover deur harde werk goed uitgewerk.”
Die familie gaan naweke na Pniel vir kerk en Sondagskool en om familie en gemeenskapsbande te smee. Dis ‘n aangename uitstappie en vriende en familie van Pniel besoek ook die plaas. “Ons sien baie vriende by die kerk en het ook ‘n goeie predikant, Dominee Klate”, sê Yvette.”Hy is altyd bereid om enige nuwe onderneming vir ons te seën. Ons vergeet nie ons God in ons besigheid nie.”
Patrick De Wet is die eienaar van De Wet Transport, ‘n groot nasionale vervoermaatskappy. Hy besit ook ‘n aansienlike vrugte verkoeling-, opberging- en verpakkingsfasiliteit in Ceres, vier vrugteplase in die Ceresvallei asook ‘n vrugteplaas in Stellenbosch. By die Ceres verpakkingsfasiliteit verpak De Wet Vrugte beide Patrick se eie vrugte asook vrugte wat van ander produsente in die area gekoop word. Heelwat van die vrugte wat De Wet Transport vervoer word ook hier gelaai. “De Wet Transport koop die vrugte en vervoer dit dan na die onderskeie markte asook na sommige van my privaat kliente. Ek het ook onlangs die fasiliteit uitgebrei en vier addisionele beheerde atmosfeer koelkamers aangebou wat ek verhuur aan verskeie groot vrugtemaatskappye,” het Patrick bygevoeg.
Patrick het beide hierdie besighede deur harde werk oor die jare heen self opgerig. “Ek is sedert ek 17 jaar oud is in die besigheid en het begin deur vrugte vir die Du Toitgroep asook Mnr Gibson van Ceres te vervoer. Ek is nou 63 dus kan jy self uitwerk hoeveel jare ek hiermee doenig is! Ek het begin deur self die vragmotors te bestuur en weet dus hoe dit is om op die pad te wees. Ek ken die besigheid deur en deur.
“My pa het ‘n klein plasie in Pniel. As ‘n kind het ek vrugtebome geplant en ek was vreeslik trots en mededingend oor die gehalte van ons perskes in die gemeenskap. Dis seker waar my belangstelling in vrugteboerdery begin het. Ek het vier kinders; twee seuns en twee dogters. My dogters werk in die vervoerbesigheid in ons kantore in Pniel en my seuns werk vir die besigheid in Ceres. My vrou was nog altyd betrokke in die finansiële en administratiewe sy van die besigheid.”
Walter Williams is nog ‘n Ceres boer wie se wortels in Pniel gesetel is. Hy is ‘n streenvrug- en boomvrugteboer in die Ceresvallei waar hy vier plase besit asook Wallet Fruit, ‘n goed gevestigde vrugteverpakking- en handelsonderneming. Walter is onlangs verkies tot voorsitter van die HORTGRO Ontwikkelingskamer.
Walter is een van die ware pioniers van die ontluikende boeresektor, aangesien hy al vir bykans 40 jaar in die Ceresvallei boer.. “Ek het in 1974 vanaf Pniel hierheen gekom en op die plaas Die Eiland wat ek van die regering gehuur het, begin boer,” het hy verduidelik. ”Ek was gedetermineerd om te boer al was dit in daardie jare bitter moeilik vir ‘n gekleurde man om te boer. Ek het later uitgebrei en drie plase, asook Die Eiland, wat ek aanvanklik gehuur het, bygekoop. In 2000 het ek die Wallet Fruit Packhouse fasiliteit, wat bestaan uit koelkamers, ‘n pakhuis en 4 hektaar landbougrond, gekoop.” Wallet Fruit verpak vrugte vanaf Wallet se plase sowel as om die verpakking en bemarkingsfunksies vir ‘n aantal ander boere in die gebied, te verskaf. Tradisioneel word meeste van hierdie vrugte vir die plaaslike mark bestem, hoewel van die vrugte die afgelope jare uitgevoer word. Hy het oor die jare heen ‘n familie onderneming sonder regeringsbystand opgebou wat tans drie seuns en twee neefs in diens het, en daarby verskaf die pakhuis werk aan 70 permanente werkers.”
Soos reeds genoem, beklee sport en rugby ondersteuning ‘n baie belangrike rol in die Pniel gemeenskap. Bewys daarvan is dat die Pniel Villagers Rugby Club in 1902 gestig is. Die klub word baie goed ondersteun en beide Patrick De Wet en Walter Williams het hierdie tradisie voortgesit in Ceres waar hulle albei sterk ondersteuners is van die Ceres Rugby Klub..
Kaapschön is ‘n 150 hektaar appel- en peerplaas op die skilderagtige Viljoenshooppad in die Elgin distrik wat besit word deur Joseph Hendricks. ‘n Laning statige ou bome gooi hul skaduwees oor die oprit na die plaaskantoor en verskeie pakhuise en buitegeboue, en aan beide kante van die oprit groei netjies versorgde boorde in lang rye. “Ek het grootgeword in Pniel en my familie woon steeds daar. Ek was ‘n vrugtesmous en het vir baie jare vrugte in die Elgingebied opgekoop. In 2004 het ek ‘n geleentheid gesien om hierdie plaas te koop en aangesien my vrugtehandelaarsonderneming suksesvol genoeg was om my besigheid na boerdery uit te brei, het ek besluit om te koop,” verduidelik Joseph. “Ek het op my eie die plaas gekoop deur ‘n lening van die Landbank (Land en Landboubank van Suid-Afrika) sonder enige toelaes of lenings.van die regering. Dit het nogal goed uitgewerk en was ‘n goeie balans vir die vrugte handelsonderneming
“Om boerdery onder die knie te kry het ek geweldig baie geleer en daardeur die vrugteproduserende proses leer liefkry. My seun werk saam met my en ontvang tans opleiding om die plaas te bestuur. My dogter Natasha is Kaapschon se administratiewe beampte. Ek wil graag nog plase aankoop en dit ons familie-onderneming maak. My vrou en ek woon op Pniel met ons gesin en ek reis elke dag na die plaas.”
Onder hierdie groep merkwaardige entrepreneurs is daar ‘n diepe gevoel van dankbaarheid en trots in hul Pniel wortels. Die kerk het hulle vanaf die dorp se ontstaan bygestaan en is steeds die fokale punt van die gemeenskap se aktiwiteite. Die historiese kerkie word goed bygewoon deur die gemeente. “Vir ons gemeente se jaarlikse dankseggingsdiens maak meeste van die boere en vrugtehandelaars van ander gebiede die moeite om die diens by te woon, wat daardeur die uitgebreide Pniel gemeenskap in danksegging vir hul suksesse, saamsnoer”, sê Matthew Cyster. “Dis belangrik om te let dat die basis vir sukses van die huidige boere van Pniel generasies gelede gelê was deur harde werk, toewyding en goeie verhoudinge tussen boere en smouse van daardie tye. Moontlik kan ons die model vind vir die suksesvolle implementering van grondtransformasie hier in hierdie ou sendingstasie van weleer,” het hy bygevoeg.
Foto: Natasha Hendricks, Joseph Hendricks en JC Van der Merwe, Kaapschön produksiebestuurder

3 Responses to Van Vrugtesmous tot Vrugteboer ‘n mooi landbouverhaal

  1. Abraham

    Mei 16, 2016 at 11:08 am

    Pragtig om dit te lees; is ook n vrugte smous

  2. Zelt Marais

    Februarie 2, 2013 at 8:55 am

    Ek is baie trots op julle en wens julle alle sterke and God se ryskste seninge vorentoe. Ek hoop ek kan julle binnekort op jul plase kom besoek so dat ek ‘n bietjie van jul praktiese ondervinding kan bekom en moontlik is daar ‘n geleentheid dat ons almal kan saam groei.

    Boerdery & Rugby Groete
    Zelt

  3. Jacobie

    April 17, 2012 at 9:13 am

    Julle is vir baie mense ‘n goeie voorbeeld. Sterkte mag jul van krag tot krag gaan deur die Vader se genade.