Subscribe by Email

Van Riebeeck se aankoms – Vandag 360 jaar later

Voor 1994 het 6 April as Stigtingsdag bekend gestaan. Dit was die herdenkingsdag van die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, om ‘n verversingspos te stig.

Hoewel dit aanvanklik nie so bedoel was nie, het dit uiteindelik daartoe gelei dat die eerste sooie van ‘n westerse staatsvorm gespit is. Die ontstaan van die Afrikaner en Afrikaans, en die vestiging van die Christendom in hedendaags Suid-Afrika kan ook na hierdie gebeure teruggelei word, hoewel dit eers veel later uitgekristalliseer het.

Hierdie geskiedenis is onlangs opnuut onder die vergrootglas geplaas toe die grondhervoringsdebat ‘n draai deur die aspek van eerste besetting gaan maak het. Van Riebeeck en sy opvolgers het nie in geheel onbewoonde land aangeland nie – en vanuit die staanspoor was daar kontak met die Strandlopers en ander Koi- en Sanstamme.

Die Koi en die San was ook nie die land se eerste bewoners nie. Suid-Afrika staan immers nie verniet as die wieg van die mensdom bekend nie, met die oudste klipwerktuie wat by die Wonderwerkgrot in die Noord-Kaap gevind is wat sowat 2 miljoen jaar oud is, die eerste tekens van die gebruik van vuur by Swartkrans naby die Sterkfonteinkompleks wat dalk 1,5 miljoen jaar oud kan wees, en die oudste vuur vir die gaarmaak van kos waarvan die vonds pas aangekondig is, wat ‘n miljoen jaar gelede ook in die Wonderwerkgrot gemaak was.

Genetiese studies toon dat die San se spore sowat 60 000 tot 90 000 jaar teruggevoer kan word en waarskynlik ontwikkel het uit laat-steetydperkmense wat reeds in die gebied woonagtig was.

Navorsers meen die wêrelderfenisgebied by Mapungubwe op die Suid-Afrikaanse grens met Botswana en Zimbabwe is, vanaf sowat ‘n duisend jaar gelede deur ‘n swart stam bewoon is. Dit is ongeveer dieselfde tyd as wat die kompleks wat vandag as die Zimbabwe-ruïnes bekend staan ontstaan het. Die inwoners het die grootste argeologiese goudskat in Afrika suid van die Sahara nagelaat, met beeste, skape en bokke, asook sorghum en selfs katoen geboer, en handelsware uit China, Indië, Iran en Egipte is gevind.

Beduidende swart besetting uit die noorde het hierna gevolg, en argeoloë is nog besig om die prentjie te bou. Die teenswoordige KwaZulu-Natal is sowat 500 jaar gelede deur swart mense beset.

Van Riebeeck se koms het egter vir die geskiedenis van destyds ‘n groter invloed op die blanke en bruin bevolkings gehad.

Ver van mekaar verwyder het beide Afrikaans en Algemeen Beskaafde Nederlands (ABN) uit die laat-Middelnederlandse dialekte van Van Riebeeck se tyd ontwikkel. Dat dit nie gouer, verder uitmekaar ontwikkel het nie, kan toegeskryf word aan die bestaan van die Statengeneraal-Bybel. Die eerste Satengeneraal-Bybel is eers in 1637 gedruk, twee jaar na die vertaling voltooi is. Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap was ‘n skrale 15 jaar later.

ABN het wel reeds in die 16de eeu uit die Hollandse dialek begin ontwikkel, en hoewel dit amptelik in die 18de eeu voltooi is, meen taalpuriste dat die proses steeds nie voltooi is nie, en dat in wese niemand nog ABN suiwer praat nie. ABN is baie deur dialekte beïnvloed, onder meer na die val van Antwerpen in 1585 toe die swaartepunt van taalontwikkeling noordwaarts geskuif het. Baie Vlaminge het toe ook na die teenswoordige Nederland verhuis, en die Vlaamse invloed is voortgesit. Boonop word ander tale ook in Nederland gepraat, met Frissies, maar veral Brabants, wat ook sterk invloede uitgeoefen het.

Die Kaap het ook hierdie dialekte nie vrygespring nie, en dit lyk of ander Nederlandse dialekte as dit wat ABN gerig het, ‘n groter invloed op Afrikaans uitgeoefen het. Die gebruik van die dubbele nie is ‘n voorbeeld hiervan. Boonop het die NOIK ook groot getalle mense van ander nasionaliteite in diens geneem wat ook hul weg na die Kaap gevind het, byvoorbeeld Duitsers en Swede. Oplaas het talle nie-Nederlandssprekende inwoners, soos die Koi en die slawe ook ‘n vorm van Nederlands aangeleer, en hul weergawe het ook ‘n stewige invloed op Afrikaans uitgeoefen.

In die lig daarvan dat die ou Stigtingsdag vanjaar met Goeie Vrydag saamval, is dit gepas om te beklemtoon dat die Christendom ook saam met Van Riebeeck na Suid-Afrika gekom het. Die Bybel is as kosbare kleinood saam met die Voortrekkers die binneland in, en baie dikwels was die Bybel ook die enigste geskrewe bron waaruit kinders kon leer lees en skryf.

In Piet Retief se manifes skryf hy onder meer: “Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.”

Die goue draad word onder meer na die Gelofte deurgetrek.

Pas het prof. Deon Geldenhuys oor die Afrikaner se posisie in die huidige Suid-Afrika soos volg geskryf: “Gemeet aan internasionale standaarde, is hierdie gemeenskapsregte *wat minderhede soos die Afrikanergeniet) bra beperk en die toepassing daarvan ondermyn dikwels groepe se kulturele vryheid. Vandaar dat veral Afrikaners kan getuig van kulturele uitsluiting sedert 1994. Kulturele vryheid is egter nie net Afrikaners beskore nie, ewe min as wat dit vir Afrikaners verpligtend is. Lede van alle gemeenskappe (in grondwet-taal) wat ‘n behoefte daaraan het, kan hulle vir kulturele vryheid beywer en vrywillig daarmee vereenselwig.”

Lees gerus Geldenhuys se artikel oor die NP van Wyk Louw-sentrum http://maroelamedia.co.za/blog/die-groot-debat/artikel-oor-die-nuwe-np-van-wyk-louw-sentrum-vir-kulturele-vryheid/

Herman Toerien