Subscribe by Email

UV Studenterade ontbind, SASCO wil hoftoe

Die DA se Jeugvleuel in die Vrystaat het die besluit van die rektor van die Vrystaatse universiteit, professor Jonathan Jansen verwelkom om alle studente politieke-bedrywighede op die kampus tot verdere kennisname op te skort.

Die party sê politieke partye en organisasies het tot die rassespanning bygedra. Hulle het nie daarin geslaag om studente se beste belange voorop te stel nie. Die DA sê dit is duidelik dat politieke motiewe – en nie studentebelange nie,  die bepalende faktore van kampus-politiek is.

Intussen gaan die studente-organisasie, SASCO, hom tot die hof wend oor Jansen se besluit om die verteenwoordigende studenteraad te ontbind. Die universiteit het ook ‘n hofbevel verkry teen enige verdere studente-ontwrigtings.

SASCO-lede het die naweek sportbyeenkomste tussen die Kovsies en die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-universiteit ontwrig. SASCO sê hy het sy prokureurs geraadpleeg en glo dat hy ‘n sterk saak het.