Subscribe by Email

UP-studenteraadsverkiesing: AfriForum Jeug bring dringende hofaansoek

AfriForum Jeug gaan more ʼn dringende hofaansoek bring teen die Universiteit van Pretoria (UP) nadat daar vandag aangekondig is dat ʼn herverkiesing vir die studenteparlement gaan plaasvind.

“Dit lyk vir ons of die uitslag van die verkiesing ʼn politieke verleentheid vir UP is, aangesien AfriForum se steun beduidend toegeneem het sedert verlede jaar se verkiesing,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. Oberholzer is ook tans die voorsitter van UP se verteenwoordigende studenteraad (VSR).

UP het verklaar dat die afgelope studenteraadsverkiesing vry, maar nie regverdig was nie, aangesien AfriForum Jeug ʼn pamflet op verkiesingsdag versprei het wat studente aangemoedig het om vir lede van AfriForum Jeug wat in die kiesafdeling van die fakulteite gestaan het, te stem.*

AfriForum Jeug is na afloop van die verkiesing aangekla omdat die pamflet sonder die toestemming van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) versprei is. Daarna het AfriForum ʼn skikking met UP bereik, waarna AfriForum ʼn boete opgelê is. Geen skuldigbevinding is gemaak ten opsigte van die inhoud van die pamflet nie.

“Tukkies se idee van ʼn vry en regverdige verkiesing is dat studente ʼn oningeligte besluit moet maak. AfriForum Jeug het bloot die studente ingelig wie van die kandidate ook lede van AfriForum Jeug is. Geen student of fakulteitskandidaat behalwe die ANC-geaffilieerde studenteorganisasie, Sasco, het ʼn klag ingedien of gevoel dat die verkiesing onregverdig was nie.” Alle aanduidings is dat Sasco se steun in die afgelope verkiesing dramaties afgeneem het.

Na die afhandeling van alle verkiesingsklagtes het Sasco ʼn dreigbrief aan die UP-bestuur gestuur, waarna die rektor, prof. Cheryl de La Rey, aan die onafhanklike moniteringsliggaam (OML) opdrag gegee het om die regverdigheid van die verkiesing te heroorweeg.

“UP het nie op grond van ʼn beginsel of op grond van ʼn geskrewe reël ʼn besluit geneem nie, maar eerder as gevolg van Sasco se politieke druk,” sê Oberholzer.

Oberholzer noem verder dat AfriForum Jeug hoop om met die interdik die besluit van die rektor en die OMB ongedaan te maak, aangesien die besluit inbreuk maak op fakulteitskandidate se vryheid van assosiasie en UP se besluit geskoei is op vooroordeel teenoor AfriForum Jeug.

“Studente se vryheid van assosiasie word sonder skroom deur UP beperk. Elkeen het die reg om te sê van watter organisasie hy lid is en studente het die reg om te weet wat die standpunte en lojaliteite is van die mense vir wie hulle stem. ’n Lid van UP se hoofbestuur het in ʼn vergadering met AfriForum gesê dat die universiteit poog om te verseker dat een organisasie nie die kampus oorheers nie,” sê Oberholzer.

Die studenteraadsverkiesing het op 13 September 2011 plaasgevind en die datum van die herverkiesing is nog nie aangekondig nie.

· Meer besonderhede oor die hofaansoek sal more bekendgemaak word.

*Die studenteraadsverkiesing bestaan uit drie kiesafdelings, naamlik Verenigings, Fakulteite en Koshuise. AfriForum Jeug het as vereniging deelgeneem. In die genoemde pamflet het AfriForum slegs aangedui wie van sy lede kandidate in die fakulteite se kiesafdeling is. Ingevolge die Grondwet vir Studenteregering bestaan daar geen reël wat hierdie optrede verbied nie.