Nuuskommentaar: Grondwet onder druk
Van velerlei kante kom daar nou druk op die grondwet, en selfs die beginsel van ‘n grondwetlike demokrasie.
In die een hoek spreek pres. Jacob Zuma hom al hoe meer oor die grondwet en die grondwetlike hof uit, en laai so meer en meer vurige kole op sy kop. Zuma se standpunt kan min of meer gestel word as sou hy wil afsien van die beginsel van die oppergesag van die grondwet, en dus ‘n grondwetlike demokrasie. Dit sou behels die terugkeer na iets soortgelyk as die vorige bedeling waar die meerderheid in die wetgewende gesag die finale sê sou hê.
Dit is Sondag goed verwoord in ‘n Rapport-artikel oor die uitlatings van dr. Mathole Motshekga, wat Zuma na die mond praat. Die FW de Klerkstigting weerlê hom punt vir punt. (Teks hieronder).
Elders ter wêreld is daar heelwat debat oor die onderwerp. In Australië, onder meer, loop die gedagte sterk dat dit onhoudbaar is dat nie-verkose regters, eerder as verkose parlementslede, die finale sê kan hê. Onder die argumente wat geopper word is dat dit nie die grondwet en howe in die VSA was wat slawe vrygestel het nie, maar verkose verteenwoordigers.
Hier handel die histerie oor wat Zuma en ‘n groterwordende deel van die leierskorps van die ANC bepleit dat die president nie die skeiding van magte verstaan nie, en ook nie weet waaroor die regstaatbeginsel gaan nie.
‘n Groot deel van die verontwaardiging oor Zuma se jongste deuntjies hou daarmee verband dat die ANC en die Vryheidsmanifes die morele opperhand oor die ou bedeling gekry het, onder meer met die ruim lippediens wat aan, soos dit in Engels bekend staan, “rule of law.”
Of verklaar die Vryheidsmanifes werklik ‘n verbintenis tot die regstaatbeginsel soos so graag voorgehou word? Toe nou nie, veel eerder ‘n verbintenis tot meerderheidsregering, maar met die beskerming van minderhede. Die regstaatbeginsel, dus waar die grondwet die oppermag het, is juis een van die meganismes om minderhede teen wat politieke wetenskaplikes die diktatuur van die meerderheid noem.
Zuma se taalgebruik kom inderdaad baie na aan ‘n ongebreidelde oproep tot die diktatuur van die meerderheid, onder die indruk dat dit ‘n soort suiwer demokrasie beteken. Die internasionale reg stel egter ‘n hoë premie aan minderheidsregte en die grondwette van die meeste beskaafde heterogene state maak deeglik hiervoor voorsiening. Dit sluit lande in soos Nieu-Seeland, Indië, die Europese Unie in geheel en ook individuele Europese lande.
Lande wat neig om heterogeniteit deur gewone meerderheidsstem te regeer, het baie dikwels met gewapende opstande te make, soos Sri Lanka en Turkye.
Hoewel die ANC nog gereeld lippediens aan die grondwet bewys, wyk dit in sy transformasiebeleid reeds dramaties daarvan af, en daar moet kommer wees as van die grondwetlike beginsels wat by Kemptonpark onderhandel is, en die grondwet self afgewyk word.
Die situasie het nou ontstaan dat slegs ‘n klein deel van die politieke spektrum, links van die sentrum, tevrede met die huidige grondwet is. Selfs in akademici kringe word die grondwet beskou as een wat verskeie flaters bevat. In dié stadium bepleit die ontevredenes dialoog en selfs ‘n heronderhandelde skikking, maar die ideologiese spektrum van diegene wat verandering nastreef, is pole uitmekaar. Dit word goed op ‘n skematiese voorstelling van die kumulatiewe spanningshipotese uitgebeeld.
Op die een pool word ‘n meerderheidsdiktatuur nagestreef, en op die ander punt ‘n grondwetlike demokrasie wat beter met die internasionale reg gesinchroniseer is.
Intussen moet die huidige grondwet, gebreke en al, optimaal benut word om ‘n magshegemonie te stuit.
DR MATHOLE MOTSHEKGA SE MENINGS OOR DIE HOWE EN DIE GRONDWET
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die F W de Klerk Stigting
In ‘n onderhoud in Rapport op 19 Februarie, het ANC Hoofsweep dr Mathole Motshekga voortgegaan met die regering se georkestreerde veldtog om die howe, en by verlenging die Grondwet, te ondergrawe. Hy het, onder andere, stellings gemaak dat
• “sekere mense” die magte van die Parlement en President Zuma aan die howe wou oordra;
• Suid-Afrika in ‘n “eenpartystaat” verander word wat gelei word deur onverkose howe;
• President Zuma se onlangse stelling dat die regering die magte van die Grondwetlike Hof wou hersien nie ongrondwetlik of buite orde was nie, maar slegs ‘n weerspieëling is van openbare kommer oor die mag van die howe;
• “vir meeste mense kom dit voor asof die regering die howe se toestemming moet vra voor dit iets doen” en dat dit die geval is selfs al het “die regering sy mandaat van die bevolking ontvang, terwyl die howe slegs uit ‘n handvol mense bestaan”;
• wysigings tot die Grondwet is nie uitgesluit nie – maar dit sal nie inmeng met die grondliggende regte van Suid-Afrikaners nie.
Dr Motshekga het ‘n verduideliking gegee van die regering se plan om die uitsprake van die Grondwetlike Hof oor die afgelope 18 jaar te bestudeer, om te bepaal hoe hulle transformasie beïnvloed het. Die doel van die oorsig is om duidelikheid te kry oor die situasie wat ontwikkel het omdat “sekere mense die magte van die howe verkeerd verstaan het”. Dit is in “die nasionale belang om duidelikheid oor die magte van die uitvoerende gesag, die howe en die wetgewer te verkry”.
Dr Motshekga was besonder gegrief deur elemente “wat die howe gebruik vir hul eie bekrompe belange en om transformasie te verhoed.” Hy was ook ontstel met “politieke partye wat met wetsontwerpe na die howe toe hardloop voordat die Parlement die wetgewende proses afgehandel het”, alhoewel hy nie enige voorbeeld van ‘n werklike geval kon voorsien nie.
Dr Motshekga se stellings is onversoenbaar met die beginsel van skeiding van magte wat die grondslag van ons Grondwet vorm.
Daar is, inderdaad, geen gebrek aan duidelikheid oor die onderskeie magte van die uitvoerende gesag, die wetgewer en die howe nie. Hulle is duidelik uiteengesit in die Grondwet wat die ANC self, asook ander partye in die Grondwetlike Vergadering, 15 jaar gelede aanvaar het.
• Die Nasionale Vergadering het die mag om die Grondwet te wysig em om wetgewing oor enige aangeleentheid goed te keur, behalwe waar sulke aangeleenthede binne die uitsluitlike funksionele veld van die provinsies val. In ander woorde, die wetgewer het volle wetgewende gesag “oor enige aangeleentheid” met die enigste voorwaarde dat die wetgewing wat dit goedkeur, in ooreenstemming met die Grondwet moet wees.
In die lig van sy kommentaar oor wysigings aan die Grondwet, behoort dr Motshekga Artikel 74 (1) (a) van die Grondwet in gedagte te hou. Dit maak voorsiening dat die grondliggende beginsels in artikel 1, wat die oppergesag van die Grondwet en regsoewereiniteit insluit, slegs deur ‘n 75% meerderheid in die Nasionale Vergadering verander mag word.
• Die uitvoerende gesag van die Republiek van Suid-Afrika is gesetel in die President wat sy gesag saam met ander lede van sy kabinet uitvoer deur nasionale wetgewing te implementeer; deur die funksies van staatsdepartemente en administrasies te koördineer; deur nasionale wetgewing voor te berei en aan te voor; en deur enige ander taak, soos bepaal in die Grondwet of nasionale wetgewing, uit te voer.
Dus geniet die President volle uitvoerende gesag wat slegs beperk word deur die noodsaaklikheid om te verseker dat die uitvoerende gesag se optrede en beleid in ooreenstemming is met die Grondwet. (Dit is egter moeiliker om te sien waarvandaan hy enige gesag verkry om die magte van die howe te hersien.)
Dit is ook belangrik om daarop te let dat dit een van die President se oorhoofse pligte is om die Grondwet as die opperste wet van die republiek te handhaaf, verdedig en respekteer.
• Die geregtelike gesag van die Republiek is in die howe gevestig. Die Grondwetlike Hof is die hoogste hof in alle grondwetlike aangeleenthede. Dit neem die finale besluit of wetgewing, of uitvoerende gesagoptrede grondwetlik is. Dit is ook relevant dat die howe onafhanklik is en slegs onderhewig is aan die Grondwet en die reg, wat hulle onpartydig en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel, moet toepas.
Dr Motshekga moet ook daarop let dat geen persoon of orgaan van die staat mag inmeng met die werking van die howe nie; dat staatsorgane die howe moet bystaan en beskerm en dat alle persone en staatsorgane verbind is tot hofbesluite en uitsprake wat op hulle van toepassing is. Wanneer grondwetlike wysigings oorweeg word, moet hy artikel 167 (4) (d) lees wat bepaal dat slegs die Grondwetlike Hof oor die grondwetlikheid van enige wysiging tot die Grondwet mag besluit.
Die regering se probleme ontstaan dus nie weens enige gebrek aan duidelikheid oor die onderskeie magte van die wetgewer, die uitvoerende gesag en die regbank nie. Dit is ook nie ‘n geval van reaksionêre howe wat hardkoppig in die weg van transformasie staan nie. Vele van die sake wat die regering verloor het was ten gunste van transformasie, soos Grootboom en die Treatment Action Campaign. Ander het ongrondwetlike wetgewing en die misbruik van magte behels, soos Glenister en Simelane, en nog ander het op kulturele- en taalregte betrekking gehad, soos Lourens.
Die regering se probleme met die howe ontstaan uit die feit dat ongrondwetlike wetgewing en regeringsoptrede herhaaldelik deur die howe verbied word. Daar is ook geen gronde vir die aantyging dat die howe hul magte oorskry nie. Hulle kom slegs hul grondwetlike pligte na om te verseker dat wetgewing en uitvoerende gesagoptrede voldoen aan die voorskrifte en regte soos in die Grondwet uiteengesit. Die vryheid en fundamentele regte van al ons mense en die bewaring van ons grondwetlike demokrasie hang daarvan af of die howe in staat sal wees om so voort te doen.
Dr Motshekga verseker ons dat Suid-Afrikaners nie hoef te vrees dat hul regte op enige manier ingekort sal word deur ‘n grondwetlike wysiging wat waarskynlik “die magte van die howe hersien” nie. Maar wie sal dan hul regte beskerm, en in besonder die regte van individue en minderhede, teen die onbeperkte mag van ‘n uitvoerende gesag wat glo dat sy vertolking van die menings van “meeste mense” meer gewig dra as die uitsprake van “‘n handjievol mense” in ons howe?
Short URL: http://www.koerant.co.za/?p=7405