Subscribe by Email

Uitspraak voorbehou in verband met afgedankte SAUK joernaliste.

Die vier afgedankte joernaliste saam met Ivor Price in die arbeidshof vroër vanmiddag. Foto: Ivor Price FB.

Die vier afgedankte joernaliste saam met Ivor Price in die arbeidshof vroër vanmiddag. Foto: Ivor Price FB.

Die saak van vier SAUK-joernaliste wat vroeër die week afgedank is, is in die Arbeidshof in Johannesburg Vrydag voortgesit. Die joernaliste beweer in hofdokumente dat hulle afdankings onwettig was. Die vier word deur die vakbond Solidariteit verteenwoordig.

Solidariteit se regsverteenwoordiger, Steven Budlender het aangevoer dat die SAUK se besluit om vier joernaliste af te dank, ongrondwetlik was. Die SAUK het in geheel sewe voltydse joernaliste en een vryskutjoernalis afgedank nadat hulle na bewering hul kommer oor sensuur by die SAUK en die atmosfeer in die nuuskantoor openbaar gemaak het.

Die SAUK se regsverteenwoordiger, Themba Skosana het aangevoer dat die afgedankte SAUK-joernaliste deur hulle kontrakte verplig was om nie kwessies by die openbare uitsaaier met ander media te bespreek nie. Skosana voer ook aan dat die saak voor die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie aangehoor moet word, en nie die Arbeidshof nie. Skosana sê die kontraktuele ooreenkomste tussen personeel en die SAUK moet gerespekteer word.

Uitspraak word voorbehou.