Subscribe by Email

Tweepartystelsel: Demokrasie of diktatuur?

Na 1994, met die oop proporsionele kiesstelsel, het Suid-Afrika ‘n stelsel wat dit vir selfs baie klein partytjies moontlik maak om in die parlement verteenwoordiging te verkry. Trouens, ‘n kwart persent van die stemme verteenwoordig ‘n gewaarborgde setel, maar omdat dié kwotas nie altyd volgemaak word nie, kan kleiner partye ook nog inglip. Die doel hiervan was om te kompenseer vir die meer gebruiklike stelsel van gewaarborgde setels vir
minderhede, soos wat die oorspronklike, inheemse bevolking van Indië geniet, asook die Maori’s in Nieu-Seeland.

Nieu-Seeland is juis een van die lande waar die oop proporsionele stelsel getemper word deurdat partye eers ‘n sekere drempel verby moet steek voor hulle verteenwoordiging in die parlement kry. Dié drempel word soms taamlik hoog, soos tien persent stemme, gestel. In Nieu-Seeland moes die Christian Heritage Party byvoorbeeld uiteindelik ontbind omdat dit te duur geword het om ‘n party sonder verteenwoordiging te bly bedryf.

Verkiesings, veral nasionale verkiesings, in Suid-Afrika lewer egter kanniedode soos Kiss, die groenes en ander op wat elke keer nie daarin slaag om selfs die kwart persent steun te behaal nie. Meer as 50 partye waarvan die naam met ‘n “A” begin is by die OVK geregistreer. Die kiesers self neig egter om in ‘n groter mate te groepeer. Die oorheersing van die ANC en die voortdurende kleitrappery deur die regerende party, asook voortdurende berigte van korrupsie, laat die politiek min of meer kristalliseer in die ANC aan die een kant, en die ander wat teen die ANC is. Veral na vanjaar se munisipale verkiesings lyk dit of die kieser eers sy demokratiese reg om vir sy eie beginsels te stem, links laat lê om óf die ANC te bestendig, óf die ANC te opponeer, en ‘n tweepartybedeling begin kristalliseer. Die onlangse inisiatief van Cope om op 25 November opposisiegesprekke vir groter opposisie-eenheid te hou, is deels ‘n manifestasie van die kiesers se instink om eerstens teen die ANC te stem, en daarna eers oor beginsels bekommerd te wees. ‘n Jaar gelede was prof. Jakes Gerwel in sy Rapport-rubriek byvoorbeeld beswaard omdat die publiek dikwels die ANC as landsvyand voorstel. Hy gee wel toe dat die ANC dalk ‘n vrot regering is.

Die DA het dié verskynsel ook probeer benut met die voorverkiesingsoproep dat kiesers hul stem vir die DA moet leen.
Dit sluit aan by ander soort oproepe, soos deur die destydse leier van die NP, mnr. Marthinus van Schalkwyk dat kiesers nie hul stemme moet mors deur vir kleiner partye te stem nie, wat die destydse leier van die toe nog klein DP, mnr. Tony Leon woedend gemaak het. Na die DA groter as die NNP geword het, het die DA egter dieselfde voorstel aan die kiesers probeer verkoop, en weer ander opposisieleiers ontstoke gelaat.

Hierdie soort uitsprake is in die konteks van hoe die stelsel werk, net so opportunisties en onwaar soos “Ons sal jul stem wees” deur by die ANC te gaan aansluit, en daar daarna van hierdie belofte nie eens ‘n piep gekom het nie.
Die de facto Amerikaanse tweepartybedeling word gereeld voorgehou as ‘n voorbeeld van wat hier nagevolg moet word, sonder dat die ooglopende verskille in ag geneem word. In die eerste plek is die VSA, anders as Suid-Afrika, ‘n federasie en is die federale regering en president se magte baie beperk. Die deelstate het volle soewereine magte oor ‘n groot verskeidenheid binnelandse sake. Nog laer vlakke van owerheid is ook gedemokratiseer, en dié is gewoonlik los van die stryd tussen die Demokratiese Party en die Republikeine, of die Grand Old party (GOP) soos sy ondersteuners dit graag noem.

Verder kies die Amerikaners die president regstreeks, en dit gebeur dikwels die dat president nie deel van die regerende party is die kongres is nie. Trouens, dit gebeur dikwels dat die twee huise van die kongres, die senaat en die Huis van Verteenwoordigers, deur verskillende partye beheer word soos nou die geval is.

‘n Baie belangrike verskil is egter dat die Kongreslede, anders as die politici hier, nie koukusgebonde is nie. Hulle doen in die eerste plek verantwoording aan die kiesafdeling wat hulle verkies het. In plaas van eie politieke partye stig, sal belangegroepe en lobbies ontstaan, elke met sy eie beleid soos wat ‘n politieke party het. Die Christian Coalition of America met sy 4 miljoen ingeskrewe lede se webwerf en beleid is byvoorbeeld kwalik te onderskei van die webwerf van Christen-demokratiese partye elders. Tot voor pres. Barack Obama se verkiesing was dit haas onmoontlik om vas te stel of dié organisasie neig om die Demokrate, of die GOP te steun – die steun het duidelik van ‘n kandidaat se individuele verbintenis tot die CCMA se beginsels en beleid afgehang. Sedert Obama aan bewind gekom het, is dit eerder ‘n geval van welke Republikeinse kandidaat gesteun word.

Dag vir dag monitor die CCMA die uitsprake en gewildheid van die vernaamste aanspraakmakers om uiteindelik as GOP-kandidaat teen Obama te staan te kom. Een van die belangrikste onderwerpe wat gemonitor word, is Obama se pogings om aborsies op aanvraag deur staatsbefondsing te bewerkstellig, terwyl die GOP dit verbete teenstaan. Elke kandidaat se pro-lewe-standpunte word versigtig gemonitor en aan die groot klok gehang.

Min of meer dieselfde, maar op groter skaal, vind via die Tea Party-beweging plaas. ‘n GOP-kandidaat wat die wind van voor by die Tea Party kry, kan maar die handdoek ingooi. Die lobbie-stelsel kan egter ook net werk waar korrupsie onder beheer is. Hoewel die maatreëls om korrupsie te beperk deurlopend, en ironies dikwels deur die Demokratiese Party verskerp word, kom daar kort-kort gevalle voor soos ten volle betaalde ekskursies na ‘n Skotse gholflandgoed, waarna sleutelstemmings gehou word. Nogtans is die VSA ‘n veel beter kandidaat waar dit kan werk – op Transparrency International se korrupsiepersepsieindeks kry die VSA 7,1 uit tien vir skoon administrasie, en Suid-Afrika 4,5. Suid-Afrika se telling maak dit volgens die indeks “hoogs korrup.” Die VSA is 20ste op die persvryheidsindeks en sy posisie is stabiel. Suid-Afrika is in die 38ste posisie en boer agteruit. Na verwagting sal Suid-Afrika se posisie op die jongste indeks, wat enige dag verwag word, skerp terugsak na aanleiding van die omstrede bepalings in die Inligtingswetsontwerp wat die ANC nou deur die parlement probeer stoomroller, die planne van ‘n mediatribunaal wat nog nie gaan lê het nie, en die aanvalle op joernaliste tydens die Malema-verhoor.

‘n Persvrye media is ‘n onontbeerlike deel van demokrasie, en as die media self ook nog onverbonde is soveel te beter. ‘n De facto-tweepartybedeling in Suid-Afrika kan nie met die VSA vergelyk word nie; in werklikheid verskraal dit die demokrasie hier en ontneem kiesers die reg om vir hul eie oortuigings te stem dermate dat dit nie meer as demokrasie tel nie. Dit frustreer ook die doel van die oop proporsionele kiesstelsel om sodoende aan minderhede verteenwoordiging te verskaf.
Opgestel vir MaroelaMedia
Herman Toerien