Subscribe by Email

Tweepartybedeling: Demokrasie of nie?

Tweepartybedeling: Demokrasie of nie?

In sommige kringe word gejuig weens die uitkristalisering van ‘n de facto tweepartybedeling in Suid-Afrika. Hierdie soort gejubel dui egter op ‘n onbegrip van wat demokrasie in sy generiese wydste betekenis dui, asook in die staatkundige opset.

Die VSA se skynbare tweepartymodel word gereeld as voorbeeld voorgehou oor hoekom dit in Suid-Afrika ‘n bate is. Ook dui dit op ‘n reuse staatkundige onkunde en naïwiteit.

Demokrasie behels benewens ‘n kiesstelsel, ook aspekte soos mediavryheid, die onderskeid tussen staat en regerende politieke party, toenemend ‘n staatkundige voorsiening vir minderheidsregte, en ‘n behoorlike funksionering van die trias politika.

Om die Suid-Afrikaanse politieke landskap enigsins met dié van die VSA te vergelyk verklap ontsaglike politieke naïwiteit. Die VSA is ‘n federale bedeling waar die Kongres oor beperkte sake hoegenaamd ‘n sê het, waaronder buitelandse sake, verdediging en sekere maatskaplike aangeleenthede. Sake soos die onderwys en ander saakmakende aangeleenthede word in die wetgewende liggame van die deelstate of op laer vlakke beheer. Uiteindelik word tot die sheriffs en talle ander openbare figure verkies.

Die vernaamste onderskeid is egter dat die VSA nie die koukusgebondenheid ken wat Suid-Afrika ken nie. Die gevolg is dat belangepolitiek grootliks in belangegroepe, lobbies en soortgelyk gesetel is. Die Christian Coalition of America het byvoorbeeld 4 miljoen opbetaalde, ingeskrewe geledere, maar dit het ook ‘n volledige beleid nes enige politieke partye. Dit gee steun aan kandidate wat dié liggaam se beleid ondersteun. In die jongste verlede, veral na die verkiesing van Barack Obama, neig dit om openlik pro-republikeins te wees, maar veel meer gekwalifiseerd as die onlangs-geskepte Tea Party-belangegroep wat in die mid-termyn-verkiesing Obama se ondersteuners bykans voor die voet ‘n liederlike drag slae toegedien het.

In Suid-Afrika, met sy omvang van korrupsie, en die feit dat handelsmisdaad jaarliks met 10 % toeneem, is so ‘n stelsel vir die voorsienbare toekoms ondenkbaar. Trouens, die VSA werk deurlopend hard aan die toestop van skuiwergate om Kongreslede te laat swig voor die geleenthede wat koukus-onverbondenheid bring.

Sowat ‘n jaar gelede het Rhoda Kadalie ‘n artikel geskryf waarin politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis genoem word. Dit word geïlustreer deur die bykans volledige onbewustheid van Suid-Afrikaners oor die politieke afvalligheid in Suid-Afrika van internasionale verwikkelings, soos dit in Skotland, Nederland, België, Finland, Kanada en die VSA manifesteer om maar ‘n paar te noem. Hoeveel Suid-Afrikaners dra byvoorbeeld kennis daarvan dat Skotland oor 5 jaar volgens huidige verwikkelings weer ‘n onafhanklike staat kan wees? Hoeveel Suid-Afrikaners dra kennis daarvan dat die Liberale Party in Kanada, wat eens vir die vorige Suid-Afrikaanse regering soveel grys hare besorg het, in die jongste verkiesing bykans tot irrelevansie gekrimp het?

Die werklikheid is dat Suid-Afrika steeds sowat 30 jaar agter is. Die politieke dam is aan sy humanistiese kant – die liberaal- en sosiaal-demokratiese, totaal oorbevolk, terwyl die res, waar ‘n mens normaalweg soos in Europa die Christen-demokrasie sou aantref, is in wese onbevolk. Trouens, in Europa kom Christen-demokrasie nou ook al onder druk, maar nie vanaf die liberaliste nie. Dit kom uit die geledere van polities-konserwatiewe partye.

Die uitkristalisering van ‘n tweepartybedeling in Suid-Afrika is eerder ‘n tragedie as bate. Hopelik dui dit op ‘n spontane teenreaksie op die onnatuurlike beergreep wat die ANC op die politieke toneel het, en dat dié se steun min met beleid of prestasie te make het. Kiesers stem dus vir wat hulle as pragmaties beskou, eerder as beginsels. Hulle leen, as’t ware om Helen Zille se oproep te gebruik, hulle stemme vir die DA. Wanneer die onnatuurlike situasie verby is, sal hulle vermoedelik weer vir hul beginsels stem.

Die ander moontlikhede hoekom die DA soveel van die nispartye se steun opgeslurp het is die groei van beginselloosheid – ook oor sake van godsdiensbelang, of ontsaglike politieke en staatkundige oningeligtheid.

In gisteraand se Kommentaarprogram op RSG is juis versoberend gemaan dat die DA langs hierdie weg nie veel verder hond-haaraf gaan maak nie. Die deelnemers het daarop gewys dat die DA nog verder sosialisties sal moet neig, en dat dit sy konserwatiewer kiesers sal moet opoffer. Gegewe die feit dat die DA reeds die Freedom Charter met sy grondgryp-metodiek en nasionalisering van banke en myne omarm, en die nalatenskap van Nelson Mandela wat kommuniste in sy kabinet ingesluit het opeis, is nog verdere sosialisme-neigings moeilik om in te dink. Dit het juis reeds die ID, wat nog kort gelede homself as liberaal-soasialistiese party beskryf het, opgeneem.

Die Afrikanerbond het die naweek ‘n verklaring uitgereik waarin die Menseregtekommissie looi omdat dié woord breek en voete sleep rondom die klagtes van haatspraak wat die AB en honderde ander groepe en individue teen Julius Malema gelê het. En die politieke partye wat hierdie Malema-vasvat-sentimente ondervang tel nié onder die partye wat nou grootskaals Suid-Afrikaners se steun gekry het nie.

‘n Tweepartybedeling is ‘n ernstige terugslag vir demokrasie in Suid-Afrika.

Herman Toerien

2 Responses to Tweepartybedeling: Demokrasie of nie?

  1. Herman

    Mei 23, 2011 at 7:02 am

    Uiteraard is die artikel onvolledig in die sin dat dit eintlik ‘n verhandeling moes wees. Daar is bv die hele kwessie van “vakansietydperk” waar alles nog op die vorige bedeling gepak kan word, wat gewoonlik so tien jaar, of dan drie verkiesings hou. Hier klaarblyklik langer. Die beste nalatenskap van ‘n staat se liberale fases (onthou u die Joop den Uyl-era, bv) is dat aspekte soos veelpartydemokrasie en ‘n handves van menseregte so verskans raak, dat dit daarna, wanneer die konserwatiewer reaksie intree (mense raak later sat vir sex shops op stratahoeke ens), daardie aspekte nie meer in gedrang kom nie.
    Ons volg nie dié patroon nie. Ons is in die oorhoofse terme so ‘n 30 jaar gter die westerse wêreld, maar die indruk word geskep dat ons op die voorpunt is.

  2. knorpatat

    Mei 23, 2011 at 6:05 am

    sou dit nie meskien ‘n kurwe wees waardeur enige demokratiese land deurgaan nie. Party net langer as andere?