Subscribe by Email

Twee Kersfeesstories met ‘n glimlag

Kersgeskenk op bêk ôrder

Die driejarige Kallie se beentjies wat onder sy kort broekie uitsteek, woer behoorlik soos hy by ma probeer byhou terwyl sy die laaste inkopies voor Kersfees doen.

Gewoonlik kan Kallie nie met beloftes van roomys en tjips omgepraat word om saam met ma dorp toe te gaan as ma inkopies doen nie. Die baie rapsies op die handjies oor alles waaraan hy wil vat, die lang wag terwyl ma skoene aanpas, die lang staan in die toue by betaalpunte, en ‘n brandboud of wat as hy van verveeldheid wegraak…alles dra by tot die kopskuheid.

“Ons moes hom eintlik ‘Groot Speld’ gedoop het,” beduie ma gereeld as Kallie so tussen neus en ore soek raak.

Maar dis amper Kersfees. Trouens, vanaand bring Kersvader die geskenke, en Kallie is saam met die hoop om iewers vir Kersvader raak te loop. So met die deurry deur die dorp het hy die afgelope paar dae elke keer vir Kersvader gesien. Soms werk sy koppie kliphard hoe Kersvader dit regkry om so gou van een plek na ‘n nader te beweeg.

“Toorwerk,” het Kallie se pa geantwoord terwyl die twee koöperasie toe gery het. Pa is ‘n man vir min woorde, en Kallie gaan graag saam koöperasie toe. Daar is altyd iets waaraan hy hom verwonder, en hy mag maar op die groot, splinternuwe trekkers klim sonder dat iets iewers aan sy lyfie aan die brand gaan. Trouens, die bestuurder haal gereeld vir hom ‘n paar droppe uit ‘n glashouer, en Kallie kom dan met ‘n swartgesmeerde gevreetjie by die huis.

Die koöperasie het net een nadeel, Kersvader is nooit in die omgewing nie.

“Daar’s hy!” gil Kallie toe hy Kersvader sien, en hy begin dadelik aan ma se hand te trek, sy ogies vasgenael dat die ou karnallie nie dalk toorkrag inspan voor hy, Kallie, nie kans gekry het om by hom te kom en die uiters belangrike boodskap af te gee nie. Ma laat haar saamsleep. Sy meen ook sy is veilig, want Kallie het geen geheim gemaak van wat hy alles verlang nie – alles beskeie soos ‘n Spiderman en ‘n klimtol, en dis alles reeds toegedraai vir buurman Jan de Bruin om vanaand as Kersvader te bring.

Maar Kallie verras sy ma, en Kersvader weet ook nie mooi hoe om die verleentheid weg te steek nie: “Kersvader, ek het gevergeet, ek wil baie asseblief, asseblief ‘n bababoetie hê!” Van die omstanders giggel, en een ongepoetste winkelassistent lag kliphard. Kersvader soek verleë na ‘n antwoord.

Maar dan let hy op. Kallie se ma glimlag breed, sy beduie na haar magie wat boep maak, en toe met die duim na bo. Duidelik gaan Kallie ‘n bababoetie kry, maar hy sal eers bietjie moet wag. Hy beduie so aan Kallie.

“O,” gaan die lig vir Kallie aan wat mos gereeld saam met pa by die koöperasie kom, “hy is op bêk ôrder.”

Uit die mond van die suigeling…

Herrie se kerrie
Die dag toe Kersvader sy baard aan die brand steek
deur Herman Toerien
ALLES was gereed vir Kersfees. Hier vroeg in die nuwe jaar sou Pa en Ma vir die sesjarige Veronica die slegte nuus breek dat daar geen Kersvader is nie, want Veronica gaan aanstaande jaar skool toe en die ouers wil nie hê die maatjies moet haar straks spot nie.

Maar hierdie Kersfees is nog vir oulaas ‘n regte een met Kersboom en Kersvader. Ma, Veronica en die driejarige tweelingsussies, Bianca en Madré, werk al weke lank om alles in orde te kry vir Kersaand.

Selfs ‘n ete soos min word vir Kersvader aangelê, want, verduidelik Veronica, dis ver van die Noordpool af en Kersvader sal al baie moeg en honger wees.

Sy het immers al met vorige Kersaande gesien hoe Kersvader aan die kossies kan weglê.

Want oom Koos wat al ‘n paar jaar vir Kersvader instaan, het nie daai bierpens gekry van min eet nie. Trouens, Veronica is al so geleerd oor Kersvader dat sy al ‘n ensiklopedie sou kon skryf as sy al kon skryf.

Maar die oggend van die 24ste begin al die planne skeeftrek. Dit begin reën.

Eers is niemand bekommerd nie, trouens baie bly, want dit is droog. Later stortreën dit, en die SMS’e begin vlieg, want die telefoonlyne is af en die kinders kan alles hoor wat oor die tweerigtingradio gesê word.

Eers word die planne net aangepas. Pa en Ma diep ‘n ou Kersvaderpak uit die kas op, want oom Koos kan nie dié weer op ‘n trekker met sy Kerspak aandurf nie.

Ma besluit die baard is te gekoek, en spuit haarset aan en kam dit mooi uit. Die Kersvaderuitrusting word tussen die oorpakke in die melkstal gehang, en van toe af moet die glimlaggende melkers buite reikafstand van die spantou bly, want Pa is iesegrimmig.

Toe kom die regte slegte nuus. Van die reënery het oom Koos nou ‘n hoes en die tante sê aikôna, g’n niks trekker-ryery in die reën nie. Met die spruite wat al vol loop, is dï t al manier.

Synde Pa nie ‘n pens soos oom Koos het nie, word ‘n kussing ook melkstal toe gesmokkel.

Kort voor Kersvader met sy slee, aldus Veronica, op die huis se dak sou land, word die SMS ontvang dat daar ‘n jakkals by die skape is, en Pa is vort.

Teen daardie tyd het Veronicalankal verklaar dat die weerstoestande van so ‘n aard is dat Kersvader nie met die koets en Swarte Piet die geskenkaflewerings sou doen nie.

Pa is skaars in die Kerspak, toe gaan die krag uit. In die huis, sien hy, word kerse aangesteek. Die Lister loop al jare nie, en in daai reën gaan dit ook nie help om hom aan die loop te probeer kry nie.

Pa durf die reën aan, en val behoorlik met die sak geskenke in die huis.

Die geskenkuitdelery by kerslig verloop goed. Veronica verduidelik van Pa wat moes gaan jakkalsjag. Toe word aangesit. En dis waar dinge weer verkeerd loop.

By geleentheid moet Kersvader ‘n bietjie oorleuen om te help kalkoen sny, toe die baard te na aan ‘n kers kom. Ma se haarsproei laat dit soos petrol brand. Kersvader ken toe ‘n paar woorde wat die meisietjies dog net Pa ken as hy met die trekker-enjin sukkel.

Pa laat waai na buite, waar hy die brandende baard onder ‘n geut druk, en verkas na die melkstal toe.

‘n Rukkie later is hy terug van sy jakkalsjag af. By die huis tref hy sy dogters ontroosbaar aan, want, verduidelik Veronica, hulle het nou dié Kersfees vir seker honderde ander kinders, by wie Kersvader nog nie was nie, verongeluk.

Ma is dik van die lag, maar steek dit weg.

Pa kry ‘n blink gedagte: “Nee wat, teen dié tyd het Kersvader lankal vir Swarte Piet gestuur.”

Herman Toerien