Subscribe by Email

Turkye en Frankryk verbreek bande oor ‘n gebeurtenis byna ‘n eeu gelede

Turkye het pas alle bande met Frankryk verbreek en onder meer aangedui dat dit ernstige gevolge vir die toekoms van Navo, waarvan Turkye ‘n lidland is, inhou. Frankryk het die “sonde” begaan deurdat die parlement ‘n wet aanvaar het wat die ontkenning van volksmoord, spesifiek dié op die Armeniërs, strafbaar maak.

‘n Klip in die maag vir Turkye – die Armeense volksmoord wat tussen 1914 en 1918, met “hoogtepunt” in 1915 plaasgevind het. Na raming het tussen een miljoen en een ‘n half miljoen Armeniërs destyds op verskeie maniere omgekom, waarvan die berugte doodsmarse na nuwe woonplekke die bekendste is.

‘n Volksmoord wat die Turkse regering en die meeste van sy Turkse inwoners ontken – amptelik en op alle ander maniere. Die Turkse opgetekende geskiedenis is skoongestroop hiervan, en optrede teen die media wat hierna durf verwys, is grootliks die oorsaak dat Turkye 138ste uit 178 lande op die persvryheidsindeks voorkom.

Dié volksmoord het egter honderde duisende Armeniërs in diaspora laat gaan, met sowat ‘n halfmiljoen wat hulle in Frankryk alleen bevind. Hulle is egter dwars oor die wêreld in beduidende getalle teenwoord, soos die VSA, Wes-Europese lande, Iran, Sirië, Libanon en Siprus – waar die Armeniërs ook ‘n gewaarborgde setel in die Grieks-Sipriotiese parlement het.

Die Armeniërs is Christene in ‘n omgewing wat grootliks deur Moslems oorheers word. Afgesien van die oorspronklike Armenië wat hoofsaaklik Noordoos Turkye beslaan het en waarvan die piepklein staatjie Armenië ‘n oorblyfsel is, was daar ook in ‘n stadium ‘n tweede Armeense staat – ‘n eksklawe, aan die kus van die Middellandse See. Hierdie staatjie het aan die kruisvaarder-rykies in die teenswoordige Libanon en Israel gegrens, en dié staatjie het die kruisvaarders dikwels logisties en andersins ondersteun. Die adel in hierdie staatjie het ook noue bande met die Franse adelstand gesmee, en verklaar in ‘n mate die hegte bande tussen Frankryk en die Armeniërs.

Die “egte” Turke wil niks daarvan weet dat die volksmoord plaasgevind het nie, en nog minder dat dit ‘n beplande aksie was. Dié oortuiging is so diep gevestig dat mense van Turkse afkoms wat in Nederland tot die parlement verkies is, al hul setels opgegee het omdat hulle weier om die volksmoord te erken.

Daarteenoor is Armeniërs dwars oor die wêreld besig om ‘n groot herdenking te beplan wanneer die eeu-herdenking oor enkele jare plaasvind. Dit lê vir Turkye soos ‘n berg voor en sensitiwiteit hieroor is te verstane.

Hoewel die volksmoord van die Armeniërs die bekendste is, is dit nie die enigste nie. Ook die Christen-Assiriërs is aan sulke dwangmarse en ander vorme van uitdelging onderwerp, terwyl min of meer dieselfde lot die Koerde, meestal Moslems, te beurt geval het.

Hierdie volksmoorde se slagoffers was meestal Indo-Germaanse volke, terwyl die Turke ‘n meer oosterse herkoms het. Dit is dus pikant dat die Turkse regering die Franse parlement met sy jongste wet van rassisme beskuldig.

Oor die jare het Turkye met wraakaanvalle te make. ‘n Dekade gelede het die Armeense groep, Asala (Armenian Secret Army for the Liberation of Armenia) verskeie aanvalle op Turkse diplomatieke sendings en die Turkse lugdiens uitgevoer. Hoewel dié aanvalle opgeskort en Asala amptelik ontbind het, is die doel bereik dat almal wat nog nie van die Armeense volksmoord geweet het nie, toe wel daarvan kennis geneem het.

Koerdiese terreur, soos die doodskiet van soldate en polisie, kom steeds gereeld voor, en ‘n taamlike groot Turkse mag wat pantservoertuie gerugsteun deur vliegtuie insluit, het Irak se Koerdistan onlangs binnegeval om Koerdiese basisse van waar aanvalle geloods word uit te wis.

Frankryk se nuwe wetgewing is maar deel van ‘n reeks soortgelyke wette wat deur Wes-Europese state aangeneem word. Dit word as meer simbolies van aard beskou, onder andere dat die gedagte dat die Nazi’s se volksmoord op die Jode ‘n mite is, nie veld wen nie, en nog minder dat skuldiges aan volksmoord ‘n soort helde-status verwerf.

Armeniërs in besonder, is ook meester “lobbyiste”.

Die implikasies van die Turks-Franse breekspul kan nie onderskat word nie. Turkye wil graag lid van die Europese Unie word, en so is die lot van die Koerde al aansienlik verlig onder die EU se voorwaardes wat as druk op Turkye uitgeoefen word. Die Armeense kwessie is egter nog altyd op ‘n laer intensiteit gedryf, onder meer omdat daar nog min Armeniërs in Turkye oor is, en die meeste onder Turkse druk verturks het en ook die Islam aangeneem het.

Daarenteen is Turkye ‘n baie strategiese Navo-lidland, veral omdat dit die enigste Moslemstaat is in ‘n omgewing waar Navo se optrede baie maklik as anti-Islamities beskou word.

Soveel is op die spel dat dit byna ondenkbaar is dat die probleem nie sommer gou-gou op ‘n manier geskik sal word nie. Uiteindelik sal dit waarskynlik bloot ‘n diplomatieke woorde-oorlog wees wat stil-stil sal oorwaai en op die rakke sal stof vergaar.

Maar die eeu-herdenking van die volksmoorde kom onverbiddelik nader, en daar is genoeg aktiviste en pasifiste wat sal sorg dat daardie herdenkings behoorlik onder die aandag van die wêreld sal wees. Die volgehoue Turkse ontkenning help nie om die angel daaruit te haal nie.

Herman Toerien