Subscribe by Email

Tuintake vir Januarie

hibuscus

Gee jou tuin dié maand genoeg water en kos en beplan solank jou lentetuin.

[divider]

Versorg jou grasperk
Hier is ’n paar wenke om jou grasperk dié somer op sy beste te laat lyk:

• Stel jou grassnyer se snyhoogte ’n goeie 25-50 persent hoër; langer grashalms moedig die ontwikkeling van diepliggende wortels aan en gooi meer skaduwee oor die grond.
• Sny jou gras gereeld, maar moet nooit meer as een derde van die halmlengtes op ’n slag verwyder nie. Sodoende word die ontwikkeling van dieper wortels aangemoedig, wat belangrik is vir grasperk-gesondheid tydens die warm somermaande.
• Maak jou grasperk laataand of vroegoggend nat – gee genoeg water sodat dit die grond diep binnedring. Die meeste grasperke benodig sowat 3 cm reën of besproeiing per week. As jy jou grasperk gereeld net ’n bietjie water op ’n slag gee, sal dit die ontwikkeling van vlak wortels aanmoedig – dié wortels kan nie die gras van die vog voorsien wat hulle gedurende die warmer tye nodig het nie. Gee eerder jou gras minder gereeld, maar langer aaneen water om die ontwikkeling van diepliggende wortels aan te moedig.
[divider]

Algemene tuinsorg
In Januarie vind daar baie groei in jou tuin plaas. Jy behoort dié maand die volgende te doen:

• Snoei die laerliggende takke van bome om lig deur te laat vir skaduliewende plante.
• Maak rankers wat té dig groei of nie blom nie, netjies met ’n skerp, steriele tuinskêr.
• Beskerm die grond teen die somerhitte deur ’n 5 cm-deklaag oor jou blombeddings te strooi – gebruik kompos, bassplinters of dennenaalde.
• Gee elke roosboom ’n hand vol rooskos en maak dit dan goed nat. Moenie die grond rondom jou roosbome in die hoogsomer loswerk nie, want dit kan die plante beskadig. Strooi ’n dik laag kompos om elke boom en maak dit elke vier tot sewe dae goed nat.
• Hoewel japonikas in die winter blom, vorm hul blomknoppe reeds in Januarie. Gee hulle een keer per week water, want as die wortels uitdroog, sal die blomknoppe ophou ontwikkel en afval. Keer dat die wortels uitdroog deur ’n deklaag van 4-5 cm te strooi.
• Meerjariges soos kannas, dahlias en agapante moet gereeld natgemaak word in droë weer. Strooi ’n hand vol algemene kunsmis rondom elke kanna en voed dahlias met ’n vloeibare misstof; maak die plante dan deeglik nat.

Wenk van die maand
Waak daarteen om jou petunias, angeliere en Geraniums te veel water te gee as dit baie warm is – dié plante vrot maklik as hulvoete te nat is.

Hou rankplante soos bougainvillea in toom deur dit gereeld met ’n skerp, steriele snoeiskêr te knip.
[divider]

Beskerm jou grond teen die ergste hitte met ’n goeie deklaag soos kompos, bas of dennenaalde.
[divider]

Plant dié maand

Hanekamme
Hanekamme (Celosia) spog met lieflike blomme in vrolike kleure soos oranje, geel, brons, rooi, pienk en purperrooi. Dis ideaal vir houers of gemengde beddings in ’n randakker,en sal jou tuin ’n treffende kleurinspuiting gee. Dié plante kan baie direkte sonlig hanteer en het min sorg en water nodig wanneer dit eers gevestig is. Dis gehard en windbestand, wat dit perfek maak vir tuine wat aan sterk winde blootgestel word, soos in die kusstreke. Hanekamme kan suksesvol in alle dele van die land gekweek word. Dit vaar veral goed in komposverrykte grond wat goed dreineer, en as dit af en toe moet ’n gebalanseerde wateroplosbare misstof gevoed word.
[divider]

Hibiskus
Hibiscus rosa-sinensis floreer in sonnige subtropiese gebiede soos KwaZulu-Natal en rypvrye dele soos Limpopo en Mpumalanga waar hulle tuiniers feitlik heeljaar met ’n kleurskouspel beloon. Hulle vaar ook verbasend goed in die Oos- en Wes-Kaap as dit teen soutbelaaide winde beskerm word. Hibiskusse hou nie van ysige winde nie; as jy dié struik dus in die koue provinsies in die binneland wil kweek, moet jy dit in ’n warm mikroklimaat (’n 2-3 m-sone langs ’n muur wat noord of noordwes front) plant. In dié beskutte omgewing sal die sonskyn en warmte wat deur die muur geabsorbeer word, ’n matige lugtemperatuur rondom ’ngevestigde hibiskus handhaaf.

Gee jou hibiskus gereeld water, veral as dit nuut geplant is.