Subscribe by Email

Tuinmaak wenke vir Junie

AloesJacques van Niekerk van Safari Tuinsentrum gee nuttige wenke vir ‘n kleurvolle wintertuin

Junie is ‘n luilekker maand in die tuin. Jy kan ontspan en konsentreer om die lewegewende sonstrale toe te laat om jou winterlyf salig op te warm. Daar is minder om te doen as gewoonlik, so geniet die anderse skoonheid van hierdie koue maand. ‘n Tuin is egter ‘n lewende organisme wat steeds sekere onderhoudstake verg.

Maak die meeste van plantdormansie

Plante is nou dormant en verkeer in ‘n rusfase. Maar nie alle plante rus nou nie en plante uit die winterrëenvalstreke het juis nou genoeg water nodig. Magnolias, Kamelias, Cymbidiums, vrugtebome, blomsaailinge en groente in seisoen moet soos gewoon water kry. Onthou gevriesde grond in baie koue areas stel geen water vry nie. Grasperke kan maandeliks natgegooi word, behalwe immergroen, koueseisoengrasse wat weekliks water benodig.

Gebruik die rusfase tot jou voordeel deur juis nou geharde en semi-geharde plante te plant. Met die flouerige sonnetjie word waterverlies tot ‘n minimum beperk, asook oorplantingskok. Net so is dit nou die tyd om plante wat op die verkeerde plek geplant is, te verplant.

Probeer om so ver as moontlik van die plant wat jy wil uitgrawe se stam te begin grawe. Hoe groter die wortelbal wat behou word, hoe beter. Moenie die grond rondom die plant nat maak nie anders val al die grond van die wortelbal af. Die nuwe plantgat moet groot genoeg wees om ekstra grond en kompos rondom die wortelbal toe te laat. Plantgate moet eerder wyer as dieper wees.

Plant die plant op presies dieselfde diepte weer terug. Veral bome vrek maklik indien hulle te diep geplant word. Meng beenmeel met die plantgrond en kompos om vinnige wortelvorming aan te moedig.

Verwyder onwettige indringerplante

Dit is ook die perfekte tyd om onwettige indringerplante in jou tuin te identifiseer en uit te roei. Neem voorbeelde na jou tuinsentrum vir identifikasie en doen navraag oor moontlike plaasvervangers.

Plant kleur

Die invloed wat kleur op die menslike psige, gedrag en welstand het, is ‘n wetenskap wat ons net begin verstaan. Kleur is ‘n onderwerp wat altyd hierdie tyd van die jaar na vore kom en gewoonlik in die vorm van ‘n gekerm oor die vaal, kleurlose en droewige winter.

Hierdie tipe praatjies het ‘n invloed op hoe jy voel en almal sit en wag met reuse verwagting op die lente, want dan gaan ons beter voel. Alles wat die winter ‘n wonderlike, spesiale tyd maak word vernietig deur die onjuiste siening dat dit vaal en dood is.

Het jy geweet dat die kleur en veral die blomplantjies wat in die winter beskikbaar is en geplant word by verre kleurvoller is as dié van die somer?

Petunias word in massas in warm sonnige beddings geplant. Hulle floreer in die kouer, droër maande en blom so sterk dat hul blare nie eers sigbaar is nie. Gesiggies en viooltjies is gemaak vir nou. Hulle is dankbaar, gehard en veelsydig. Papawers verdien ook nie die min aandag wat hulle kry nie. Die delikate papieragtige blomme op lang elegante stele kom broos voor, maar vreemd genoeg is dit die plant wat ek gebruik in sukkelareas waar min water, wind en wisselende ligtoestande ander plante knou.

Plant van die maand

Aalwyne is ongetwyfeld dié plante wat die meeste aandag in die winter trek. Hulle kan die rol vervul van statige fokusplante, potplante of kleurvolle grondbedekkers. Die verskeidenheid is groot en met hul stylvolle, argitektoniese voorkoms is daar plek in van die modernste kontemporêre ontwerpe tot inheemse natuurtuine. Aalwyne is gehard en bestand teen droogte.

Ons het ‘n pragtige verskeidenheid aalwyne om van te kies waaronder nuwe kruisings en skaars soorte. Kom kyk gerus en maak seker dat jou tuin ten minste een van hierdie trotse plante in het.