Subscribe by Email

Tsunami’s en pre-Columbiaanse besoeke aan Amerika

As ‘n argeoloog hom graag in kontroversie wil omhul, moet hy hom besig hou met bewerings oor besoeke uit die Weste – en selfs die Ooste – aan die Amerika’s voor Columbus voet aan wal gesit het.
Die meeste argeoloë stem deesdae saam dat die Vikings Noord-Amerika sowat ‘n duisend jaar gelede, dus 500 jaar voor Columbus, besoek het, en die eens “verlore” geskiedenis word stuk-stuk gerekonstrueer. Trouens, verlede jaar is die vyftigste herdenking gevier van die ontdekking van die oorblyfsels van ‘n Vikingnedersetting wat op die eiland New Foundland gevind is. Die interessantheid is dat dié nedersettings Christen-nedersettings was, nadat Lief Erikson, seun van die vermaarde Erik die Rooie, hom tot die Christendom bekeer het.
Nog ‘n moontlike besoek – en uiteindelike permanente verblyf was prins Mardoc van Wallis wat glo in 1170 na Amerika verhuis het. Die koning van Mali het ook het in 1311 geabdikeer en glo na Amerika verhuis. Later skryf Columbus tydens sy eerste besoek aan die Wes-Indiese eilande dat hy onder meer items van oorsprong Wes-Afrika van die inboorlinge geruil het. Ook as na die geskiedenis van voedoe in die Karibiese gebied gekyk word,lyk dit of daar spore verder teruggaan as die aankoms van Wes-Afrikaanse slawe.
Van die verhale gaan veel verder terug, bv Fenisiërs en Israeliete in die tyd van Salomo wat veral deur godsdiensgroepe uit die dampkring van die Israel Visie lewend gehou word, Egiptiese mummies wat tekens van kokaïne en nikotien bevat, stowwe wat eers veel later vanuit die Amerika’s aan die ou wêreld bekend gestel is, Romeinse munte wat in verskeie dele van die Amerika’s aangetref is, ander nog ouer munte soos ‘n munt uit Antiochië, en kontak vanaf China en Japan aan die ander kant van die kontinent.
Dit lyk redelik seker dat die Suid-Amerikaanse Indiane kontak met die Polinesiërs gehad het. Die hoeders wat die Inkas aangehou het, is geneties verwant aan dié van die Maori’s, die Polinesiërs het patats verbou wat van Suid-Amerika af kom, en vele ander voorbeelde.
Terwyl die romantiek van pre-Columbiaanse kontak dik loop, is die ernstige argeoloë nie beïndruk nie. Die nodige bewyse en verklarings ontbreek, met die uitsondering van die Vikings, doodgewoon.
Maar sou daar wel minstens sommige van hierdie kontakte gewees het, hoekom ontbreek die bewyse so?
Een verklaring – weliswaar diep in romantiek verweef – vir die effektiewe verdwyning van bewyse van pre-Columbiaanse kontak is tsunami’s. Anders as wat dikwels geglo word, is dit nie net die Amerikaanse weskus wat onder tusnami’s deurloop nie, maar ook die ooskus, hoewel minder dikwels, en selde van rampspoedige afmetings.
Die probleem is dat, anders as met die ou wêreld, min data bekend is oor pre-Columbiaanse tsunami’s. Die oudste Ou Wêreldse tsunami is bv vir 2 000 vC in Sirië aangeteken. Die oudste aangetekende Nuwe Wêreldse tsunami was in 1498 in Venezuela, dus na Columbus se “ontdekking” van Amerika. Die volgende was in 1525 in Peru. Daarna is tsunami’s aan die Oos- en Weskuste van beide Noord- en Suid-Amerika gereeld aangeteken.
Aan die Weskus van die VSA is die groot gevaar vir ‘n tsunami nie die bekende San Andreasfout nie, maar die Cascadia-sone in die see naby die kus. Hier beweeg die Juan de Fuca-plaat onder die Noord-Amerikaanse plaat in, en is die oorsaak van bv die vulkaniese uitbarstings by Mount St Helens. Dié fout is baie lank en strek van die noorde van die Vancouver-eiland tot Noord-Kalifornië. Dit het al, en kan groot aardbewings van magnitude 9 of meer veroorsaak. In 1700 het ‘n skudding van 9 hier voorgekom, en die gevolglike tsunami is in Japannese rekords aangeteken. Uit studies lyk dit of daar elke 500 jaar ‘n baie groot skudding (8 – 9) hier ontstaan. Sedert 1812 het 28 tsunami’s met ‘n kruinhoogte van meer as ‘n meter die weskus getref. Die groot Alaska-tsunami van 1964 het veral in Cresent City in Kalifornië baie skade aangerig. Trouens, dié nedersetting lyk of dit in die “bek” van die tsunami’s is en die topografie van die seebodem word hiervoor geblameer.
In 1775 het daar ‘n aardbewing van 9.6 naby die kus van Portugal plaasgevind en die tsunami het Lissabon byna geheel platgeveeg. Ook ander dele van die Europese kus en die Atlantiese kus van Marokko het skade en lewensverlies gelei. Groot skade is ook op die Asore aangerig, en dele van die kus van Noord-Amerika het ook skade gelei.
Die mees indrukwekkende tsunami was egter die Grand Banks-aardbewing van 1929, toe ‘n tsunami van tussen 2 en 7 meter veral die kus van New Foundland getref het, maar het ook spore tot so ver suid as Suid-Carolina gelaat.
Die vermoede is dat die Grand Banks-tsunami eerder die gevolg van ‘n ondersese grondverskuiwing was as die aardbewing (7.3) was. Verskeie van die potensiële aardbewingsones in die Atlantiese Oseaan is weens skerp hellings potensieel vatbaar vir groot grondverskuiwings. Sulke onstabiele gebiede kom onder meer voor aan die rand van die vastelandplat by Virginië en Noord-Carolina.
Die tsunami wat Japan onlangs getref het, het soms ‘n kruinhoogte van sowat tien meter gehad. Hoewel dit groot is vergeleke met die meeste tsunami’s wat die Amerika’s in die aangetekende geskiedenis getref het, tel dit nie onder die werklike grotes nie. Die tsunami wat Lissabon getref het, was byvoorbeeld na raming meer as ‘n 100 meter hoog. In 1908 is moontlik tot 200 mense dood toe ‘n tsunami die Italiaanse stad Messina byna uitgewis het.
Die 2004-aardbewing van 9.3 het ‘n tsunami van 25 meter hoog tot gevolg gehad wat rondom die Indiese Oseaan groot skade en lewensverlies veroorsaak het. Meer as 300 000 mense is dood.
In 1628 vC het ‘n reuse tsunami die oostelike Mediterreense See getref en verskeie beskawings, waaronder die Miseense uitgewis.
As is verbrande hout, maar volgens rekenaarmodelle sal ‘n mega-tsunami van ongeveer 80 meter hoog die Ooskus van die VSA tref en alles 20 kilometer die binneland in platveeg as die Cumbre Vieja-vulkaan op Las Palmas sou uitbars, en as dié skokgolf ‘n groot onstabiele deel van die eiland in die Atlantiese Oseaan se dieptes laat intuimel.
Ongelukkig is daar nie betroubare rekords oor tsunami’s wat die Amerika’s voor 1497 getref het nie, en kan daar geen sinvolle afleidings gemaak word oor die potensiële uitwerking wat tsunami’s op moontlike Nuwe Wêreldse kontak voor die aankoms van die Vikings nie. Word egter na die lys van bekende tsunami’s elders gekyk wat sedert 2000 vC aangeteken is, is dit bykans ondenkbaar dat die Oos- en Weskus van die Amerika’s nie ten minste een verwoestende tsunami oor dieselfde periode sou beleef nie.
En selfs is die nuwe aankomelinge nie self in die tsunami daarmee heen nie, kan ‘n mens dink hoe so ‘n tsunami ontmoedigend op die antieke seemanne sou inwerk om die terugtog aan te pak.
Word die geskiedenis en die argeologie verder met romantiek ingekleur, kan selfs verklaar word hoekom daar nie later spore van tipiese lasdiere soos skape en beeste was nie. Mouflons wat later uit die Ou Wêreld ingevoer is as jagtersprooi, het gou met die inheemse longhorns verbaster. Dieselfde kon met skape gebeur het. Die Amerikaanse bison, veral die vlaktebison-subspesie, het sowat tien persent gewone beesbloed in.
Die Inkas het steeds hul hoenders wat hulle van die Polinesiërs gekry het en wat nie met ‘n inheemse voël soos die kalkoen kon kruis nie.
Maar dit is die soort “geskiedenis” waarmee die romantici hulle ure lank besig kan hou as die naakte werklikheid nie meer interessant genoeg is nie. En dikwels word die verlede met ‘n tandeborsel se geduldige gekrap uit die grond- en kliplae gerekonstrueer – maar dit verg tyd en geduld – baie geduld. En die romantiek laat hom nie daardeur inbind nie.
Herman Toerien