Subscribe by Email

Trump en Obama het vandag vergader in Withuis

trumpDie nuutverkose Amerikaanse president Donald Trump het vandag by die Withuis aangekom om die oordrag van mag met president Barack Obama te bespreek. Hy word vergesel deur sy vrou, Melania, wat met die presidentsvrou, Michelle Obama, sal vergader.

Dit sal na verwagting ‘n moeilike vergadering wees ná jare se spanning tussen die twee. President Obama wil egter hê Amerikaners moet nou sy opvolger ondersteun.

Dit kom te midde van duisende betogers wat die strate ingevaar het om teen die uitslag van die verkiesing te betoog. Trump het intussen reeds ‘n lys van potensiële kabinetslede saamgestel. Op die lys verskyn glo die name van die voormalige burgemeester van New York, Rudolph Giuliani, die goewerneur van New Jersey, Chris Christie en die voormalige speaker, Newt Gingrich.

Ontleders sê die VSA sal waarskynlik nie sy beloftes nakom ingevolge die Parys-ooreenkoms om kweekhuisgasvrystellings te verminder nie. Hulle het kommentaar gelewer tydens die VN-gesprekke oor klimaat in Marrakesj in Marokko. Hulle sê in ‘n verslag dat die Amerikaanse kweekhuisgasvrystellings waarskynlik oor die volgende 15 jaar stabiel sal bly en die optrede van die verkose Amerikaanse president, Donald Trump, is nie op die oomblik ‘n faktor nie. Trump is op rekord dat hy nie glo dat klimaatsverandering plaasvind nie.

Intussen het die rand meer as vier persent van sy waarde teenoor die Amerikaanse dollar verloor namate beleggers ná Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse verkiesing, na ontwikkelde markte teruggekeer het. Die rand het tot 14 rand dertig teenoor die dollar verhandel, die swakste koers sedert 21 Oktober. ‘n Valutahandelaar van Treasury One, Wichard Cilliers, sê die geldeenhede van alle ontluikende markte het verswak namate die dollar versterk het.