Subscribe by Email

Trou is nie perdekoop nie


 

KAAPSTAD – ’n Dominee in KwaZulu-Natal moes onlangs ontdek al die huwelike van die afgelope 20 jaar wat hy bevestig het, was nooit geregistreer by die Departement van Binnelandse Sake nie.

Hierdie rompslomp in die staatsdiens kan meebring dat gelowiges in die toekoms tweemaal sal moet trou – eers voor die landdros en dan weer in die kerk.

Die NG Kerk se amptelike koerant Kerkbode berig baie predikante sit met hulle hande in die hare oor nuwe prosedures wat hulle moet volg om huwelike geregistreer te kry.

Die Departement van Binnelandse Sake verwag dat huweliksbevestigers die afskrifte van die huweliksregister nie meer met openbare pos na die departement sal stuur nie. Hulle moet dit nou self fisies inhandig by die kantoor waar hulle geregistreer is.

Die NG Kerk se parlementêre woordvoerder, dr Ben du Toit (foto), sê dit skep vir baie predikante enorme probleme. “Nie net as gevolg van groot afstande wat soms afgelê moet word nie, maar baie kantore is moeilik bereikbaar. Dikwels is daar ook sekuriteit en ander probleme by sommige van Binnelandse Sake se kantore wat tot konfliksituasie aanleiding gee.

Dr Du Toit het aan Kerkbode gesê indien daar nie binnekort ʼn bevredigende reëling van die Departement Binnelandse Sake ontvang word nie, sal dit hom nie verbaas as sommige predikante vrywillig afstand doen van hulle reg om ʼn staatkundige huwelik te bevestig nie.

In daardie geval sal die predikant ’n huwelikspaartjie, wat in die kerk wil trou hulle waarskynlik versoek om eers ’n staatlike huwelik aan te gaan voor ’n landdros, voordat die kerklike seremonie voltrek word.

Dr Du Toit sê dit is nie die kerk wat nou weer ewe skielik ʼn ding aan die gang gesit het nie. “Daar het in die loop van verlede jaar ’n klagte van ’n gemeente uit een van ons Noordelike sinodes by die NG Kerk se Parlementêre Lessenaar uitgekom dat die huwelike wat hulle voltrek, nie by die Departement van Binnelandse Sake geregistreer word nie.”

Kort daarna is nog klagtes ontvang soos die een in KwaZulu-Natal.

Na samesprekings tussen die NG Kerk en die Departement van Binnelandse Sake is gesamentlik ooreengekom huweliksbevestigers die afskrifte van die huweliksregister nie meer met openbare pos na die departement sal stuur nie, maar fisies sal inhandig by die kantoor waar hulle geregistreer is. Du Toit sê die NG Kerk praat die week weer met die departement oor die aangeleentheid. Hy sê hulle sal die departement eerstehands inlig oor huweliksbevestigers se frustrasies by die departement se kantore.

Du Toit sê die hele aangeleentheid skep natuurlik die onderliggende teologiese vraag wat konstateer ’n huwelik volgens die kerk? Is dit eers ʼn huwelik as albei aspekte daarvan nagekom is, of net as die kerklike deel voltrek is?  Du Toit het aan Kerkbode gesê dit is dié soort van vrae wat die kerk homself sal moet afvra – en dis deel van die opdrag aan die Algemene Sinode se Taakgroep oor leer en aktuele sake (ATLAS) om onder andere te kyk na die kwessie van saamwoon.

3 Responses to Trou is nie perdekoop nie

  1. Tharina

    Januarie 19, 2015 at 10:32 am

    Ek wil in die hof trou,hoe doen ek dit asb.

  2. Tinus Prinsloo

    Julie 2, 2010 at 10:39 am

    Ons het verskeie kere die Amptenare van Binnelandse Sake gaan spreek, maar steeds geen erkenning van die dokumentasie oor die huwelik tussen my seun Jacques L Prinsloo en sy vrou Nicolette Putter op 5 Desember 2009 nie. Volgens die Departement is hulle nogsteeds ongetroud, want hulle beweer dat hulle het geen dokumentasie van Ds Joekie Laas (die huweliksbevestiger)ontvang het nie!! Hy het hulle persoonlik gaan spreek, sonder resultate.

    Hoe kan die saak verbeter word?

  3. Annette

    Maart 16, 2010 at 5:30 am

    In berig:Hierdie rompslomp in die staatsdiens kan meebring dat gelowiges in die toekoms tweemaal sal moet trou – eers voor die landdros en dan weer in die kerk.

    Miskien moet die kerk weer oor die sakie gaan dink. Miskien moet die huweliksbevestiging eers in die kerk wees, en dan by die dept Binnelandse sake, want anders gaan alle paartjies voor die kansel staan en trou aan mekaar voor God sweer, en hulle het alreeds binne die staatshuwelik seks gehad.
    Aan die anderkant, hoekom ‘n klomp geld spandeer op ritueel, klere, blomme en onthaal in en na die kerktroue, as die huweliksertifikaat klaar in die sak is?

    Kan die kerk dan nie maandeliks ‘n trousondag hê (soos ‘n doopsondag) waar alle paartjies wat huweliksertifikate in die vorige 4 – 5 bekom het, en ‘n kerkshuweliksformulier voorgelees kry nie?

    Annette