Subscribe by Email

Treurgrond: Plaasmoorde skrei ten hemele

“Dit skrei ten hemele!”

“Die omvang van nodelose geweld op plase het ontaard in ’n nasionale ramp. In plaas van openbare veroordeling deur die owerheid, heers daar ’n dawerende stilte terwyl daar terselfdertyd met gewaande arrogansie vinger gewys word na boere asof hulle die sondebokke is waarop die kollektiewe skuld van so baie ander gepak kan word. So asof daar van van ’n krimpende getal kwesbare voedselprodusente verwag word om benewens die feit dat hulle ’n groeiende getal mense moet voed, ook sonder murmerering teistering van die ergste graad moet verduur.”

Aan die woord is medeskrywer van Treurgrond en assistent-hoofbestuurder van TLU-SA, oud-generaal Chris van Zyl, wat sy eie indrukke met Ditsem Vrystaat gedeel het.

Treurgrond is die te boekstelling van 1 363 gruwelike plaasmoorde in Suid-Afrika die afgelope 20 jaar. Treurgrond se ander medeskrywer is dr. Dirk Hermann van Solidariteit. Hermann se oom was ook ‘n onlangse slagoffer van ‘n plaasmoord.

“Met die samestelling van “Treurgrond” het ek en Dirk gehoop dat ons iets van die hartseer, die leemte en die trauma van hulle wat geliefdes aan die dood as gevolg van plaasaanvalle moes afstaan, sigbaar kon maak – al was dit net om die omvang daarvan opnuut te verpersoonlik – dat ons ook vir hulle wat met die sigbare en onsigbare letsels van lafhartige geweld belas is, kan sê ‘Ons treur saam met julle’ met die hoop dat ander wat die boek onder oë neem, dit ook sal doen.

“Ek kon nie anders as om opnuut bewus te raak van die omvangryke opvoedingsfunksie wat op ons weg lê en wat ons nie kan ontsnap nie. Ons het dit nodig om weer onsself, maar ook in besonder ons kinders, te orienteer dat die kos waarvan ons elke dag afhanklik is, afkomstig is van ’n plaas waarop ’n boer vir homself en sy gesin ’n lewe probeer skep. Maar dit is selfs belangriker om opnuut te besef dat die eens idilliese plaaslewe lank nie meer ’n volhoubare en veilige bestaan beteken nie. Met die slagoffers van geweldsmisdaad wat vinnig tot onakkurate statistiek gereduseer word, is die onsekerheid oor grondbesit, diefstal, brandstigting, stygende insetkostes, betreding en minagting van privaat eiendom aspekte wat aandag verg en energie en kapitaal vreet.

“En dit alles terwyl produktiewe landbou se grootste kritici daagliks drie stewige etes in staatsgeborgde veiligheid geniet.”

* Die wins uit die boek gaan gebruik word om dit ook in Engels te vertaal, en internasionaal te versprei.

Herman Toerien