Subscribe by Email

Transnet-pensioenhofsaak: Vorderingsverslag

Die Vryheidsfront Plus het gister (19 Julie) met die regspan wat die hofsaak teen Transnet, die tesourie, die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) en die Transport Pensioenfonds (TPF) behartig, vergader. “Die aansoek vir die klasaksie teen Transnet en die twee pensioenfondse is in ‘n gevorderde stadium en ek is tans besig om die dokumente te bestudeer,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê. “Ons wag ook steeds vir inligting van die pensioenfondse om die aansoek te finaliseer. Die inligting behels die notules en finansiële state van die fondse vanaf 1994 tot en met die hede. Ons het aansoek daarvoor gedoen in terme van die Wet op die Bevordering van die Toegang van Inligting en het informeel verneem dat die inligting aan ons blootgelê gaan word. Dit is nie verbasend nie, aangesien daar volgens ons nie gronde is om die inligting te weier nie,” het Alberts verduidelik. “Die fondse het tot 6 Augustus om ons formeel in te lig dat die inligting beskikbaar is,” het Alberts verder gesê.

Die inligting sal dan gebruik word om die aansoek te finaliseer wat die indien van die aansoek bietjie uitskuif. Volgens Alberts moet die pensioenarisse ook besef dat in die regsproses, ten spyte van beraamde sperdatums, redelike vertragings kan plaasvind ten einde te verseker dat die aansoek wat geloods word waterdig is en dat Transnet, die tesourie en die fondse gedwing gaan word om die pensioenarisse se finansiële posisie te herstel. “Ons werk egter so vinnig as moontlik aan die saak gegewe die benarde posisie van die pensioenarisse,” het Alberts verseker. “Sodra die aansoek geloods word sal ons almal inlig en ook die openbare protesaksie van die pensioenarisse van stapel laat loop.”

Intussen het die VF Plus ‘n sms-skenkingslyn beskikbaar gestel vir diegene wat fondse wil skenk vir die kostes van die hofsaak. Persone kan ‘n sms teen die koste van R15 na 45509 stuur deur die kodewoord “Pensioenaris” te tik.

One Response to Transnet-pensioenhofsaak: Vorderingsverslag

  1. Otto Saayman

    Mei 2, 2013 at 7:00 am

    Hello daar. Die inligting oor die 45509 SMS nommer is glad nie korrek nie. Ons is die maatskappy wat die SMS nommer vir die TPAG aan die gang hou.

    Sien asseblief ons persverklaring: http://beta.dieburger.com/sake/2013-04-28-s-is-oues-verarm

    Die instruksies vir die SMS nommer is as volg en moet asseblief dadelik reggemaak word:

    “Die SMS moet aan die nommer 45509 gestuur word. Dit moet die volgende besonderhede bevat: Transnet (pensioennommer) (van). Laat spasies tussenin.

    Dié SMS sal die afsender R1,50 kos.”

    Die geld wat ingesamel word deur die SMS word gebruik om weer SMSe uit te stuur aan die pensioenarisse en om meer mense van die regsaksie te laat weet. Dit is NIE ‘n nommer om skenkings te doen aan die regsaksie nie.

    Kontak asseblief die reg span om te hoor hoe skenkings gedoen kan word: http://www.geysercoetzee.co.za/transnet-pensioners.php

    Dankie

    Otto Saayman
    +27 82 821 9119