Subscribe by Email

Transnet-pensioene: Minister sê TTVVF het nie in Sanral se effekte belê nie

Die Vryheidsfront Plus het by wyse van ‘n parlementêre vraag aan die minister van openbare ondernemings, mnr. Malusi Gigaba, vasgestel dat die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) nie in enige van Sanral se effekte, uitgereik om die Gautengse hoofwegopgraderings en e-tolstelsel te befonds, belê het nie. “Daar was die afgelope tyd heelwat spekulasie dat die TTVVF ook in Sanral se gewraakte e-tol-effekte belê het. Die minister het egter gelukkig geantwoord dat, volgens Transnet, daar geen sodanige belegging gemaak is nie. Die grootste deel van die fonds se beleggings, sowat sewentig persent, is gevestig in lae risiko vergelykende bates, instrumente soortgelyk aan effekte. Die oorblywende dertig persent is belê in aandele, eiendom en kontant,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, verduidelik.

Volgens die VF Plus blyk hierdie konserwatiewe beleggingsbeleid logies te wees vir ‘n pensioenfonds wat onderbefonds is. Dit bevestig weereens die swak posisie waarin die fonds verkeer weens Transnet en die tesourie se onwilligheid om die fonds aan te vul. Die onderbefondsing verduidelik ook waarom die pensioenarisse net twee persent per jaar verhogings ontvang. “Dit is gek dat die pensioenarisse deur middel van die twee persent-reël moet sorg dat die fonds stabiel bly, terwyl die probleem eintlik deur Transnet en die tesourie aangespreek moes gewees het. Transnet en die tesourie versaak hulle statutêre verpligtinge teenoor die pensionarisse en daarom is dit nodig om die saak reg te stel deur hof toe te gaan,” het Alberts verder gesê.

Die VF Plus sal die minister nou versoek om die presiese beleggings van die TTVVF uiteen te sit vir verdere analise.