Subscribe by Email

Transnet-pensioenarisse: Vordering in siviele- en kriminele hofsake teen Transnet

Die VF Plus kan bekend maak dat stelselmatige vordering gemaak word in beide die siviele- en kriminele sake teen Transnet. “Wat die siviel-regtelike aansoek betref, het die VF Plus Dinsdag, 14 Februarie 2012, die aanmaningsbrief aan Transnet uitgereik. Ingevolge die Wet op die Instelling van Regsprosedures teen Sekere Organe van die Staat, 40 van 2002, het Transnet nou 30 gewone dae om hierop te reageer en te voldoen aan die uitvoering van die parlementêre opdrag. Indien Transnet nie reageer teen die middel van Maart 2012 nie, sal die VF Plus ‘n aansoek loods in die hooggeregshof teen Transnet,” het adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê.

“Ons is vandag ook deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens verwittig dat die ondersoek afgehandel is en oorhandig is aan die kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag. Ons verwag om teen volgende week te verneem wat die volgende ontwikkeling in hierdie verband sal wees,” het Alberts bygevoeg.

“Die VF Plus besef dat die siviele saak langer neem as wat verwag is, maar deeglike voorbereiding is van kardinale belang indien ‘n groot instansie soos Transnet in die hof gedaag word. Verder sal die VF Plus die moontlikheid ondersoek om ‘n privaat-vervolging teen Transnet in te stel indien die NVG sou besluit om nie voort te gaan met die strafregtelike saak teen Transnet nie. Uiteindelik sal geregtigheid seëvier,” is die mening van Alberts.

Die VF Plus onderneem, soos altyd, om die pensioenarisse op hoogte van die sake te hou.

2 Responses to Transnet-pensioenarisse: Vordering in siviele- en kriminele hofsake teen Transnet

  1. morraine venter

    Februarie 8, 2016 at 9:59 am

    Ek is vier maande weduwee en kan nie myself indink om aan te gaan nie. Geen geld om huur te betaal nie – 5 dae laas ge-eet. Verby moedeloos!!

  2. pierre

    Februarie 16, 2012 at 1:57 pm

    Na 50jaar as lid van trasmed moet ek nou bedank asgv transnet se koppigheid om nie vir ons iets te doen nie