Subscribe by Email

TOYOTA AGT-SES – Toyota se eerste sportmotor in baie jare

Toyota_86 2012 Toyota 86 GTS and 2000GT (rear)Deur Dirk Gallowitz

 

“Uiteindelik!!” hoor ek die middeljarige Toyota aanhanger hier neffens my sug van genoegdoening met die aanskouing van die Toyota 86. Ek het so pas die pêrelwit weergawe voor die Weskus Mall geparkeer en dis sommer gou toe staan belangstellendes nader om Toyota se eerste sportmotor in baie jare te bewonder.

Dit voel effe lank gelede toe Toyota manne in die jare tagtig met die Celica’s en Supra’s rondom braaivleisvure kon spog. Selfs die klein MR-2 in die laat negentigs was noemenswaardig met sy ligte gewig en gewillige 1800cc enjin.

Dat Toyota goeie en betroubare motors kan maak is ‘n gegewe, maar dan ook so dat meeste van hul  vaal, onopgesmuk en omtrent so opwindend is soos ‘n eerste fliekdate met jou niggie. Dankie tog vir Akio Toyoda, sedert Junie 2009 die president van TMC en ‘n man wat van motors hou, beter nog, wat daarvan hou om hulle te bestuur en gereeld sy snyerspak vir ‘n ren “overall” verruil om op Toyota se Fuji-renbaan te gaan tekkies brand! In die moeilike finansiële drie jaar direk na sy aanstelling  is die 86 ontwikkel as ‘n gesamentlike projek met Subaru. Die 86 of te wel “hatchi roku” het sy vreemde nommernaam te danke as eerbetoon aan die vroeë jare tagtig se AE86 Corolla’s.

My toetswiele was die 6-gang handrat weergawe van die Toyota 86 High en met ure se heerlike prêt agter die rug is die AGT-SES na dese my gunsteling sakpas sportmotor.

Voorkoms en Ontwerp

Die 86 se vreemde naam is vol simboliek en geskiedenis en terwyl daar ou modelle is wat as GT86 bekend staan, wil Tokio hê dat hy in Suid Afrika net  “Agt-Ses” genoem word. Daai fris uitlaatpype is

– kan jy raai?- presies 86mm in deursnee, en so ook die enjin se slag en boor.

Eintlik is hy die reïnkarnasie van daai ikoniese Toyota GT2000 uit die jare sestig. Lang plat neus wat laag na voor buig met die wielboë wat bo langs die enjin kap uitbult. Die tweedeurkajuit is vêr agtertoe geskuif met ‘n kort gat, wat uit ‘n swiepende  dak met ‘n diep keep in die middel, astrant stomp eindig. Die soomlose vensters is deel van die opwindende nuwe ontwerp waarmee Toyota nou sy wiele-vir-‘n-outoppie-beeld wil afgooi sodat nuwe jonger kliente weer Toyotas moet koop.

Die belangrikste van als egter, dryf is uit die agterwiele via ‘n heerlike ratkas. Nog nie heeltemal soos ‘n Honda S2000 nie, maar dêm naby!

Die 86 is tipies sportmotor lekker laag. Die dak net so 1.2m hoog bo die grond en jou alie wat so 40cm bo die teer hang laat jou voel jy is een met die kar en pad. Verder weeg die 86 maar 1,2 ton wat ‘n goeie krag tot massa verhouding tot gevolg het. Dis passievolle ontwerp wat hier praat.

 

Binneruim en Toerusting

Die kajuit bied sitplek vir vier, maar die agterste sitplekke laat nie eintlik toe vir beenruimte nie. Die voorpaneel vertoon effe oudmodies, maar is nietemin prakties uitgelê met die instrumentpaneel effe na die bestuurder gedraai. Die groot analoog toereteller met ‘n skermpie  binne-in waar die spoedlesing aangetoon word is reg voor jou, terwyl die spoedmeter links langsaan geplaas is.  Jy soek vergeefs na knoppies op die stuurwiel en ander fieterjasietjies in hierdie kajuit – soos dit hoort in ‘n sakpas sportmotor.  Daar is lugversorging, lekker klankstelsel en stabiliteit- en traksiebeheer wat met die druk van ‘n knoppie aan/af geskakel kan word. Die voorste sportsitplekke sit baie diep en effe hard, maar is presies wat nodig is om die sportmotor gevoel te beklemtoon. Die aansitterknop is reg voor die rathefboom met die meeste van skakelaars en beheerknoopies op die regaf middelkonsole net onder die radio/cd klankstelsel geplaas.

Die rooi stiksels en omboorsels in die swart leer bring so ‘n effe kleur en sofistikasie na ‘n andersins vaal binneruim. Desnieteenstaande voel die kajuit soos die van ‘n sportmotor en dit is waarvoor die 86 ontwerp is. Enigiets meer sou eintlik net oorbodig wees.

 

Enjin en Verrigting

Die 86 gebruik ‘n onaangejaagte 2.0 liter boxer vier-silinderenjin wat met direkte asook inlaatpoort-petrolinspuiting bedien word. Piek krag van 147kW word gelewer teen ‘n hoë 7000 toere met maksimum 205Nm wringkrag wat eers tussen 6200 en 6400 rpm bereik word.

Op papier lyk dit asof die enjin effe mank gaan aan genoeg oemf,  maar die ligte gewig van die 86 se bak en goeie onderstel en dryfontwerp, het tot gevolg dat die motor heel goed vaar wanneer jy kole gooi. Die 0-100kpu lopie neem 7,6sekondes en die topspoed is ‘n heel skaflike 226kpu.

Dit is egter die 86 se hantering, greep en stuurgevoel wat noemenswaardig is. Die elektriese kragstuur (EPS)se terugvoer deur die voorwiele is uitstekend met die neus wat presies gaan daar waar jy hom mik.

Die 86 se vermoë om te “drift” word vergemaklik deur voortreflike balans en briljante terugvoer deur die onderstel  wat die die 86 bo sy wanna-be-sakpas-sportmotor meedingers uitlig.

Die ratkas is effe aan die knobbelrige kant, maar oorgooie is lieflik presies, kort en snelskutvinnig.

 

Opsomming

Die 86 is onverfynd, byna ru in sy aanbieding en ritervaring, maar vir voel-goed-pretwiele is die “hachi roku” die antwoord as jy nie iets soos die nuwe Porsche Boxer kan koop nie.

Ek weet nie van nog ‘n motor tans beskikbaar wat rygevoel, hantering en opwinding bied teen die prys waarteen dit aangebied word in die Toyota 86 nie.

Terloops, die 86 is vanjaar ‘n finalis in die Suid Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se hoogaangeskrewe Motor van die Jaar kompetisie en is baie se gunsteling om die gesogte kroon te dra.

 

Die Toyota 86, soos getoets, verhandel tans teen R334,500-00.