Subscribe by Email

Toordokters in die reën

Dié week moes die uwe weer ‘n paar foto’s van sy jongste neem. Hy het naamlik uit twee sweetpakke vir hom twee Speidermanpakke gemaak. Hy is 18, maar weens outisme in baie opsigte nog soos ‘n kleuter. Net vreeslik goed met sy hande.

Hy het die week ook met sy jongste skildery van tannie Anita wat vir hom klas gee, teruggekom – ‘n toneel uit Asterix waarin Julius Caesar nie te gelukkig lyk nie.

Maar, so kom ek agter, Klein Oor is nie al wat nog by Asterix en sy druïde se towerdrank vashaak nie. By Drentse Valthe in Nederland was daar ‘n sjamaan-saamtrek. Die woord sjamaan, so skryf Trouw, kom oorspronklik uit Siberië. In verskillende dele van die wêreld word hulle verskillende dinge genoem – in Afrika die sangoma, in Nieu-Seeland die Matakite (’n vrou), in Amerika die medisyneman, en vele meer.

Vir dié saamtrek het meer as ‘n honderd toordokters uit verskillende dele van die wêreld opgedaag – van Singapoer tot Switserland, die Amerikas en uit Afrika. Veral Duitsers, Nederlanders en Belge, geoordeel aan die nommerplate by die saamtrek, het van die toordokters se sessies en werkwinkels kom bywoon.

Een van die voorbokke is Chief Dancing Thunder uit die VSA. Nog ‘n bekende is Nopaltzin uit Mexiko wat sy toordokterskap na die Asteekse kultuur terugvoer. Die artikelskrywer vind dit half amusant hoe gemaklik die hedendaagse sjamaans in klinknaelbroeke, T-hempe en tekkies pas, met allerlei toevoegings om dit ’n tikseltjie outentiekheid te gee. Die artikelskrywer meld dat Dancing Thunder se tent lek, en hy moeilikheid het om sy trommels droog te hou waarin van sy “lesingmateriaal” saamgepiekel word.

Het iemand vergeet om te meld die reënkoningin het ook bevestig sy gaan daar wees? Daar, op die Drentse weide waar dit so maklik reën kan so ’n spulletjie lol.

Die sjamaan-weergawe van die toordokterspektrum lê baie klem op die voorvadergeeste. Een van Dancing Thunder se Duitse leerlinge is juis heel onwillig om haar vreeslik van haar eie voorvaders te laat voorsê. Kan sy nie maar eerder by ander olie Duitsers wat darem iets werd was gaan kers opsteek nie? Daar was immers baie van hulle.

Dancing Thunder hou egter voet by stuk. As jy nuttelose voorouers gehad het, dan sit jou turf maar met hulle.

Nou verstaan ek beter hoekom die buitewêreld nie méér vir pres. Jakoos gelag het oor hy die kiesers so met hul voorvaders afgedreig het nie.

Terwyl dit wêreldwyd blykbaar al hoe moeiliker word om ’n klomp doodgewone kerkgangers eendragtig bymekaar te hou, lyk dit nie of mense minder gelowig raak nie. Nee, dit lyk net of daar ’n groter drang na vreemde gelowe is. Ek sien juis netnou op ’n webwerf, in reaksie op ’n artikel oor aardbewings, is iemand woedend kwaad oor ander kommentators meen hy maak grappies oor die Amerikaners wat so beweer hulle was al op die maan. Hy beskou die Amerikaners se aanspraak as ‘n bedrogspul – en hy is ernstig.

Ja, daar is mense wat nog so met die maan gepla bly.

Gegroet – Hau!

Blik Oor