Subscribe by Email

TLU SA se veldtog teen plaasmoorde skop hierdie week af

Nadat dit duidelik geword het dat daar hierdie jaar reeds ’n toename in plaasmoorde blyk te wees in vergelyking met verlede jaar, het TLU SA sy aksie teen plaasmoorde aangekondig.

Sedert die begin van Januarie vanjaar is ses landbou produsente reeds op hulle plase vermoor in vergelyking met die een moord verlede jaar Januarie.

Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, sê hierdie situasie is totaal onaanvaarbaar. “Ons poog nou al jarelank om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig om aksie te neem. Tot dusver het niks wesenliks gebeur nie, en al antwoord wat ons gekry het is dat plaasmoorde nou ‘hoogstens kommerwekkend is, maar nie meer ’n prioriteit is nie.’ TLU SA kry die indruk dat die regering ’n dowe oor op ons draai en daarom het ons nou geen ander keuse nie as om van ander metodes en kanale gebruik te maak om te poog om ons landbouprodusente, wat die land se voedselvoorsieners is, te beskerm,” sê mnr. Van Zyl.

“Ons kan dalk nie getel word in terme van ons getalle nie omdat daar maar ongeveer 35 000 kommersiële voedselprodusente oor is. Ons behoort egter geweeg te word in terme van ons bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. As ons egter die Suid-Afrikaanse verbruiker kan mobiliseer in steun vir die voedselprodusente, kan hierdie gewig in terme van ekonomiese meting heelwat swaarder word.

Daarom het ons ’n kortboodskap (SMS) lyn in werking gestel waardeur mense ons ’n boodskap van steun kan gee, maar waardeur hulle ook ’n klein donasie kan maak wat gedeeltelik gebruik sal word vir ons internasionale bewusmakingsveldtog, en gedeeltelik vir ons traumafonds, wat bedoel is om slagoffers van plaasaanvalle te ondersteun.

Ons internasionale bewusmakingsaksie begin ook hierdie week. TLU SA se Assistent-Hoofbestuurder: Kommunikasie, mnr. Henk van de Graaf, is tans in Europa waar hy die volle dimensie van plaasmoorde onder die aandag sal bring van talle politieke partye, regeringsverteenwoordigers en ander belanghouers. Die hoogtepunt van sy besoek is ’n besoek aan die Europese Parlement waar hy die hoofspreker sal wees op ’n openbare vergadering van Europese parlementslede oor plaasmoorde in Suid-Afrika. As die regering dan nie na ons, wat die kommersiële voedselvoorsieners verteenwoordig, wil luister nie, sal ons ander metodes moet gebruik om die regering te beweeg tot aksie,” sê mnr. Van Zyl.

Mense wat TLU SA se aksies in hierdie verband wil ondersteun, word gevra om ‘n kortboodskap (SMS) te stuur na 48716 en die word TLUSTOP as boodskap in te tik. Elke boodskap kos R10 en sal gebruik vir die internasionale veldtog en die traumafonds. Mense kan ook hulle naam plaas op TLU SA se webblad as deel van ’n petisieveldtog teen plaasmoorde. Die webadres is www.tlu.co.za.