Subscribe by Email

Titane nou bo in T-20

Die Titane is nou bo-aan die punteleer van die T-20reeks na die span gisteraand maklik in Bloemfontein met die Ridders afgereken het.

Die manne van langs die Jukskeiurivier het egter ‘n wedstryd minder as die Leeus gespeel wat nog hul laaste ligawedstryd moet afhandel.

Die ander span wat nog in die reeks saamgesels, is die Krygers wie se wedstryd teen die Dolfyne uitgereën het, en so die twee punte ingeoes het om die Ridders uit die reeks te boender. Die Kryger het ook nog ‘n wedstryd in die bank.

Die Dolfyne en die Kaapse Kobras wat ook nog elk ‘n wedstryd moet speel, gesels al lank nie meer saam in hierdie kompetisie nie.

Die Krygers kan nog met die Titane gelykbreek wanneer hulle môre die Kaapse Kobras in Kaapstad afstof, terwyl die Leeus na die eindstryd kan deurdring as hulle die Dolfyne môre in Johannesburg die loef afsteek. Die span wat bo-aan die punteleer eindig, dring regstreeks tot die eindstryd deur, terwyl die tweede en derde spanne mekaar eers in ‘n halfeindstryd die stryd moet aansê.

In dié stadium lyk dit of veral die wedstryd in Kaapstad deur die reën beïnvloed kan word.

Hoewel die Krygers se kanse om tot die eindstryd deur te dring nie afgeskryf moet word nie, dui die Titane en Leeus se vertonings tot dusver daarop dat hulle die beste toegerus vir hierdie krieket, en vir ‘n baie opwindende eindstryd kan sorg.