Subscribe by Email

Titane kraai koning in meerdagreeks

Die Titane het dié somer se meerdagreeks oortuigend gewen, toe die manne van die Noorde die Dolfyne in hul laaste wedstryd vernederend gelooi het.

Die Kaapse Kobras het in die tweede plek geëindig na die Kapenaars nie daarin kon slaag om die Leeus kaf te draf nie, en die sentrale streek se Ridders het in die derde plek, kort op die hakke van die Kobras, klaargemaak na hulle die Krygers in Port Elisabeth geklop het veral danksy ‘n skitterende 155 lopies in die tweede beurt deur die vergete Proteaspeler, Morné van Wyk.

Daar sal egter nog lank gepraat word oor die wyse waarop die Titane die Dolfyne verniel het. Die Dolfyne het die loot op hul tuisveld gewen, en die Titane ingestuur om te kolf. Jacques Rudolf is sy paaltjie gou kwyt, maar toe die Titane op 473 vir nege verklaar, het almal reeds geweet die instuur van die besoekers het in die tuisspan se gesig ontplof. Heino Kuhn en en Faf du Plessis het elk met groot honderdtalle ingeweeg.

Toe volg slagting nommer een. Nie minder nie as ses nulletjies het die Dolfyne se telkaart van almal uit vir 62 lopies versuur. Die ekstras van 4 lopies was die vyfde hoogste telling.

Die opvolgbeurt kan kwalik as ‘n verbetering beskryf word, behalwe as ‘n mens meen net twee nulletjies uit ‘n telling van 86 almal uit was ‘n verbetering. Die keer het ekstras, saam met twee ander kolwers, met agt lopies die vierde beste gevaar. Die Titane het ‘n yslike 21,46 punte vir hul moeite gekry, terwyl die Dolfyne darem 4 punte vir die opdaag gekry het.

Die Ridders, lank die voorlopers in die reeks, het vir die grootste deel van hul wedstryd teen die Krygers gelyk na ‘n span wat weer slae loop soek het. In hul eerste beurt kon die Ridders net 240 lopies bymekaar skraap, veral danksy die snelbouler Johan vd Wath se 79 lopies van 80 balle. Die immergroen McLaren het 74 nie uit nie lopies gekry.

Veral danksy Jacobs se 152 het die tuisspan 318 lopies gekry, ‘n scenario waarvan die Ridders vanjaar al verskeie kere vasgeval het. Weer het die paaltjies gou geval tot McLaren 90 lopies gemoker het, en kaptein Van Wyk kans gegee het om sy groot beurt te speel.

Die Krygers kon in hul tweede beurt net 134 lopies bymekaar skraap, en Van der Wath se snelmaat, Friend, het ses paaltjies afgemaai.

Mclaren het vir die keurders gewys dat hulle hom te gou weggepak het, en al het hy ongewoon vir hom nie paaltjies geneem nie, het hy in die tweede beurt besonder ekonomies geboul.

Die wedstryd was die swanesang vir Boeta Dippenaar, ook ‘n weggepakte Proteaspeler. Dippenaar het lank met ‘n besering gesukkel, en na sy terugkeer nie heeltemal oortuig nie, hoewel hy in die vorige wedstryd ‘n stewige kolfvertoning gelewer het. Sy laaste wedstryd het egter vir hom ‘n nulletjie en ‘n vier opgelewer. Boeta wou juis aftree voor hy vir swak vertonings onthou word, en hy verdien om onthou te word as die speler wat die Vrystaat dikwels op sy eentjie tot oorwinnings gekolf het.

Vir die Kobras was hul laaste wedstryd, wat hulle moes wen om die titel te buit, ‘n bitter teleurstelling. Reën en swak lig op die Wanderers het ‘n uitslag onmoontlik gemaak, met beide spanne wat in hul eerste beurte meer as 400 lopies aangeteken het, maar die 8.4 punte teenoor die 8.34 van die Leeus was genoeg om die Kaapse manne in die tweede plek te laat eindig, vier punte voor die Ridders.

Die reeks het in ‘n sekere sin as die begraafplaas vir verskeie dienende Proteas gedien, wat meer dikwels gefaal het as geslaag het. ‘n Paar ander het weer hier sterk deurgekom, al het hulle in hul diensdoening vir die Proteas self minder sukses behaal.

Wisselvalligheid was aan die orde van die dag, hoewel min spanne die Ridders in hierdie opsig kan troef. In verskeie wedstryde was lae tellings en selfs ritse nulletjies aan die orde van die dag, maar dan sal ‘n kolwer of twee elk van die twee spanne honderdtalle moker en die giftige kolfblad as mite afgemaak. Boonop was groot tellings meermale in tweede beurte ‘n werklikheid na die eerste beurte slagtings opgelewer het – iets wat nie behoort te gebeur wanneer kolfblaaie begin verweer nie.

Met sulke wisselvallige vertonings kan die Proteakeurders bitter min doen.