Subscribe by Email

Teokrasie en kerkwoelinge

Hoewel die drie Afrikaanse susterkerke nie meer so totaal oorheersend ook verteenwoordigend in die Afrikanergemeenskap staan nie, is wat pas by die NG Kerk se Algemene sinode gebeur het steeds van groot belang. Dié kerkverband het steeds meer as ‘n miljoen lidmate, wat op ‘n betreklik dominante rol dui.

Wat in die NG Kerk gebeur, word bowendien in skynbaar ander manifestasies ook in die Hervormde en Gereformeerde Kerke weerspieël terwyl die ontstaan van die APK ook na ‘n vroeëre soortgelyke verloop in die NG Kerk teruggevoer kan word.

Binnekort, op 30 Oktober, word Hervormingsondag gevier, en na ‘n halwe millennium is daar steeds uiteenlopende sienings oor wat die term “gereformeerd” of “hervorming” werklik beteken. Ds. James Kirkpatrick het by geleentheid die twee beskouings vergelyk met ‘n dam in ‘n stroom – een groep is gemaklik om in ‘n dam opgedam te wees, terwyl ‘n ander in die stroom wil beweeg.

Gewoonlik dui definisies van gereformeerd op ‘n onvoltooide proses. As teenvoeter is ‘n definisie vir die begrip “ortodoks gereformeerd” geskep wat baie nou by die begrip fundamentalisme aansluit. Normaalweg word gereformeerd verstaan as die proses waar God se Wil deurlopende deur Skrifstudie en gebed gesoek word. Soos kennis van die Bybel deur beter taalkennis, en vertolkings soos deur Bybelse Argeologie moontlik word, so sal daar aanpassings wees. ‘n Beter kulturele begrip oor hoekom vroue opdrag gekry het om hul hoofde te bedek het daartoe gelei dat hoede nie meer as ‘n verpligting vir vroue gesien is nie, om maar een voorbeeld te noem.

Die Hervormde Kerk word weer gekenmerk deur die uitdrukking: Ecclesia reformans semper reformanda. Dit beteken dat die kerk van die Hervorming altyd wil reformeer.

‘n Kerk is immers in beginsel ‘n teokrasie eerder as demokrasie, waar besluite geneem word na leiding van die Heilige Gees afgebid is. Besluite word letterlik of figuurlik met die Bybel oop geneem.

Dit beteken noodwendig dat in elke kerkverband mense met uiteenlopende vertolkings sal manifesteer – diegene in die dam, en diegene in die stroom. Dikwels is daar politiek in die spel. Die beleidstuk, Kerk en Samelewing wat tot die ontstaan van die APK gelei het kan so beskou word. Die Hervormde Kerk se buitengewone Algemene Kerkvergadering waar die sogenaamde apartheidsbesluit gewysig is om na die onbedoelde onregverdige manifestasies van apartheid eerder as die beleid van afsonderlike ontwikkeling te verwys, is nog ‘n voorbeeld. Die Belharbesluit, bedoeld of onbedoeld, is nog ‘n voorbeeld met die implikasie dat die NG Kerk in Afrika voorlopig minstens, verloor is terwyl die VGK dalk gewen is.

Wanneer teokrasie ter sprake is, geld in beginsel net dat die Wil van die Here gesoek word. Binne al drie kerkverbande kom daar ongelukkig gereeld – moontlik onnadenkende – uitsprake wat daarop dui dat ander oorwegings die deurslag gegee het. ‘n Hoogleraar van die Teologiese Skool Potchefstroom is byvoorbeeld in die media aangehaal waarin hy ongelukkig was oor die Gereformeerde Sinode se besluit om vrouediakens in te stel omdat dit ekumeniese bande met kerke oorsee wat dit nie toelaat nie, in gevaar kan stel.

Met beide die Belhar- en apartheidsbesluite is dus omsigtig te werk gegaan om dit duidelik te stel dat die onderskeie besluite nie die gevolg was van VGK-druk of druk deur die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke nie. Vir afpersing is daar in die teokrasie immers geen plek nie.

Volgens mediaberigte is die NG Kerk se besluite, in wat genoem word die seisoen van luister, geneem met die Bybel oop, die afvra van die Here se wil, ook die aanhoor van ander se menings en dan kontekstueel besluit.

Moderne tegnologie het ook ‘n nuwe verskynsel gebring – die sosiale netwerke. Omdat dit nog nie tevore so omvattend was nie, en taamlik onlangs nog glad nie bestaan het nie, is dit baie moeilik om uit die huidige stortvloed kritiek wat gesien word, werklik ‘n indruk te vorm van die omvang van die ontevredenheid. Bloot in isolasie geoordeel, lyk dit of die NG Kerk en die Hervormde Kerk nou yslike latte vir hul basse gesny het. Die GKSA het lank reeds te kampe met dolerende gemeentes, en betreklik onlangs is ‘n Bloemfonteinse gemeente wat spesiaal gestig is om ontevredenes te akkommodeer, na ‘n proses buite die kerkverband geplaas.

‘n Interessante kenmerk van die sosiale netwerke is dat die beswaardes van die drie kerkverbande ook oorkruis solidariteit toon, en opinies deel. Plek-plek manifesteer dit selfs verder, soos ‘n onlangse dwarsklap wat ‘n teologiese professor in een kerk se publikasie na ‘n teologiese professor in ‘n ander kerk uitgedeel het. Dieselfde professor het ook in die amptelike diversiteitswebwerf van die derde kerk streepsuiker gekry.

Of dit op ‘n moontlike toekomstige kerklike herskikking tussen lidmate in die stroom en lidmate in die dam kan dui is nog te vroeg om te sê. Dit is egter ‘n vraag wat solank bepeins kan word: Kan kerke werklik hul fokus op koninkrykwerk plaas as hulle voortdurend wal moet gooi – selfs hofsake moet trotseer – as alle energie ingespan moet word om ongelukkige lidmate te hou waar hulle is? Gaan die koninkryk van God werklik oor regsprosesse soos om kerkgeboue en ander eiendom saam te neem?

Voorbeelde van die diepgang van bitterheid oor kerkeiendom is ook in ons tyd nie moeilik om te vind nie. In Suid-Afrika blyk selfs nou nog diep sieleskade te wees oor die VGK se mislukte regsproses om eiendomme van die NG Kerk in Afrika in te palm, en dit, eerder as teologiese verskille, verhinder ‘n susterkerklike verhouding tussen die twee kerkverbande. In Nederland het die kerkvereniging en die gevolglike kerkherskikking ook tot ‘n regstryd oor kerkeiendomme gelei waar die hof uiteindelik ‘n besluit moes afdwing.

Die kerkherskikking in die VSA se Baptistiese kerke het ook volgens die kloof tussen fundamentalisme in die suide en ‘n meer gereformeerde benadering plaasgevind. Daar het dit ‘n einde gebring aan ‘n rits ondermynende prosesse en gekoukus wat duidelik nie tot eer van God kon strek nie.

In Psalm 50 skryf Asaf wat gebeur as ons die Here se Wil afvra, maar dan ons eie koppe volg.

Die kerkverbande het nou na die beste van hul menslike vermoë die Wil van die Here afgevra, en hul besluite dienooreenkomstig geneem. Die onus verskuif nou na die lidmate om te besin oor of hulle meen die sinodegangers het die stem van die Here reg gehoor.

Uiteindelik moet die reaksie – trouens almal se optrede – ooreenkomstig die mees basiese Bybelse beginsels geskied, naamlik liefde vir God en liefde vir die naaste, wat die vyand insluit. En wat hierdie liefde behels word baie mooi in 1 Korintiërs 13 beskryf.

En die Afrikaanse kerke het nou yslike werk om te verrig. Die sosio-ekonomiese nood onder lidmate en ander is ontsettend groot en die kerke se koskasse is onder druk. Die Rapporryers se Bybeleksamens dui op skokkende onkunde onder laerskoolkinders, en nog swakker onder hoërskoolkinders. Die lidmate leef daagliks in ‘n omgewing waar aborsies op aanvraag gewettig is, dobbel wettig is en ontsettende nood in probleemgesinne veroorsaak, en politici kwasi-godsdienstige uitsprake maak wat op bykanse Godslastering neerkom. Korrupsie het volgens sommige kenners endemies geword.

Die kerke het dus na binne ‘n ontsettende pastorale behoefte waarin die energie nodig is van ook die lidmate om hul amp as lidmate te kan volvoer. Na buite moet die kerk ook sy hande kan losmaak om sy broodnodige profetiese stem teenoor die owerheid te laat hoor.

Maar die kerke moet voortsukkel met blokke aan die been.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien