Subscribe by Email

Taxi’s se wel en weë – of onwel en af van die weë

Die ouer garde – hulle wie se rooi baarde al grys geword het – sal hulle nog onthou. Dis nou die generasie taxi’s voor die minibus-taxi’s so op die toneel gebars het en kort-kort om die verkeerde rede in die nuus was.

Ja, vandag se taxibestuurders het blykbaar na die wêreldoorlog daai fasiliteit gaan oorneem waar die Japanners hul Kamikazevlieëniers opgelei het.

Ja-nee, ‘n Suid-Afrikaanse motorbestuurder wat hom nog nie in ‘n ander bloedgroep in vir ‘n taxibestuurder vererg het nie, het gister eers sy liksens gekry. En hartseer en tragies mag die taxi-ongelkke wees, maar geen verrassing nie. Of liewer, al verrassing is dat daar nie meer sulke ongelukke is nie. Kyk, die skrikwekkendste stories het al uitgekom. Soos dat die stuurwiel te veel plek vat, en om nog ‘n passasier of twee te kan inkry, word die stuurwiel afgehaal, en met ‘n “vice grip” bestuur. Nog ‘n storie, maar darem seker ‘n woolhaarstorie, is dat daar soveel passasiers onder by die bestuurder se voete ingedruk is dat hy nie self die pedale kom bykom nie, en instruksies moes skree oor wat nou getrap moes word.

Maar daar was ‘n tyd toe taxi’s nie sulke doodskiste op wiele was nie.

Ja, ook die wie se baarde eens ander kleure as rooi was sal hulle onthou…

Dié vorige generasie was sulke groot karre – dikwels Valiants – wat die verskriklikste verkeersknope in besige vakansieverkeer kon veroorsaak omdat hulle so stadig gery het.

Veral op die op-en-af-paaie met die baie draaie, soos die pad tussen die Sir Lowreyspas en Albertinia. Kort-kort sit die haastige vakansieganger wat ‘n eier onder sy sitte van ongeduld kan kook, in ‘n stadigbewegende tou. Omdat die pad so op en af is en boonop slinger, kan ‘n mens ook nie sien wat die oponthoud veroorsaak nie. Maar omdat treine destyds nog baie vrag vervoer het, was dit selfde ‘n vragmotor, behalwe miskien ‘n meubellorrie. ‘n Karavaan dus …of ‘n taxi. Gewoonlik.

So geleidelik kry die een kar in die tou dit reg om verby te kom, om ‘n ent vorentoe in die volgende tou te gaan vasval. En dit beteken dat die oorsaak van die oponthoud mettertyd in sig kom.

Die taxi is dadelik uitgeken – ‘n groot slap motor wat rakelings bo die teer beweeg so swaar is dit gelaai. In die motor self is, so voel dit, is ontelbaar baie koppe. En bagasie, soms op ‘n rak op die dak.

Saggies wieg die skip op sy oorlaaide suspensie en ‘n mens kan net wonder hoe dit binne daai kar gaan met die karsiekwordery. Want op sy beste is daai op-en-af en slinger van die pad ‘n resep vir karsiek. Heelwat karre het ‘n lang blerts langs die kant wat verklap die bestuurder kon nie betyds stilgehou gekry het nie – of daar was nie betyds ‘n plek om stil te hou nie, want daai tyd se paaie was gewoonlik smal, maar anders as vandag, het hulle gehou en gehou.

Ons gesinnetjie het geweet van slap suspensie. Pa was ‘n jaar met ons en al in die VSA, het na Suid-Afrika teruggekeer met ‘n linkerhandstuur Dodge Lancer. Nee, sy suspensie het niks makeer nie, tot pa ‘n glasvesel-seilbootjie gekoop, en dit onderstebo op ‘n dakrak Kleinbrak toe gery het van Stellenbosch af. Van toe af het ons ook geweet van slap suspensie.

En daai Dodge was die Valiant se nefie. Al manier om dit van daai tyd se valiants te onderskei, was dat die Valiant op sy bagasiebak so ‘n onooglike wielvorm gehad het.

Valiants was gewild om as taxi’s ingespan te word, wat beteken het hulle is ook graag gesteel. Boet Nico, toe in die polisie in Johannesburg, onthou hoe ‘n ontstoke klaer kom rapporteer het sy Valiant is gesteel. Wat die klaer ondergekry het, dit was ‘n ou Valiant, en was in sy inrypad deur ‘n paar nuwer motors, onder meer ‘n BMW, vasgeparkeer. Maar die diewe het die ander karre op ‘n manier tot in die straat en uit die pad gekry, en is vort met die Valiant. Opgeroep vir hoër diens. Daai man was so kwaad, hy het uit sy eie sak ‘n helikopter gehuur en sy Valiant uit die lug gesoek tot hy hom gekry het.

‘n Paar dae later was sy Valiant egter weer obsent, en dié keer blywend.

Presies hoeveel koppe en hul lywe sou in so ‘n motor gepas het?

Doerriejare het Petrusbrug se verkeersman een keer per week deurgery Jacobsdal toe om, soos die Jacobsdallers gesê het, op hul dorp te kom spietkop hou. Die jong manne wat gou met hul bakkies om die blok kon ry terwyl die liksens uitgeskryf is, sonder om die bakkie om te gooi, het liksense gekry, en so aan. Tant Anne het dan ook haar weeklikse preek gekry dat sy nie van haar huis af apteek toe en terug aan dieselfde kant van die pad kan ry net omdat dit die beste kant is nie.

“Eendag sal ek vir antie moet skryf,” het hy weekliks gedreig, maar geweet dit help nie en dat hy haar ook nie regtig sal kan skryf nie.

Hoewel daar ‘n teerpad tussen Petrusburg en Jacobsdal is, is dit ‘n ompad, en die meeste mense het sommer met die Paardepergpad grondpad gevat. Nie net omdat dit korter is nie, maar omdat dit as onmoontlik geag is om iemand op daai stofpad op ‘n manier vir spoed te probeer vang.

Maar dié dag ry die verkeersman toe ook daai pad, en dit was nogal ‘n aardigheid. Hy ry presies op die spoed. Presies. Kort voor lank kom ‘n voertuig van agter aan – so vinnig dit lyk of hy ingekatrol word, tot agter die verkeersman. En wanneer die stowwe in ‘n rigting gewaai word dat ‘n man kan sien of dit veilig is om verby te gaan, kan hy ook die strepies en kentekens op die verkeersman se skouer sien.

Dan sit sy turf.

Tot die verkeersman die arme slagoffer agter hom jammer kry, by ‘n geskikte plek aftrek en vingerwysend die haastige motoris laat verbygaan. Dis nou nie dieselfde soort vingerwys as vanoggend by een van Langenhovenpark se berugte puisies (geverfde verkeersirkels waar die motoriste die kluts kwyt raak oor wie mag ry, en wie moet wag) nie. Al wat ek en Pumba van dié onderonsie gesien het onderweg om te gaan koerant koop, was dat ‘n man met op ‘n groot motorfiets, en met ‘n staalhelm op die kop wat die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog gedra het, vierkantig voor ‘n swart motortjie stilstaan. Die motorfietsryer praat verwoed vingertaal met die motoris. Daai soort vingertaal waarvoor een of twee vingers voldoende is, en almal mooi verstaan.

Nee, die verkeersman wys vinger soos die onnies op skool gemaak het.

Toe beland hy agter ‘n groot, slap motor. Groter as ‘n Valiant. Dis ‘n Ford Galaxy, en daai karre had plek binnekant. Baie plek, selfs meer plek as die Ford Fairlaine. En dis net koppe!

Die verkeersman besluit hy wil ‘n slag uitvind hoeveel mense is ingepak, en hy ry verby, en trek die Glaxy af.

“Uit!” gebied hy.

“En hulle klim uit, en hulle klim uit, en nog steeds klim hulle uit,” het die verkeersman in ongeloof vir neef Ferdie vertel. Dis naderhand ‘n hele plaat mense daar langs die pad.”

Die verkeersman kyk die spulletjie in ongeloof en kan nie glo almal, en hul bagasie, het in daai Galaxy gepas nie. Die bestuurder is ‘n stokou Ntate met ‘n bril waarvan die glase soos die onderkant van Coke-bottels lyk. Of hy tot by die stuurwiel kan sien lyk onwaarskynlik. Maar so ordentlik, en so apologeties en oor hoe hy die mense so jammer gekry het hier in die haai vlaktes so sonder transport. Die verkeersman se hart vermurwe.

“Kyk, as julle almal weer inkom, gaan ek julle nie skryf nie,” sê ek oplaas toe ek my stem terugkry,” vertel die verkeersman vir neef Ferdie. En Neef Ferdie is ‘n man wat noukeurig by die waarheid hou.

“Hulle klim in en klim in, en die skare raak naderhand uitgedun hier langs die pad. Uiteindelik is almal in, behalwe een kleintjie wat elke keer uitval wanneer hy ook probeer inkom. Ek sien die paniek groei – nie net oor die boete nie, maar wat van die kind hier tussen die bossies en ysterklipkoppies te los? Dis ook nie ‘n te wafferse gedagte nie.

“Toe kry ek hulle jammer en sit handjie by om die kleintjie ook ingedruk te kry. Moes nogal fors gebruik,” het die verkeersman vies vertel, want die kleintjie was baie benoud en die hand het op die benoud gedruk.

“En hoeveel was hulle toe?” wou neef Ferdie nuuskierig weet.

“Ek was te verstom en het vergeet om te tel.”

Na die Valiants was daar ‘n kort periode waar veral Mazda-bakkies (onthou nog daai B 16000’s?) taxi’s geword het. Die uwe het self so ‘n splinternuwe teësinnig aan die bedryf geskenk.

En toe breek die era van die minibustaxi’s aan, en die eienaars van hierdie voertuie had hul hande vol om besitreg te behou. Selfs spesiale skole wat gestremde kinders aanry, het erg deurgeloop. Sonder satelliet-opsporingstoestelle is so ‘n bussie so goed soos klaar gesteel as hy die aand gebêre word.

En kan hulle vir jou oorlog maak – so onder mekaar. Erger as die insleepvoertuie van mededingende maatskappye by ongelukstonele. En dis nie sommer net ‘n kwessie van aftrek nie – ‘n nuwe verkeersman moet gou keer watter taxi’s behoort aan mede-verkeersmanne en is buite perke van die lang arm van die gereg.

Dis ‘n mededingende bedryf met komplekse reëls oor roetes en ander belange ..ernstige dinge sodat daar mos nie nou veel aandag ook geskenk kan word aan onbenullighede soos verkeersreëls ook nie.

‘n Padwenk dus as ‘n mens jou eie oorlewingskanse dié vakansie op die paaie wil bestendig – bly so ver as moontlik uit die pad van taxi’s. Bel maar liewer die blitslyn by 0860 726 822 en rapporteer gevalle. Dis beter vir jou gesondheid.

Herman Toerien