Subscribe by Email

Taalwet bepleit vir Afrikaans

Mnr FW de Klerk het op 11 Augustus 2011 die vyfde Mathews Phosa Gedenklesing by die Afrikaanse Taalmuseum gelewer. Hy het gesê dat taal aan die wortel van ons almal se bestaan lê. Die reg om jou eie taal te gebruik is ook noodsaaklik vir menswaardigheid en die reg op gelykheid. “Dit is waarom die fundamentele bepalings van ons Grondwet taalregte so uitdruklik beskerm en bevorder”.

Mnr De Klerk het gesê dat ons identiteit as Afrikaanssprekendes tot ‘n groot mate deur ons taal beïnvloed word. “Afrikaans is gebore uit Nederlands en het gou sy eie onmiskenbare karakter ontwikkel in die tavernes van Kaapstad; in kombuise en slawelosies; en in die eensame uitgestrektheid van die Karoo en die hoëveld. Dit het die dubbele-negatief gekry van die Hugenote en is ryk aan alledaagse woorde afkomstig van Maleisië en Indonesië. Daar het ‘n verskeidenheid van kleurryke Afrikaanse idiome ontwikkel, direk afkomstig van ons ervaring in Afrika. Die swaarwigtige grammatika van Nederlands is gou afgeskud. Dit is vervang met een van die eenvoudigste en mees vaartbelynde grammatikas van enige moderne taal in die wêreld.”

Afrikaans het egter ‘n moeilike geskiedenis. Vir die eerste 60 jaar van die vorige eeu is Suid-Afrikaanse politiek gedomineer deur die stryd tussen Boer en Brit, tussen wit mense wat Engels gepraat het en wit mense wat Afrikaans gepraat het. Onvermydelik het taal dus hoogs gepolitiseer geraak. En dit is verder gepolitiseer binne die raamwerk van ras en kleur. Baie swart Suid-Afrikaners het Afrikaans gesien as die taal van die onderdrukker. Vir bruin mense was dit dikwels die taal van uitsluiting, bitterheid en pyn. “Afrikaans was egter ook die taal waarin ons, in die Nasionale Party, begin worstel het met die morele uitdaging om apartheid te beëindig.”

Vandag is Afrikaans ‘n dinamiese taal in die mond van miljoene Suid-Afrikaners. Dit is bevry van historiese politieke konnotasies. Dit is almal wat dit praat se taal en nie meer ras gedefinieer nie. Dit is ook die derde sterkste taal in Suid-Afrika, naas Zoeloe en Xhosa.

Ongelukkig ondervind Afrikaans ook ernstige probleme en uitdagings. Ondanks die Grondwet word Afrikaans in al hoe minder mate gebruik in ons howe en binne staatsverband. Dit is onder ernstige druk in skole. “Die aantal Afrikaanse skole het oor die afgelope 17 jaar met ‘n beraamde 30% gedaal.” Daar is ook ‘n ernstige afname in Afrikaanse skoolopleiding in die bruin gemeenskap waar slegs 39% van leerders in Afrikaans enkelmedium skole is. Insgelyks is Afrikaans onder geweldige druk by universiteite. “Afrikaans op universiteitsvlak is onder skoot en daarmee saam Afrikaans as wetenskapstaal. Uiteindelik het die ganse Afrikaanse taalgemeenskap ‘n reuse belang in ‘n uitkoms wat Afrikaans as tersiêre onderrigtaal stewig sal vestig en in stand sal hou”.

Mnr De Klerk het gesê dat syns insiens “durf ons nie die verwatering van die taalregte, soos beskerm in die Grondwet, of die agteruitgang van Afrikaans op skool- en universiteitsvlak miskyk nie.” “Die eenvoudige feit is dat die visie van multikulturalisme en veeltaligheid in die Grondwet nie die werklikheid geword het nie.”

Een van die redes hiervoor is dat die Regering nie sy verantwoordelikheid in verband met taal regte ernstig opgeneem het nie. “Die Regering moes lankal ingevolge artikel 6(4) van die Grondwet wetgewende en ander maatreëls aanvaar het om die gebruik van amptelike tale te reël en te monitor.”

Dit het aanleiding gegee tot ‘n hofsaak deur ‘n prokureur, mnr Cornelius Lourens, na aanleiding waarvan die Hof die betrokke Minister beveel het “om die gemelde verpligting in Artikel 6 van die Grondwet binne twee jaar … na te kom of toe te sien dat dit nagekom word.” Die resultaat is die Konsepwetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale van 2011, wat ongelukkig vir die absolute minimum voorsiening maak om uitvoering te gee aan die opdrag van die Hof in die Lourens-saak.

Mnr De Klerk meen dat Suid-Afrika die Indiese benadering ten opsigte van veeltaligheid moet bestudeer. Die Indiese Grondwet maak voorsiening vir twee nasionale tale, Hindi en Engels. Elke federale staat het die reg om sy eie amptelike taal of tale te aanvaar. Die state skep ‘n institusionele belang in die bevordering van die streektaal deur ‘n vereiste te stel dat almal wat in die streek se staatsdiens aangestel of bevorder word, die betrokke streektale magtig moet wees. Dit beteken dat plaaslike skole en universiteite ook ‘n belang daarby het om te verseker dat die plaaslike taal tot sy reg kom.

Die nuwe Wet op Suid-Afrikaanse Tale skep ‘n geleentheid om ‘n soortgelyke bedeling in Suid-Afrika te skep.

“Die Grondwet vereis dat die nasionale regering en alle provinsiale regerings ten minste twee amptelike tale moet gebruik. Vir praktiese doeleindes kan verwag word dat een van daardie twee tale Engels sal wees. Dit sal egter onaanvaarbaar wees om slegs een van die ander tale as die tweede amptelike nasionale taal landswyd te gebruik.”

Mnr De Klerk het gesê dat Afrikaans behoort, as die derde sterkste taal in die land, ook volwaardige erkenning te geniet. Daarnaas behoort ‘n derde inheemse taal in elke provinsie as ‘n streektaal dieselfde erkenning te kry.

“So ‘n benadering sou verseker dat elke landsburger in die taal van sy of haar keuse bedien sou kon word. Dit sou ook ‘n institusionele belang skep om streektale aan te leer en te bevorder – ook in plaaslike skole en universiteite.”

Volgens mnr De Klerk lê die toekoms van Afrikaans ten dele in ons nuwe Grondwet opgesluit – en ten dele in ‘n sterk en praktiese Wet op Suid-Afrikaanse Tale. “Dit sal ons enersyds saambind as lede van die Suid-Afrikaanse nasie, en andersyds waarborge gee dat ons verskeidenheid eerbiedig en gerespekteer sal word.”