Subscribe by Email

Taalkodesa nodig

Die jongste polemiek rondom die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale bevestig opnuut dat daar geen begrip of respek binne die ANC en regeringsgeledere vir die Suid-Afrikaanse taalgemeenskap is nie. Inteendeel, die indruk word bevestig dat daar ʼn element binne die ANC is wat elke moontlike gevestigde ooreenkoms en gebruik wil vernietig. Dit word bespeur in die onlangse groenskrif oor Grondhervorming maar word bevestig in die aandrang van politici en amptenare om Afrikaans as regeringstaal te verwyder. Die versiersuiker wat aangebied word dat inheemse tale bevorder gaan word, moet egter sinies bejeën word. In die 18 jaar van regering en sedert die 2003 Nasionale Taalbeleidsraamwerk bekendgestel is, het geen inheemse taal ooit enige erkenning gekry nie. Inteendeel alle inheemse tale, insluitende Afrikaans, is uitgerangeer en het Engels die lingua franca van die Suid-Afrikaanse staatsdiens geword.

In die aanloop tot die onderhandelinge wat gelei het tot die vreedsame 1994 demokratisering van Suid-Afrika is alle onderhandelinge gevoer gebaseer op ʼn aantal grondwetlike beginsels. Die elfde beginsel waarop ooreengekom is lui soos volg: “The diversity of language and culture shall be acknowledged and protected, and conditions for their promotion shall be encouraged.” Hierdie beginsel het neerslag gevind in die 1996 grondwet en is die bevordering en beskerming van al elf amptelike tale aan die staat opgedra. Daarom moet sommige ANC kaders se integriteit ten opsigte van die toepassing en uitlewing van die grondwetlike demokrasie bevraagteken word, met inagneming van die jongste SA Tale wetsontwerp en wysigings. Dit is duidelik dat daar geen respek is vir die Afrikaanse taalgemeenskap nie. Inteendeel, die indruk bestaan dat hier ʼn vorm van taaldiskriminasie beslag vind wat aansluit by die rasgebaseerde diskriminerende maatreëls wat reeds in die staatsdiens bestaan.

Dit begin al hoe meer duidelik word dat die departement van Kuns en Kultuur se amptenare geen snars verstaan van die uitdagings maar ook vele geleenthede wat die Suid-Afrikaanse tale bied nie. Verder word dit al hoe meer duidelik dat Afrikaans in die spervuur van politieke aktiviste staan en dat Afrikaans al te gerieflik geoffer sal word op die altaar van gedienstigheid. Die burgerlike gemeenskap kan en sal dit nie toelaat nie. Dit het moontlik tyd geword vir ʼn Taal-Kodesa waarin die Suid-Afrikaanse talegemeenskap self kan besluit oor die toekoms van ons tale. Die huidige SA Tale Wetsontwerp is ʼn ondeursigtige poging van die staat en die ANC om vir die taalgemeenskappe te besluit in stede daarvan dat die taalgemeenskappe self oor hulle tale besluit. Afrikaans het in ons geskiedenis reeds bygedra tot politieke onluste en het Afrikaans midde in die politieke spervuur geplaas. Om Afrikaans en ander inheemse tale weer in die spervuur te plaas kan rampspoedige gevolge inhou.