Subscribe by Email

Syfers daal, maar misdaadvlakke steeds te hoog

AfriForum het die nuus verwelkom dat gemeenskappe se toenemende samewerking tot die stryd teen misdaad gehelp het tot die daling in huisbrake, veediefstal en moord. Die burgerregte-organisasie is egter van mening dat daar geen rede is om te spog nie weens die steeds buitensporige hoë misdaadvlakke.

“Die feit dat daar steeds 42 moorde ʼn dag plaasvind, is ʼn aanklag teen die regering,” het Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se hoof van gemeenskapsake, gesê.

Misdaadstatistieke toon die moordsyfer in Suid-Afrika het met 6,5% tot 15,940 moorde in 2010/2011 gedaal. “Hierdie afname is ʼn bewys dat gemeenskapsveiligheidsaksies vrugte afwerp. Hulle moet nou hul deelname hieraan verskerp om die steeds onaanvaarbare misdaadvlakke te bestry,” het Jansen van Rensburg bygevoeg.

Statistiek onthul dat alhoewel veediefstal met 10% gedaal het, misdaad in landelike gebiede steeds te hoog is. Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het daarop gewys dat boere, plaaswerkers en inwoners in landelike gebiede as sagte teikens deur misdadigers gesien word. Volgens hom is dit weens die feit dat plase en klein dorpies afgesonderd is en dat die afstande tussen plase en klein dorpies baie groot is.

Volgens Jansen van Rensburg is gemeenskappe in baie gevalle nog gefrustreerd, veral in landelike gebiede waar die polisie se reaksietye te lank is en hulle traag is om verklarings te neem en ondersoek in te stel.

Hy het verder sy teleurstelling te kenne gegee dat die polisie steeds nie bereid is om plaasaanvalle as ʼn afsonderlike misdaadstatistiek uit te wys nie.