Subscribe by Email

Swart Dinsdag

Die nasionale persklub het vandag tot Swart Dinsdag verklaar uit protes dat die ANC na verwagting vandag die wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting deur die parlement gaan stoomroller.

Na verwagting sal dit Suid-Afrika se posisie op Verslaggewers sonder Grense VSG) se persvryheidsindeks verder benadeel, waar Suid-Afrika in 2010 na die 38ste posisie gedaal het. VSG is reeds meer as ‘n maand laat met die uitreiking van sy jongste indeks.

VSG word daarvan verdink dat dit Afrikalande, en veral Suid-Afrika, met sagte handskoene beoordeel wanneer dit by die beoordeling kom. Vergelyk ‘n mens Suid-Afrika se posisie op Freedom House se kaart vir 2011 (hieronder), lyk dit inderdaad of Suid-Afrika deur VSG met ‘n sagter oordeel beoordeel word. Freedom House dui naamlik Suid-Afrika se posisie as slegs gedeeltelik persvrye land aan, terwyl Spanje, Frankryk en Griekeland as persvrye lande aangedui word. VSG het egter Spanje 39ste, Frankryk 44ste en Griekeland 70ste geplaas, almal minder persvry as Suid-Afrika se 38ste posisie. Volgens VSG deel Namibië die 21ste posisie met Kanada, terwyl Freedom House Namibië, soos Suid-Afrika, as slegs gedeeltelik persvry beskou, en Kanada duidelik as persvrye land beskou.

Volgens VSG is Suid-Afrika in die Brics-groepering die sonstraaltjie vir persvryheid, maar volgens Freedom House is Suid-Afrika, Brasilië en Indië saam gedeeltelik persvry, met Rusland en China die muishonde.

Nogtans, toe VSG Suid-Afrika se posisie op die indeks verlede jaar met vyf plekke laat daal het, het dié organisasie drie faktore genoem wat dit in die hand gewerk het: Die inligtingswetsontwerp wat nou op die punt van maak-of-breek staan, die volgehoue praatjies oor ‘n mediatribunaal en Julius Malema se optrede teenoor ‘n BBC-joernalis. Malema sal vanjaar waarskynlik weer ‘n negatiewe rol speel, soos toe joernaliste tydens sy dissiplinêre verhoor onder klippe gesteek is.

Wat wél insiggewend is, is dat nie VSG of Freedom House Suid-Afrika as die mees persvrye land op die kontinent beskou nie. Ghana en Mali klop Suid-Afrika op beide se beoordeling.

Suid-Afrika sal waarskynlik nou nog verder terugsak, wat beteken dat die land ook houe op die korrupsiepersepsie-indeks en die beleggersvertroue-indeks kan verwag. VSG is besonder senitie oor bronne wat beskerm moet word, en het onlangs ‘n beroep gedoen daarop dat behoorlik toegesien word dat mediabronne in Sirië behoorlik beskerm moet word. Die wetsontwerp wat vandag onder die loep kom, ontneem basies daardie beskerming.

Volgens Freedom House is daar ongeveer ewe veel lande wat ten volle persvry is, deels persvry is en wat nie persvry is nie. Word na die wêreldbevolking gekyk, is die prentjie egter troebel – slegs 15 % van die wêreldbevolking woon in lande met volle persvryheid, 42 % beleef gedeeltelike persvryheid, en 43 % effektief geen persvryheid nie. Persvryheid word as die vierde, nie-amptelike been van demokrasie beskou, en hoe swakker ‘n land op die persvryheidsindeks presteer, hoe swakker vaar hy gewoonlik op die korrupsiepersepsie-indeks. Hier is dus ‘n lang pad om te loop om substansie aan enige vorm van vryheid te gee. Die persepsie loop dus ook wyd dat maatreëls om persvryheid aan bande te lê eintlik meer daarmee te make het om die oopvlek van korrupsie te snoer, en om demokratiese vryhede te ontneem, as edele motiewe vir die beveiliging van die publiek.

Presies hoé die persepsie aanmekaar steek, is toevallig ook gedemonstreer toe die media kort voor die parlementêre stormloop van die wetsontwerp, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, onder ‘n wolk oor beweerde korrupsie geplaas het. Die Mail & Guardian wat die eerste inligting uitgesnuffel het, is deur dreigemente van regsoptrede gesnoer en nuuskierige Suid-Afrikaners moes via die internet buitelandse media raadpleeg om agter die kap van die byl te kom. En die wetgewing is nog nie eens op die wetboek nie.

Die stryd teen die wetsontwerp is so oud soos die bekendmaking van planne om dit op die wetboek te plaas. Een van die voorste kampvegters daarteen, dr. Charles Malan, sal self nie die uiteinde van sy verbete stryd sien nie. Malan het die veldtog lyf gegee deur die verspreiding van Die Vrye Woord, maar is vroeër vanjaar oorlede. Die Right 2 Know-veldtog het ook hard gewerk en vir oulaas met betogings en optogte die ANC tot ander insigte probeer oorhaal.

Oplaas het die Persklub sy beplande Swart-Woensdag-veldtog na vandag vervroeg, toe dit blyk dat die wetsontwerp vandag reeds in die Nasionale Vergadering aan ‘n stemming onderwerp gaan word.

Die ANC, wat ‘n paar keer aangedui het dat dit sal herbesin, of dalk sal herbesin, is nie beïndruk deur die persklub se veldtog nie.

Die ANC se hoofsweep, Mathole Motshekga, sê die enigste gevolg van die beplande veldtog, waar mense aangemoedig word om swart aan te trek, is om die ware geskiedenis van “Swart Woensdag” te verdun en “die slagoffers van apartheid se barbaarse wette te beledig.” Die Nasionale Persklub het mense aangemoedig om vandag swart klere of ʼn swart armbandjie te dra om hul teenstand te wys vir die omstrede wetsontwerp.

Een van die hoofbesware teen die wetsontwerp is dat dit openbare belang as basis van verweer vir die oortreding daarvan uitskakel. So ‘n stap sal dit vir verklikkers byna onmoontlik maak om met die sak patats uit te kom – waarvan die Tshishonga-saak ‘n goeie voorbeeld is, waar die arbeidshof beslis het die persoon het geen ander middele tot sy beskikking gehad nie.

Dit is ‘n uitgemaakte saak dat sou die wetsontwerp vandag deurgevoer word, en later ook deur die Nasionale Raad van Provinsies bekragtig word, dit aan die toets van grondwetlikheid onderwerp gaan word. Verskeie instansies het al aangedui dat hulle dié pad sal loop, waaronder ook pas Afriforum.

AfriForum het opnuut ’n beroep op Zuma gedoen om ingevolge artikel 84(2)(c) van die Grondwet, die wetsontwerp na die Konstitusionele Hof te verwys vir ’n bevel oor die grondwetlikheid daarvan, voordat dit as wetgewing afgedwing word. AfriForum reeds ’n senior advokaat wat in mediareg spesialiseer opdrag gegee het om ’n regsmening oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp op te stel. Afrifrum meen dis ongrondwetlik omdat:

• Die wetsontwerp is in geheel vaag, ingewikkeld en moeilik verstaanbaar

• Die kriteria vir klassifikasie van inligting is uiters vaag en laat ruimte vir inkonsekwente toepassing.
• Die geheime aard van klassifikasie sal tot gevolg hê dat die beskerming van fluitjieblasers slegs in beginsel beskerm word, maar sonder enige praktiese effek.
• Die toepassing daarvan is te wyd en die kriteria vir klassifikasie is vaag en onduidelik. Dit laat ruimte vir growwe inkonsekwentheid by besluitneming oor klassifikasie van inligting. Dieselfde geld vir die deklassifikasie van geheime inligting.
• Ingevolge die wetsontwerp sluit die definisie van “inligting” ook “valse inligting” in. Dit is te breed en ongrondwetlik.
• Ten spyte van klousules wat poog om die teendeel te verseker, sal die wet steeds tot gevolg hê dat die publiek grootliks in die duister gelaat word in ’n demokrasie wat verkondig om oop en deursigtig te wees. Daar sal steeds ’n oorweldigende vrees bestaan dat die geheimhoudingsfunksies misbruik word.
• Die wet in sy huidige vorm sal verhoed dat die media sy demokratiese plig om as waghond op te tree kan uitvoer, omdat inligting op lukraak wyse geklassifiseer kan word.

Afriforum meen voorts dat die regte op vryheid van uitdrukking en toegang tot inligting die hoeksteen is waarop enige demokrasie gebou moet word. “Een van die kenmerke van ’n demokratiese bestel is dat landsburgers teen wanpraktyke van staatsamptenare beskerm word. Indien hierdie wetsontwerp op die wetboeke afgedwing word, sal dit bykans onmoontlik wees. Sonder die vrye media en toegang tot inligting, sal enige bewerings dat Suid-Afrika ’n gesonde demokrasie is, van alle geloofwaardigheid gestroop wees,” het Ernst Roets van dié organisasie gesê.

Om swart uit protes te dra, is grusaam van pas. Vanjaar het 58 joernaliste reeds in die uitvoering van hul werksaamhede gesterf, en 171 is op die oomblik agter tralies. Voorts bevind 123 inter net-nuusverskaffers hulle ook agter tralies.

Opgestel vir MaroelaMedia en opgedra aan Charles Malan