Subscribe by Email

Swaeltjienes met die la-a-a-ng tuit

Dié swaeltjienes, bokant die voordeur van ‘n woonhuis in Langenhovenpark, Bloemfontein, trek weens sy baie lang ingang, baie aandag. Maar op die oomblik woon dar nie swaels in nie, maar windswaels.

Die swaeltjies wat die nes bou, is van die spesie, die grootstreepswael (Hirundo cucullata)

wat in die somer wydverspreid Suid-Afrika voorkom.

Dié spesie se mannetjies en wyfies lyk dieselfde, en anders as die kransswaels, neig hulle nie om tydens hul verblyf, in groot groepe saam te woon en neste dig bymekaar te bou nie.

Dié swaeltjies is ook nie bang vir mense nie, en sal byvoorbeeld maklik op ‘n vensterbank sit en vir die huismense sing. Of hulle kan naby die huis op iets sit, en die huismense aandagtig dophou.

Aan hierdie nes is omtrent ‘n hele somer gebou, en die ingang is daarna al langer gebou. Na elke reënbui is ‘n ander soort grond, met ‘n ander kleur gebruik, soos wat op die foto gesien kan word. Die huismense het die winter na die nes gebou is, en die inwoners verder noord gaan oorwinter het, die buitelig ontkoppel en elders aangelê sodat die eiertjies nie saans “gekook” word nie.

Die grootstreepswael kan van die familieswael en die huisswael onderskei word deurdat hul koppe aan die bokant rooi-oranje is.

Dié spesie word nie as bedreig beskou nie, hoofsaaklik weens die toename in geskikte plekke om neste te bou. Dié nes is ‘n tipiese voorbeeld van die sogenaamde onderstebo iglones. Hoewel die kransswael ook ‘n onderstebo iglo bou, kyk die opening na onder.

Elke jaar is daar ‘n poging deur witkruisswaels om die nes oor te neem, maar dit lyk of die wettige inwoners nou eers kans gegee word om klaar te broei, voor dier windswaels intrek en haastig broei. Windswaels, al lyk hulle baie soos swaels, en vang soos swaels insekte tydens hul vlug, is nie naby familie, nie. Hul “sang” is ook glad nie strelend soos dié van regte swaels nie, en hulle is baie wilder. Tog is hierdie nes so knap gebou dat dit jaar vir jaar deur die windswaels oorgeneem word.

Herman Toerien

One Response to Swaeltjienes met die la-a-a-ng tuit

  1. Lizette

    Februarie 27, 2014 at 7:21 pm

    Goeienaand
    hier by ons – reg by die voordeur is 2 grootstreepswaeltjies ook besig om ‘n nessie te bou! Ek weet nie of dit elke keer dieselfde paartjie is nie, maar elke jaar, hier aan die einde van die somer, is die tweetjies hier om te prober bou, en hulle is nooit suksesvol nie! Die ou nessie bly breek en hulle kry dit net nooit klaar nie! Maar hulle kruip so diep in ‘n mens se harte, want hulle is voorwaar baie mak en sing so lieflik. My vraag – en julle moet nou nie lag nie – gestel ek sit ‘n bak met modder vir hulle neer – sal hulle dit gebruik? Of is hulle kieskeurig oor die modder wat hulle gebruik? Ek weet dis seker simpel, maar ek voel so jammer vir die outjies wat elke keer moet rondvlieg en modder soek en lyk of hulle so sukkel om dit klaar te kry. En dan bly hulle so vrolik – ‘n mens kan by hulle ‘n ding of twee leer oor aanhou, vrolikheid en geduld! Ek sien uit om die antwoord te lees… 🙂