Subscribe by Email

Supersterre Overtone word tuis verwelkom

Overtone Emile Welman, Riaan Weyers, Valentino Ponsonby.

Die a cappella-groep, Overtone, van Invictus-faam, is vir die eerste keer tuis vir ‘n kort kuier nadat hulle deur Dina Eastwood gekontrakteer is in 2009, en binne ‘n oogwink na Los Angeles en internasionale roem verhuis het. Die groep was raakgesien deur Dina en akteur/regisseur Clint Eastwood gedurende die verfilming van Invictus en is daarna uitgenooi om die meeste van die film se klankbaan te doen. Die klankbaan was op iTunes SoundTrack se Top 25 vir vier weke.

Overtone is vinnig besig om een van die gewildste pop-/stemgroepe in die VSA te word. Met ongeëwenaarde stemvermoëns, het hulle die Amerikaanse weste getoer saam met multi-platinum Grammy wenner Corinne Bailey Rae en opgetree by die vooraanstaande SxSW musiekfees in Austin, Texas. Hulle het al verskyn op die Ellen de Generes Show, die George Lopez Show, The Late, Late Show met Craig Ferguson en was in die US Weekly en Billboard Magazine, om net ‘n paar te noem. Overtone het ook twee keer vir multi-platinum groep OneRepublic geopen en het private vertonings vir die legendariese Tony Bennet en Oscar wenner Charlize Theron gedoen.

Terug by die huis om “hallo te sê vir ons pêlle, en by ons ouers te kuier”, volgens groeplid Emile Welman, was Overtone Woensdagaand verwelkom by ‘n private plaaslike-sterbelaaide geleentheid by die Royal Elephant Hotel & Conference Centre.

In die warm, ontspanne Afro-Marokaanse ambience van die luukse hotel se swembadarea, het hulle die klein skare musiek- en media industrie-verteenwoordigers ademloos gelaat met ‘n vuurwarm vertoning van pop- en rocktreffers. “Geez, hierdie boytjies kan síng!” het Sean Else van Mozi Records kort daarna in ‘n gesprek gesê.

Gaste was na die vertoning, terwyl hulle met die manne skouers geskuur het, getrakteer met ‘n ligte ete in die hotel se indrukwekkende Oasis Bar en Zagora Grill Room. ‘n “Ligte ete” by die Royal Elephant is egter nie vleispasteitjies en frikkadelletjies-op-stokkies nie. Internasionaal bekroonde hoofchef, Andrew Hammond en sy span, het almal verras met ‘n smorgasbord van delikaat-gestilleerde voorgeregte, sushi, vars oesters, ‘n lams- en beeshaas voorsny-ete en nageregte wat, as dit nie so fantasties liplekker was nie, te mooi was om te eet.  Die gewoonlik-raserige groepie gaste was op ‘n stadium so stil dat die enigste geluide in die eetkamer die geklingel van wynglase was…

Overtone tree weer op, live en ekslusief, by die Royal Elephant op Vrydag, 18 Maart om 19:00. Kaartjies kos R295 per persoon en sluit ‘n verwelkomingsdrankie, wyn buffet en ‘n verskeidenheid kase en ligte versnapperinge in.  Kontak Surina om te bespreek by (012) 658 8018 of surina@royalelephant.co.za. Elke kaartjie is ook ‘n gewaarborgde inskrywing in ‘n trekking waarin een gelukkige gas ‘n luukse naweek vir twee (aandete, bed en ontbyt) in die Royal Elephant se presidensiële suite ter waarde van R30,000 kan wen. Sitplekke is beperk, so moenie tyd verspeel nie!