Subscribe by Email

Superrugby

Super Rugby

Super Rugby

Gaan die Cheetahs weer Vrydagaand Leeukos word?
Die Cheetahs is stert in die wind nadat die span sy tweede oorwinning in vanjaar se Superreeks behaal het, deur die Brumbies in ‘n drieëfees in Bloemfontein te klop. In die proses het die Cheetahs nou ‘n sewe punt voorsprong op die Leeus, wat nou die Suid-Afrikaanse en die reeks se houtlepel dra.
Die Cheetahs deel op die oomblik die derde laaste plek in die reeks met die Western Force.
Die Leeus sal alles in hul vermoë doen om die houtlepel aan te gee, maar sal dit nie dié naweek reeds kan regkry nie omdat die span tien punte agter die Cheetahs is, en nege punte agter die Rebels. Tog het die Lions in hul eerste ontmoeting teen die Cheetahs die botoon gevoer. Sedertdien het baie water in die see geloop.
Die Cheetahs begin geleidelik die beseringspook afskud, maar Frans Viljoen blyk vanjaar ‘n regte ongeluksvoël te wees. Die Cheetahs met Frans Viljoen wat die bresse slaan, en die Cheetahs sonder dié yster in sy geledere, is net nie dieselfde span nie. Nou is Frans se arm gebreek juis na hy so soveelste terugkeer na ‘n besering vanjaar gemaak het.
Saterdag pak die Stormers die Crusaders in Kaapstad. Die Stormers kook behoorlik na hulle ook die Haaie afgeslag het. Die Sharks, met vyf Bokke op die plaasvervangerbank, is eenvoudig oorskadu deur ‘n span wat blykbaar net nie swak plekke het nie. Dit is egter nou die Stormers se laaste wedstryd voor hulle na Australasië vertrek, ‘n ekskursie wat nog altyd Suid-Afrikaanse spanne behoorlik in perspektief gestel het. Met hul terugkeer wag ook twee taaies – ‘n wedstryd teen die Bulls op Nuweland en teen die Cheetahs in Bloemfontein.
Die Bulls het klaarblyklik nie daarvan gehou dat die Cheetahs in hul nekke begin blaas nie, en die Chiefs uiteindelik goed afgeransel. Dit het egter in ‘n stadium gelyk of die Bulls ook op hul tuisveld by die Nieu-Seelandse Aspoestertjie sou slae kry. Die Bulls, wat die komende naweek ‘n loslootjie het, is nou sewe punte voor die Cheetahs en die Cheetahs sal graag verder wil inhaal.
Die Cheetahs het nog twee swak plekke in hul mondering – die verdediging wat by tye erg haper, en om kritieke balle weg te skop. Met die vorige kragmeting het die Lions juis hierdie pasellabesit gebruik om neuse voor te kry.