Subscribe by Email

Superrugby: Steeds geen Leeuplesier

Jare lank het die WP elke Curriebekerseisoen weggespring soos ‘n span wat alle teenstand van die tafel af gaan veeg, net om te vind dat die wiele later loskom…

Vanjaar het die Stormers weggespring asof …

Die jongste puntestand dui daarop dat die Stormers en die Bulle saam die boonste posisie onder die Suid-Afrikaanse spanne op die Superreeks beklee. Die Stormers het een wedstryd meer gewen, maar die Bulle het ‘n groter nottopuntverskil, en het vier bonuspunte meer as die Stormers.

Na die Chiefs in die vorm van ‘n Polinisiese Barbarianspan die Cheethas op tuisbodem se sterte geknoop het, is die Chiefs nou die algehele voorloper. Die Cheetahs het egter soveel fut uit die Nieu-Seelandse span gehaal, dat die ander Suid-Afrikaanse teenstanders op die toer dit dalk makliker sal vind om ‘n punt of wat uit die wedstryde op tuisbodem te wurg.

Die Cheetahs het nou ‘n loslootjie, en kry in die proses vier pasellapunte wat nou baie handig is om nie te ver buite trefafstand van die voorlopers te raak nie.

Die Cheetahs kan terselfdertyd weer ‘n slag gaan besin oor die ou sonde – om skaars balbesit vir opponente met die kaliber van Sonny-Boy Williams agterlangs met ‘n mamparrasolery pasella te gee. Selfs ‘n skop van die Springbokflank Heinrich Brüssouw het agter sy eie pale geëindig.

Maar of die Cheetahs met beter taktiese spel genoeg mieliepap geëet het om die moeilike Chiefs te tem, is ook nie so seker nie.

Wat moet ‘n mens nog van die Leeus sê? In elke wedstryd speel die span rukke lank so sterk dat hulle bewys daar is nie ‘n span in die Super 15 wat van ‘n oorwinning oor die Johannesburgers verseker kan wees nie, maar behalwe ‘n naelskraapse deurskuur in die eerste kragmeting teen die Cheetahs, bly ‘n positiewe uitslag buite bereik.

Die Stormers sal seker lank kopkrap hoe hulle met twee drieë teen die een van die Crusaders slegs met ‘n strafskop in die laaste minuut ‘n bonuspunt – hul eerste van die reeks – uit die wedstryd kon sleep. Agt strafskoppe wat die Crusaders deur die mikke gejaag het gaan goed onder die vergrootglas geplaas word voor die Reds volgende naweek aangedurf word.

Oor die Bulle: ‘n span effektief sonder swak plekke en soveel spelbrekers verdien hul plek op die puntelys. As sleutelspelers nie onnodig afdae beleef nie, is daar geen rede hoekom die Bulle nie vir ‘n eindstryd kan begin beplan nie.

Herman Toerien