Subscribe by Email

Superrugby: Oog nou op bekerhoop én houtlepel

Super Rugby

Super Rugby

Omtrent al wat seker is wat die komende naweek se Super-wedstryde vir die Suid-Afrikaanse spanne inhou, is dat die Lions danksy ‘n loslootjie vier pasella-punte gaan kry.
Die Bulls sal wil toon dat hul wiele nie afgeval het nie, en ‘n tuiswedstryd teen die Chiefs wat ‘n punt agter hulle op die oorhoofse punteleer is, is dalk nét die geleentheid. Die Bulls is met die rug teen die muur en moet al sy oorblywende wedstryde wen om in die resies te bly.
Dit is egter nie net die beker wat vir die bekerhouers op die spel is nie. Ongelooflik soos dit mag klink, maar daar sal dalk al ‘n hele paar manne met groot belange in rugby wees wat bekommerd dophou hoe die Cheetahs en selfs die Lions nader aan die Bulls skuif.
Tensy ‘n ander plan gemaak gaan word, gaan regeringsdruk veroorsaak dat ‘n Suid-Afrikaanse span sy plek in die Superreeks kwyt gaan wees om vir die Southern Kings plek te maak. Bevolkingsgetalle en groot geld maak dit ondenkbaar dat dit die Bulls kan wees (of om min of meer dieselfde rede die Sharks, Lions en Stormers). Maar wat as die Cheetahs sy posisie so konsolideer dat hy nie in die gevaarsone is nie?
Die Cheetahs speel die naweek op sy tuisveld teen die Brumbies wat self nie behoorlik aan die gang kom nie. Die Cheetahs is net sewe punte agter die Bulls, en een van sy oorblywende wedstryde is juis teen die Bulls. Of die Cheetahs daarin gaan slaag om die Bulls in te haal en verby te steek, is dus deels in hul eie hande.
Maar dan sal die Cheetahs moet leer om nie so op ‘n streep neerlae uit die kake van ‘n oorwinning te pluk nie.
Dit lyk of die Cheetahs binnekort weer ‘n paar van sy beseerde spelers sal kan inspan, en Frans Viljoen kan maklik die verskil tussen wen en verloor wees. Hierdie speler se vermoë om net daardie ekstra vonk vir bresse te slaan word dikwels onderskat.
Dit lyk of die Bulls se opponente ‘n studie van dié span se spel gemaak het, en strategieë inspan om dit te neutraliseer. Dit is immers moeilik om te aanvaar dat die Bulls versuim om vir wedstryde op te daag.
Die Stormers en die Sharks se wedstryd kan weer werklike superrugby oplewer. Om vanjaar voorspellings te maak het egter geblyk ‘n taai toffie te wees.
Intussen het Peter de Villiers se soms vreemde keuses vir die Springbokgroep minstens een stem laat opgaan vir die herlewing van keurders, en selfs proewe, naamlik Joe Venter. Venter sal na verwagting heelwat steun kry, maar soos hy dit ook stel, De Villiers self sal waarskynlik nie so ingenome met die gedagte wees nie.