Subscribe by Email

Superrugby: Nou word die pap dik aangemaak

Superrugby: Nou word die pap dik aangemaak

As die Cheetahs werklik reeds uit die Super-reeks geknikker is, het niemand dit nog vir hulle gesê nie. Toegegee, die kanse is skraal, en die rugbybal is nie net in hul eie hande nie.

Die Bulls het met hul bonuspuntlose sege teen die Sharks hul posisie effens verbeter, en het ook ‘n wedstryd minder agter die blad as die Cheetahs.

Op die oog af lyk dit egter as ‘n Suid-Afrikaanse span as Superspan gekroon wil word, moet hulle by die Stormers verbykom. Die Stormers het pas in ‘n wegwedstryd gewys wat dié span kan vermag deur die Blues te klop.

Min kan ook uit die Cheetahs se wedstryd teen die Rebels afgelei word, behalwe dat sommige spelers nou baljaar.

Die Bulls en die Sharks het twee drieë elk gedruk, en dit lyk of daar min tussen die twee spanne gekies kan word.

Die Cheetahs speel nou weg teen die Bulls, dan tuis teen die Sharks, en neem dan ‘n broodnodige blaaskans voor die Stormers ook in die Rosestad aangedurf word. In enige taal is dit ‘n stywe bult. Met soveel op die spel sal die Suid-Afrikaanse rugbypubliek duime vashou dat van die spelers wat later vanjaar nasionale glorie moet verseker, nie nou seerkry nie.

Intussen sal aanspraakmakers op die groen en goud ook nou moet katvoet loop tussen beserings of selfsugtige spel. Dit lyk darem of van die gesoute spelers besef het dit kan hulle duur bekom as hulle hul lywe prima donna wil hou – in bykans elke posisie is daar sulke strawwe mededinging dat ‘n speler wat reken sy reputasie vir hom die wa deur die drif gaan sleep, hom suur kan bekom.

Herman Toerien