Subscribe by Email

SuperRugby: Maak of breek dié naweek

Teen die tyd wat die Cheetahs en die Bulls die naweek teen mekaar op die veld draf is die Cheetahs se lot al heel waarskynlik reeds finaal beslis. Vir die Cheetahs sal dit eintlik net ‘n formaliteit vir die onafwendbare wees, want hoewel die span nou nog teoreties in die wedloop is, is dit die soort teorie wat ‘n teorie is omdat dit nie in die praktyk werk nie. Die Bulls se posisie is effens beter, en wat die ander Suid-Afrikaanse spanne aanvang, kan die Bulls se kanse nog stewiger maak.

Maar baie daarvan kan ongedaan gemaak wees as die Cheetahs die Bulls aan die neusring grond toe pluk.

Die Suid-Afrikaanse lopie word Saterdagoggend vroeg ingelui wanneer die Lions en die Highlanders mekaar Doer Onder pak. Net daarna kry die Stormers, ook weg, die geleentheid om sy ware teen die ongelukkige Brumbies uit te stal. Soos die Brumbies vanjaar speel, behoort die Sormers hul posisie onder die voorlopers te konsolideer.

Later pak die Sharks en die Waratahs mekaar in die Suid-Afrikaanse derby.

Die Lions sal ‘n yslike verrassing lewer as hulle die Highlanders troef – en hierdie Lion-span kan op ‘n gegewe dag enige ander span aapstert gee, maar die ander Suid-Afrikaanse spanne ‘n nog groter guns bewys. Die Highlanders en die Sharks het beide 43 punte, en is daar Leeuplesier, kan die Sharks se posisie aansienlik verbeter as hulle die Waratahs op ‘n piesangskil laat glip. Die Waratahs gaan hulle nie sommer maklik weer deur ‘n Suid-Afrikaanse span laat vang nie, en die Sharks sal weer baie lus vir rugby moet word om hier sake te kan vasknoop.

Op Loftus, so lui die storie, het ‘n Blou Bul-ondersteuner by geleentheid ‘n paar wedstryde na mekaar so geknyp oor sy span se spel, dat hy sy bul-pet met die horings vreeslik vas op sy kop gedruk het. ‘n Seuntjie wat hom nooit anders gesien het nie, wou naderhand by hom weet hoe hy daai hoedjie oor sy horings aangetrek en uitgetrek kry. Saterdag kan dit weer pet-vasdruktyd wees.

Soos die twee spanne nou op die punteleer staan, kan dit baie maklik wees dat die Cheetahs avontuurlike rugby gaan opdis om bekerkanse lewend te hou. Selfs al sou die vroeëre wedstryde die Cheetahkanse effektief nek omdraai, kan dit steeds die Cheetahs motiveer om te slaan met alles wat hulle het. Die Bulls, daarenteen, kan oordeel dat veilig speel dalk ‘n beter opsie is.

Word die Bulls- en Cheetahspanne met mekaar vergelyk teenoor die spanne in hul vorige kragmeting teen mekaar – waar die Bulls redelik maklik gewen het, is die groot verskil dat die Cheetahs ‘n ander skakelpaar het. Sarel Pretorius en Sias Ebersohn is net eenvoudig ‘n ander proposisie, en verander die dinamika van die spel heeltemal. Beide skakels is nou skitterend op stryk, wat beteken dat die dophou van die losskakel, vir Super Sarel ruimte gee – en hy het bitter min daarvan nodig. Hou Pretorius met ‘n glasoog dop, en Ebersohn gaan aan die baljaar. Die wegsolery van besit deur mamparraskoppe gebeur nou bitter min.

Min spanne sou die beserings aan ‘n hele stel losvoorspelers soos die Cheetahs, so goed kon verwerk. Vir die Cheetahs was die beserings aan Juan Smith, Heinrich Brussouw en Frans Viljoen harde slae. Geleidelik het die ander voorspelers egter die leemtes wat gelaat is begin vul, en kook die Cheetahs nou ook in hul afwesigheid.

Die Bulls is egter nie enige ander span nie. Diepte en onvoorspelbaarheid maak dat iemand wat vooraf klinies ‘n uitslag wil bereken, sy werk deur die loop van die wedstryd oor en oor sal moet doen. Dan kan ‘n skeidsregter wat ‘n afdag beleef, of die spring van die ovaalbal, ook nog sake deurmekaar krap. Dit sal egter steeds ‘n verrassing wees a die Cheetahs vir die Bull blikore aansit.

Herman Toerien