Subscribe by Email

Super Rugby: Steeds plek vir spelers wat met die hart speel

Superrugby

Superrugby

Soos die Lions die afgelope week teen die Cheetahs gespeel het, gaan hulle meer as net een swaeltjie nodig hê om die Somer vroegtydig Doer Onder toe te bring.
Butch James is ‘n gesoute, maar riskante speler, maar met die ander losskakels, veral Elton Jantjes wat vanjaar nie soos verlede jaar geskitter het nie, is die tjekboek opnuut ingespan. Die Lions het nou ‘n baie moeilike toer op hande om weer sy vorm by sy belowende begin van die seisoen te bring.
In Suid-Afrikaanse rugby wys die geskiedenis nog steeds dat professionalisme nog nie volkome daarin kon slaag om die tjekboek belangriker as speel met die hart te kon gemaak het nie. As ‘n afrigter moet kies tussen twee min of meer ewe goeie spelers, moet hy hom nie laat lei deur wie neus voor het by die kasregister nie, maar die een wat bereid is om met sy hart te speel.
Die Cheetahs het met die loesing wat hulle die Lions toegedien het, nog ‘n punt nader aan die Bulls gevorder, maar nou lê ‘n taai toffie voor – die Crusaders wat pas met die Stormers afgereken het. Die Bulls speel teen die Australiese nuweling, die Melbourne Rebels. Beide wedstryde is op die Suid-Afrikaanse spanne se tuisvelde, maar die Bulls sal na verwagting nie veel moeite ondervind om die Rebels onder die knie te kry nie, terwyl die Cheetahs gaan klippe kou. Die Rebels het egter al sterker spanne wat gemeen het hulle kom bloot punte haal, liederlik op hul bloedneuse laat kyk.
Die Cheetahs kan net twee dinge wys word uit hul wedstryd teen die Lions: Hulle kan skitterende totale rugby speel as elkeen sy plig doen, en die Cheetahs kan maklik weer aapstert kry as hulle onnodig gaan staan en ontydig verklaar.
Na die Stormers se neerlaag en die Sharks se oorwinning, moet die Stormers weer skielik die oog op sy Suid-Afrikaanse teenstand hou.
Soos gebruiklik soek die Kaapse sportskrywers die rede vir hul span se neerlaag by hul span, eerder as die feit dat daar ook ‘n ander span op die veld is wat gespeel het om te wen. Tog – waarvoor een van die beste hakers in die land, Deon Fourie, afhaal as dit nie nodig nie? En Snorreman se hele militêre agterent om sy Ricky January-beheptheid neerslag te laat vind deur ‘n skrumskakel soos Dewaldt Duvenhage te moet afhaal. Dis professionele rugby dié, nie die Randse Skou of die Lotto nie. Riskante plaasvervangings kan gedoen word as jou span gemaklik voor is, of so ver agter is dat inhaalrugby nie meer moontlik is nie. Die enigste uitsondering is as die afrigter ‘n swak plek in die opponente se geledere raaksien, en weet een van sy manne op die bank kan spesifiek dit uitbuit.