Subscribe by Email

Super-rugby – Crusaders vermorsel laaste SA-hoop

Na ‘n paar jaar se lekker saamgesels om die Super-trofee is Suid-Afrika weer dikbek en met leë hande.

Oupa Nic vd Merwe sê altoos ‘n span wat eerste punte in ‘n wedstryd aanteken, en dit met ‘n strafskop doen, verloor die wedstryd. Dit was ook die Stomers se lot teen die Crusaders op Nuweland.

Uiteindelik was die Crusaders met 29 – 13 baas, maar die telling vertel nie heeltemal die verhaal van hoe die Crusaders die Stormers oorheers het nie – van vernietigende skrums, aanvallende spel met die bel in hand tot taktiese skopwerk.

Vooraf, uit die Stormers se wedstrydpraatjies sou die Kaapse span die luukse van keuse hê om hardlooprugby of skoppende rugby te speel, afhangende van wat die weer maak. Die nat veld en nat bal het die versoeking vir skoppende rugby ingelui, maar die mamparra-skoppery het meermale geboemerang. Harlooprugby is egter ook gesmoor, met die Stormers wat onverklaarbaar skuins gehardloop het. Dit het tot ‘n onderskepdrie teen die Stormers gelei, terwyl Jaque Fourie te min gedoen het om binne die speelveld te bly toe hy die rieme skuins neergelê, en by die hoekvlag uitgeduik is.

Trouens, die Stormers se beste aanvallende agterspeler was Schalk Brits – ‘n haker wat as plaasvervangerlosvoorspeler ingesluit en Schalk Burger net voor rustyd vervang het. Met die besring van Dewaldt Duvenhage moes skrumskakel in die diepte van Wes-Kaapse rugby geen probleem gewees het nie, maar dit beteken darem nie onervare spelers kan skielik as generaals ingespan word nie, veral om met die voet aan te val nie.

Die vreemde is dat die een Suid-Afrikaanse span wat die Crusaders getroef het, die Cheetahs was. ‘n Mens sou verwag dat ander Suid-Afrikaanse spanne ‘n paar lesse uit daardie wedstryd sou neem, maar helaas, daarvoor was vanjaar se voorste spanne skynbaar te neusoptrekkerig.

Opsommend het verskeie van Peter de Villiers se Springbokgunstelinge paloeka-vertonings gelewer – nie net Saterdag op Nuweland nie, maar ook in van die ander Super-wedstryde waarin Suid-Afrikaanse spanne onlangs betrokke was.

Proewe as noodmaatreël om die sif vir vormspelers te span lyk skielik na ‘n noodsaaklikheid – maar soos die voorste spelers seerkry….

Wat die Crusaders betref – hul tuisstad Christchurch is vroeg vanjaar deur ‘n dodelike en verwoestende aardbewing getref. Die gevolg was dat hulle punte moes deel in ‘n wedstryd wat hulle waarskynlik sou wen en uiteindelik die uitspeelwedstryd teen die Sharks veroorsaak het, terwyl die Stormers ‘n blaaskans gekry het. Hulle kon nie een tuiswedstryd speel nie, en het meer as ‘n 100 000 kilometer agter wedstryde aan gereis.

Hul deelname aan die eindstryd vanjaar is hul bydrae om die gees van ‘n stad wat deur dood en verwoesting getref is, op geestelike gebied uit die as te laat opstaan. Min kan teen sulke motivering staande bly.

Na die Stormers so in die skrums verniel is gaan die Stormerbase beslis die tjekboek inspan – maar dit gaan moeilik wees om vas te stel waar die Stormers gevou het – die stutte of die slotte se drukkrag? Ironies het die Stormers eerder die haker Tiaan Liebenberg weens vermeende beter skrumvermoëns as die spelbreker Deon Fourie ingespan – en toe steeds power skrumwerk gekry, en die spelbreker gemis tot dit te laat was.

Herman Toerien