Subscribe by Email

Super 15: Presies hoe lyk spanne se kanse?

‘n Boere-snotklap en ‘n beweerde oogkrappery is van die nuusgebeure van die sportnaweek, maar wat saak maak is wat op die telbord staan.

Die ligabord praat hard en duidelik: Die Stormers het 6 wedstryde gespeel, en het ses gewen. Dat vier ligapunte reeds die loslootjie-pasellapunte insluit, is kwalik ter sprake. ‘n Span wat al sy wedstryde wen – al het hy nie ‘n enkele bonuspunt nie, verdien om bo-aan die liga te wees, en 28 punte is 28 punte.

Die ander Suid-Afrikaanse spanne se posisies lyk op die oomblik nie te waffers nie. Die Bulle is die ander Suid-Afrikaanse span wat op die oog af taamlik goed geplaas is, maar het reeds twee keer die onderspit gedelf, en sy taamlik gunstige posisie in die vierde plek en op 24 punte sluit vier bonuspunte en die loslootjie-punte in.

Die Haaie in die 9de plek sal nie te gelukkig wees nie. Die piesangboere het net een punt meer as die Cheetahs op 16, en beide spanne moet nog hul pasellapunte kry. Die Cheetahs het van alle spanne waarskynlik nou die meeste tuisvoordele, maar daardie wedstryde moet steeds gespeel word. Boonop het die Haaie nou ‘n negatiewe balans van -16 punte, teenoor die Cheetahs se slegs -5. Dat die Cheetahs se puntebalans steeds in die rooi is, is hoofsaaklik aan die liederlike loesing teen die Bulle te danke.

Die Cheetahs gaan dalk hul volgende wedstryd sonder die puntemasjien Johan Goosen speel, maar die loslootjie daarna gaan die Blikore tyd gee om na ‘n suksesvolle toer na Doer Onder asem te skep en beserings af te skud.

Boonop is Goosen se waarskynlike plaasvervanger, Sias Ebersohn, een van die gevaarlikste spelers uit gebroke spel. Sy ondersteuners sal duime vashou dat hy, indien hy Saterdag in die beginspan is, hy teen die Chiefs sal waak om nie besit vir die Chiefs se snellers te skop nie. Dit is HKGC – hier kom groot Chiefs. As die ringkoppe twyfel, kan dit wees dat Sias Saterdag weer van die bank af speelkans kry, met Riaan Smit of Willie le Roux wat dalk in aanmerking kan kom om Goosen se tokse vol te staan. Le Roux is deur Griekwas as heelagter en losskakel vanuit die Boland gekontrakteer, maar het so skitterend op vleuel uitgehelp dat hy daar onaantasbaar lyk. Sy skeppende spel nader aan die skrum kan die Chiefs laat bontstaan. Die Chiefs is slegs twee ligapunte agter die Stormers, is gaan nie sommer voor ‘n Goosenlose Cheetahspan die wit handdoek inwerp nie.

Die Leeus tender nou as sittende Curriebekerkampioene om volgende jaar uit die Super 15 gepos te word, om vir die Kings hul beloofde kans te gee. Die Leeus het reeds hul pasellapunte, en ‘n taai toernooi lê nog voor. Tog lyk dit of die Leeus genoeg skietgoed het om enige span te kan troef, en om nou al relegasieplanne vir die Johanneburgers te maak, is voortydig.

Herman Toerien