Subscribe by Email

Super 15 – drie SA-spanne klop hard

Vir die tweede agtereenvolgende week gons dit op die internet oor die skynbare stief behandeling wat die Cheetahs in hul laaste twee kragmetings teen die skeidsregters op die lyf geloop het. Dit is nie net ondersteuners van spanne Doer Onder wat wonder of Suid-Afrikaanse skeidsregters nie die Bulls en Sharks met die fluitjie na die uitspeelfases probeer promoveer nie. Ook plaaslike rugby-ondersteuners – waaronder skynbaar min Cheetahondersteuners, blaas stoom af.

Die feit van die saak is egter ook dat die Cheetahs teen die Sharks op strategiese tydstippe besit so weggeskop het dat die sportskrywers rustyd al daaroor gegons het. Die mamparra-skoppery is die tweede helfte voortgesit, tot die koeël deur die kerk was.

En toe die Cheetahs probeer doen wat hulle goed kan doen, het bottervingers hulle te gereeld in die steek gelaat, en het die Haaie te veel balle by afbreekpunte gegaps – klaarblyklik nie altyd wettig nie. En toe die skeidsregter uiteindelik wel begin optree, en twee Haaie selfs geelkaarte op die lyf loop, was die koeël deur die kerk. Soos gebruiklik was Super Sarel ‘n yster, en hy het ook sy negende drie van die reeks aangeteken. En om te dink hy is aanvanklik snoep deur die afrigters behandel.

Terwyl die afrigters skynbaar vir die sportskrywers wat oor die boemerang-skoppe kla, tong wil uitsteek deur daarmee te volhard, is daar ‘n ligstraaltjie. Tewis de Bruyn – ‘n groot sondaar in hierdie afdeling – het Pretorius laat in die wedstryd vervang, en gespeel soos hy kan. So amper het die Cheetahs die Haaie gesink.

Ongeag hoe die oorwinning gekom het – die Sharks is met dié oorwinning weer ‘n kortkop voor die Bulls in die reeks.

Die Bulls het in ‘n wurgwedstryd die Warathas afgeweer, terwyl die Stormers soos verwag is, min moeite ondervind het om die Rebels die loef af te steek.

Dié keer kon die Lions nie weer ‘n lansie vir die Suid-Afrikaanse spanne breek nie, en het by die Hurricanes ‘n drag slae op die lyf geloop na dit in ‘n stadium gelyk het of die Lions nog self leeutemmers gaan wees.

Die spanne wat die Suid-Afrikaanse spanne seker die grootste guns die naweek bewys het, was die Brumbies wat die Reds afgeransel het, en die Force wat die Highlanders afgestof het. Daarby het die Blues teen die Chiefs tweede gekom. Die Reds bly egter nog die voorlopers in die reeks, met die Stormers ‘n skrale punt agter.

Herman Toerien